Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Wednesday, July 15, 2009

Spreek in tale - deel 4

Uitleg van Tale

Wanneer Paulus in tale gepraat het (en hy het meer as die ander in tale gespreek (1 Kor 14:18)), het hy homself nie toegelaat om hierdie gawe in die kerk, onder ‘n groep gelowiges, te beoefen nie. Hierdie gawe was ‘n teken vir die ongelowige Jode (14:21,22), en hy kies om in die gemeente liewer vyf woorde met my verstand te spreek as tien duisend woorde in 'n taal (v19).

Hy is 2000 keer meer ten gunste daarvoor om met sy verstand te spreek as om in ‘n ander te spreek. Of anders gestel, hy is 2000 keer teen die spreek in tale in die gemeente onder gelowiges. Orals waar hy gereis het, was hy altyd in konflik met die Jode, selfs gelowige Jode, wat met hom verskil het oor die universiële karakter van die evangelie.

Paulus het terugkom van sy eerste sendingreis na Antiogië, waar hy “…verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het” (Hand 14:27). Op sulke geleenthede, het hy die gawe om God in heidense tale te aanbid, beoefen. Daardeur bevestig hy, aan die ongelowige Jode, sy apostelskap vir hulle en dat God ook met die heidene deel (Gal 2:7,9).

Die verkeerde gebruik

Daar was ook ander wat hierdie charisma gehad het, maar het dit verkeerd gebruik. Hulle het vergeet vir wie hierdie gawe bedoel was, die ongelowige volk. Hulle het daardeur persoonlike vervulling gekry deur ander te laar luister na hulle in die gemeente samekomste, en in die afwesigheid van Jode, waar daar geen behoefte was vir hierdie gawe nie.

Op daardie stadium was dit nog ‘n egte gawe van die Gees, en Paulus wou nie die gebruik van die gawe verbied nie. Vir sommige het hierdie gawe geword soos Simson se krag wat hy gehad het, wat ook ‘n gawe van God was. Simson het egter hierdie gawe misbruik.

Daar was persone in die gemeente van Korinthe wat hierdie gawe misbruik het sonder om te dink. Daarom herinner Paulus hulle om ook hulle verstand te gebruik. Die Korinthiërs het nie ‘n te kort aan gawes besit nie, maar hulle het dit verkeerd gebruik.

Paulus vermaan hulle, omdat hulle nog kleinkinders in Christus is, dat hy hulle nog met melk moet voed (1 Kor 3:1,2).

1 Kor 14:16 Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?

17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.

Wat Paulus sê is dit, “julle bid so mooi in Egipties, of Persies of Latyns, maar daar is nie een Jood hier van Alexandria of Persië of Rome nie. Dit sal wonderlik wees om te weet dat julle Latyns van die hoogste standaard is, en dat dit julle gelukkig maak en julle stig. Maar wat op dees aarde is die nut daarvan as niemand dit verstaan nie? Hoe moet ons daarop “Amen” sê as ons nie weet wat julle sê nie.

Die beoefening van die uitlegging in die gemeente

1. Dit was gekoppel aan die spreek in tale, en moet die DOEL van die spreek in tale bevestig. Dat dit ‘n teken is vir “hierdie volk” en hul ongeloof.

2. Daar moet ‘n uitlegging (vertaling) wees elke keer wanneer daar in ‘n taal gespreek is. Hoekom? Sodat dit wat gespreek is, deur die hoorders verstaan kon word, hulle daardeur gestig kon word en ook daarop kon “Amen” sê. Hiervoor het die Gees van God die gawe van uitlegging gegee.

3. Tale mag nooit beoefen word, sonder ‘n uitlegging nie. “Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek” (1 Kor 14:28). Dit was imperatief om eers seker te maak dat daar ‘n uitlêer is voordat daar begin word om in tale te spreek. Volgens hierdie duidelike riglyne wat Paulus gee, kan ons aflei dat die Korinthiërs ver van die goddelike model was.

4. Om saam in tale te bid of te sing is onbybels. Uitlegging sou onmoontlik gewees het. Die Heilige Gees sou nie die teenoorgestelde gesê het as dit wat Hy beveel het nie. “En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê” (1 Kor 14:27).

‘n Korrekte Vertaling

Die Griekse woord “hermeneia” beteken letterlik, “vertaling”. Paulus gebruik hierdie woord ook op ander plekke in die Nuwe Testament:

- Mark 5:41 Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal (hermeneia) word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

- Joh 1:38 En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: (1:39) Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi--dit wil sê, as dit vertaal (hermeneia) word, Meester--waar is U tuis?

- Joh 1:41 Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind--dit is, as dit vertaal (hermeneia) word, die Christus.

- Joh 9:7 en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal (hermeneia) word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.

- Hand 9:36 En in Joppe was daar 'n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal (hermeneia) word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.

- 1 Kor 12:10 aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg (hermeneia) van tale.

- 1 Kor 14:26 Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging (hermeneia) --laat alles tot stigting geskied.

Die probleem – jou verstand?

Is jou verstand die probleem? Daar word gesê, “Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar (1 Kor 14:14). Maar die volgende vers word uitgelaat. “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing(1 Kor 14:15). Dit is juis ons verstand wat die mens skei van diere.

Die groot gebod sê, “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand(Matt 22:37). Met ander woorde, met al jou kennis, jou denke, jou wil en jou intelek.

Die teenoorgestelde sê, "Do not resist, abandon yourself, do not reason any longer, let the Spirit take over, let yourself go, yield yourself up, make your mind a blank". Dan kan ons verseker weet, soos Matt 12:44 sê, dat die vyand ‘n leë huis sal vind wat geen weerstand kan bied nie.

Matt 15:14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as 'n blinde 'n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.

No comments: