Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, July 27, 2009

Die ware wynstok en die lote - deel 1

Teksgedeelte: Joh 15:1-3

Joh 15:1 Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.

2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.

3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.

Tema: Die ware wynstok

Inleiding

Joh 15 is een van die hoofstukke in die Bybel waarvan die inhoud soveel rykdom en betekenis het, maar op dieselfde tyd is dit een van die moeilikste metafore of beelde in die Bybel.

Hierdie is dan ook een van die gedeeltes waar ons die “EK IS” uitsprake kry. Jesus sê op ander plekke, “Ek is die lig van die wêreld”, “Ek is die brood van die lewe”, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, “Ek is die deur”. En hier kry ons dan die uitspraak, “Ek is die ware wynstok…”. “Ek is” verwys na die naam van God en ook na die godheid van Jesus.

In Joh 15 kry ons dan basiese beginsels van Christenskap, soos byvoorbeeld: om in Christus te bly, om vrug te dra as ‘n gelowige, ens. En die beeld wat ons hier kry is die beeld van ‘n wynstok. Jesus praat van ‘n wynstok met lote en dan die een wat daarvoor sorg, die landbouer.

Die sleutel dan om hierdie gedeelte reg te vertolk, is die bespreking oor die lote. Wie is hierdie lote waarna Jesus verwys? Ons sien dat daar is twee groepe lote in die gedeelte. Eerstens is daar die lote wat vrug dra. Die einde van v2 sê, “…en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”

Joh 15:8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.

Daar is ook dan die ander groep lote wat nie vrug dra nie en dit is hulle waarna die begin van v2 verwys, “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg…”

Joh 15:6 As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

Die eerste afleiding wat ons kan maak is, dat die lote wat vrug dra, verwys onteenseglik na gelowiges. Die vraag is: wie is die lote wat nie vrug dra nie? Is dit gelowiges of verwys dit na ongelowiges? Die gedeelte sê dat hulle wat nie vrug dra nie, word weggeneem. Hulle word bymekaar gemaak in die vuur gegooi om verbrand te word.

As die lote wat nie vrug dra nie na gelowiges verwys, het ons ‘n probleem, want dan beteken dit dat ‘n Christen weer verlore kan gaan en hel toe gaan. Beteken dit dat jy jou saligheid kan verloor, as jy nie vrug dra nie? Dit is belangrik dat ons presies sal weet wat die Woord van God sê, wie hierdie lote is.

Ek dink die Gees van God het bedoel dat ons hierdie gedeelte saam met die res van die Woord van God sal lees en nie net op sy eie, geïsoleerd nie. Dit is wanneer ons foute maak en die Bybel homself begin weerspreek.

Kom ons kyk: Dit is die aand voor Jesus se kruisiging, en Hy is besig om met Sy dissipels te praat. Hoekom gebruik Hy hierdie beeld? Wat was die rede? Wat was Sy motivering om hierdie beeld te gebruik? Wat het op daardie stadium in Sy gedagtes aangegaan?

Ek dink die gedagtes van Jesus op daardie oomblik, het gegaan oor die groepe mense saam met wie Hy was. Daar was elf manne, elf dissipels wat saam met Hom daar gesit het. In die hele hoofstuk 14 het Hy hulle bemoedig. Hy was ook bewus van Sy Vader, want Hy het geweet dat Hy van Sy Vader geskei gaan word wanneer Hy sterf die volgende dag.

Daar was ook iemand anders wie Hy in gedagte gehad het en dit was Judas. Hy het geweet dat Judas besig was om planne te maak om Hom te veraai. En Jesus was in Sy gedagtes besig om al hierdie karakters in te bring in hierdie finale drama, in hierdie beeld wat Hy gebruik.

Hy het in gedagte die elf waarvoor Hy so innig lief was en wie Hom ook terug liefgehad het. Hy het die Vader gesien wat Hom lief het, en Hy ook Hom. En dan het Hy Judas gesien vir wie Hy ook baie lief was, maar Judas het Hom nie liefgehad nie. Hierdie is die karakters wat deel uitmaak van die finale drama.

So kom ons kyk: Die wynstok verwys dan na Christus, die landbouer verwys na die Vader, die lote wat vrug dra verwys na die elf dissipels en die lote wat nie vrug dra nie was Judas, en kom ons noem hulle Judas lote, wat nooit werklik eg was van die begin af nie.

Joh 13:10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.

11 Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.

Met ander woorde, as jy eenkeer gered is, as jy eenkeer gereinig is, dan het jy niks anders nodig as om die voete te was nie. Wat beteken dit? As jy Jesus Christus as jou persoonlike Saligmaker aangeneem het, hoef jy nie elke keer weer van vooraf Hom aan te neem, en elke keer weer van voor af tot bekering te kom nie.

Jy moenie elke keer weer gedoop word in die bad van wedergeboorte nie. Anders sou dit ook beteken dat jy elke keer na jy tot bekering kom jou weer moet laat doop. Nee! Jy moet net elke dag ‘n bietjie jou voete was. En dit spreek van die voortdurende vergifnis van God.

Jesus sê aan die einde van v10, “…julle is rein…”. Let op! Julle is rein!! En hier verwys Hy na Sy dissipels. “maar nie almal nie…”, v11, Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.

Na wie verwys Jesus? Hy verwys na Judas. Julle is rein, maar nie almal nie, want Hy het geweet wie Hom sou verraai, maw Judas was nie rein nie. Judas was nie gered nie.

Jesus is sekerlik bewus van hierdie onderskeid onder Sy eie dissipels, dat hulle rein is, maar nie almal nie, want daar is een wat onrein was. Jesus het dan in Sy gedagtes die onderskeid getref tussen die elf dissipels saam met Hom en Judas. En dit is ook die onderskeid wat Hy maak in hoofstuk 15.

Dit is dan ook die twee kategorië, die twee groepe wat Jesus beskryf in die beeld. Die wat vrug dra, die wat waarlik gered is, en die wat nie vrug dra nie, sogenaamde christene. Beide groepe het kontak gehad met Jesus.

Die elf was saam met Hom en Judas ook. Hulle was saam met Hom vir omtrend dieselfde tyd. Op die oog af het alles oraait gelyk. Judas was hoog aangeslaan deur die verantwoordelikheid te kry om die geldsake te hanteer. Maar Judas, al het dit so gelyk dat hy in die wynstok is, was hy ‘n loot wat nooit vrug gedra het nie. God het hom op die ou einde verwyder en in die vuur gegooi.

Het Judas dan sy saligheid verloor het? Nee! Anders weerspreek die Bybel homself wanneer dit sê in,

Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Die Woord van God is baie duidelik hieroor.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

Hoekom sou die landbouer dan ‘n loot wegneem en in die vuur gooi, as Jesus die teenoorgestelde gesê het? Hierdie loot wat nie vrug dra nie en in die vuur gegooi word kan nie na ‘n ware gelowige verwys nie. Jesus verwys eerder hier na ‘n Judas loot wat in die wynstok was, wat een of ander verbindtenis met Jesus gehad het, maar was nooit genuine nie. Hy was nooit waarlik gered nie.

Daar was geen vrugsap wat van die wynstok af gekom het, wat in die loot ingevloei het nie. Daarom het hy nie vrug gedra nie. Sy onvermoë om vrug te dra was juis die bewys dat daar geen lewe in hom was nie.

Hy het ‘n oppervlakkige verhouding met Jesus gehad, maar het dit verlaat. Hy het willens en wetens weggestap van daardie verhouding. Sy eie keuse lei na God se daad. God neem hom weg. Dit is die gedagtes wat Jesus dan kommunikeer.

Jesus en die elf dissipels is in die oppersaal en Hy praat met hulle oor die lote wat nie vrug dra nie, wat weggeneem word en verbrand word. Hy verwys na mense soos Judas. Mense wat selfs vandag op een of ander wyse in ‘n verhouding met Jesus Christus lewe. Mense wat soos Judas nie waarlik rein was nie en op die ou einde sal beland in die ewige verderf.

Dit is mense wat dalk gereeld kerk toe kom, mense wat deur al die “motions” gegaan het. Dalk in hul eie gedagtes het hulle een of ander verbindtenis met Jesus Christus, maar dit is nie eg nie.

Die lote wat dan wel vrug dra is die elf dissipels en die vrug wat hulle dra is ‘n teken daarvan dat hulle in Christus bly. Die lewenssap van die wynstok vloei deur hulle are en daarom dra hulle vrug.

Hierdie onderskeid kry ons herhaaldelik in die evangelie van Johannes. Oor en oor maak die evangelie van Johannes die onderskeid tussen die ware en die valse dissipels. Gaan ondersoek dit gerus op u eie dan sal u dit sien.

In Joh 15 kry ons dan drie karakters in die beeld wat Jesus gee. Die wynstok, die landbouer en die lote. In v1 sê Jesus, “Ek is die ware wynstok”.

Die Wynstok

Hierdie verklaring wat Jesus maak is alleen in opsig self ‘n groot waarheid. Jesus sê, EK IS DIE WARE WYNSTOK. En hoor hoe beskryf die Psalmdigter Israel as God se wynstok. En in die Ou Testament was Israel God se wynstok.

Psa 80:8 'n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.

Esegïel, Jeremia en Jesaja verwys na Israel as ‘n wilde loot.

Die Ou Testament het geprofeteer dat daar ‘n nuwe wingerdstok sal wees, die Seun van die Mens. En dan kom Jesus en maak hierdie verklaring: Ek is die ware wynstok. Voorheen het God se lewe gevloei deur Israel en dit het aan Israel seën gebring, maar dit is verby. Israel het die reg om die wingerstok te wees verloor en Jesus sê, Ek is die ware wynstok.

Daar is ‘n paar redes waarom Jesus hierdie beeld van ‘n wynstok gebruik. Hierdie beeld spreek van Sy nederigheid. ‘n Wynstok word in die grond ingeplant. Jesus het gekom van die hemel af aarde toe en is in die grond geplant. Dit spreek ook van eenheid, die eenheid tussen die wynstok en die lote. Die lote is ingeënt in die wynstok. En dit spreek van totale afhanklikheid.

Die beeld sê vir ons hoe die lote vrug dra, hoedat die lote nie in hulleself vrug kan dra nie. Jy kry lote wat net rondlê en geen vrug dra nie. Die loot moet ingeënt wees in die wynstok. Jesus gebruik hierdie beeld.

Soos ek reeds gesê het, Israel was in die Ou Testament God se wingerstok, en dit beteken, God het deur hulle werk. God was die landbouer, en Israel was die wingerd. God het Israel geklee, Hy het vir Israel omgegee, Hy het Israel gesnoei, Hy het met hulle gewerk. Hy het ook die lote afgesny wat nie vrug gedra het nie en weggegooi.

Seëninge het gekom deur aan God se verbondsvolk Israel verbind te wees. Natuurlik het geloof die belangrikste rol gespeel, want deur geloof alleen was hulle geregverdig. Maar net om ‘n Jood te gewees het, het seëninge gebring. En so, was Israel in die Ou Testament die wynstok van God gewees.

Jes 5:1 Laat my tog sing van my Beminde; 'n lied van my Beminde oor sy wingerd! (Dit is dan Israel) My Beminde het 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel. (God plant Sy wingerd)

2 En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het 'n toring daar binne-in gebou en ook 'n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.

3 Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd.

4 Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? (God sê, wat meer moet Ek vir hulle doen. Ek het al die geleentheid vir hulle gegee om vrug te dra, maar instede daarvan, dra hulle wilde druiwe)

5 Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. (Dit is ook presies wat met hulle gebeur met die balingskap)

6 En Ek sal dit 'n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.

7 Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel…

Israel het hul reg verloor om te bestaan as die wingerd van die Here, omdat hulle nie vrug gedra het nie. Dit is interesant dat die wingerstok ook ‘n simbool geword het van Israel. Dit was ook in daardie tyd op geldstukke gedruk.

Israel was nog altyd God se wingerd, maar Israel het ‘n leë wingerd geword. En nou is daar ‘n nuwe wingerdstok. Nou het God se seën na die mensdom toe gekom deur ‘n nuwe wingerdstok. Die mens het nie meer deur die verbonds verhouding tot Israel seën ontvang nie, maar deur die nuwe wingerdstok. Die nuwe wynstok, Jesus Christus. Jesus sê, Ek is die ware wynstok.

Die woord “ware” is die woord “alethinos” en het baie betekenisse, maar in hierdie sin verwys dit na die ware in die sin van ewige, hemelse of goddelike. En dit kry ons algemeen in die Skrif. Daar was ‘n skadubeeld in die Ou Testament van ‘n wynstok, Israel, maar die werklik, die ware wynstok is Christus.

Hy is die volmaakte een in vergelyking met die onvolmaakte. Hy is die werklike een in vergelyking met die tipe. Israel was ‘n tipe van God se werk en seën. Christus is die werklikheid.

Heb 8:2 'n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie 'n mens nie.

Die tabernakel in die Ou Testament was nie die werklike nie, maar ‘n tipe, ‘n skadubeeld van die werklike. Net soos die Sabbat nie die werklike is nie, maar ‘n skadubeeld is van die werklike. Dit is die Vader, die landbouer, wat Christus as die ware, perfekte wingerd geplant het.

Christus is die ware wynstok. Die Bybel sê ook, Hy is die ware lig.

Joh 1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.

Daar was baie geleenthede waar God Sy lig geopenbaar het, maar Christus is die volmaakte openbaring van lig. Joh 6:32 sê, Hy is die ware brood uit die hemel. Dieselfde woord “alethinos”. Maw daar was baie ander geleenthede waardeur God die mens gevoed het. Daar was baie ander brood, soos die manna in die woestyn, maar Christus is die volmaakte ware brood.

Jesus sê, Ek is die ware wynstok. En dit is verbasend hoeveel Christene en ook sogenaamde Christene ander wynstokke in hulle lewens het waaruit hulle hul bronne soek. Is daar ander wynstokke in jou lewe? Hulle is nie ware, egte wynstokke nie, maar die mens, selfs Christene soek hul vervulling daarin. Aan hoeveel dinge heg ons ons lewens vas.

Sommige mense dink hulle bankrekening is hulle wynstok. Ander dink weer hulle geleerdheid. Ander dink weer hulle wynstok is hulle populariteit, hulle sukses, hulle status, hulle besittings, ander persone, verhoudings, ens. Sommige dink hulle kerk is hulle wynstok. Hulle dink hulle is geheg aan ‘n sekere vorm van godsdiens.

Ander het weer die kerk weggegooi en dink hulle het nie ‘n kerk nodig nie en dat hulle wynstok is “ek”. Ek is nie afhanklik van enige iemand nie, ek sal vir myself sorg. NEE!! Wie is die ware wysntok? Jesus Christus. Kerk lidmaatskap, jou verbindtenis met ‘n kerk gaan jou nie hemel toe vat nie. Die wynstok is nie die kerk nie. Jy hoef nie jouself aan die kerk te verbind nie. Dit is nie ‘n wynstok-loot verhouding nie, dit is hoe parasiete is.

Jy moet groei uit Christus as ‘n natuurlike loot uit die ware wynstok, Jesus Christus, nie een of ander bybel studie groep, of een of ander kerk nie of een of ander groep nie. Dit is nie jou bank rekening of jou persoonlike vermoëns of sukses of een of ander ding nie. Jesus Christus is alles wat jy nodig het om te lewe. Hy is alles. Jy het niks meer as Jesus Christus nodig nie. Jesus plus niks is gelyk aan alles.


Israel was die
wingerd in die Ou Testament. Christus is die alethinos wynstok, die ware volmaakte, perfekte wynstok. Dit is interesant as jy dan die Ou Testament lees oor Israel, dan word daar altyd na hulle verwys as die wilde wingerdstok. Maar Jesus is die volmaakte wynstok, want Hy is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Dit is die wynstok waaraan ek geheg wil wees, wat van jou?

No comments: