Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, September 7, 2009

ONDERWERPE op hierdie blog


· Ewige saligheid – kan ‘n gelowige sy saligheid verloor?


· Die Goddelike waarborg (Deel 1-3)


· Die ware wynstok en die lote (Deel 1-3)


· Val in die Gees – Bybels of nie?


· Alles oor spreek in tale (Deel 1-6)


· 1 Joh 1 (Deel 1-4)


· Oorwinning oor sonde (Rom 8:12,13)


· Openbaring (Deel 1-3)


· Die einde van die wêreld (Deel 1-2)

Eksamen tyd

Teksgedeelte: 1 Joh 5:6-2:1

1 Joh 1:5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

Tema: Eksamen tyd

Inleiding

Wie hou van eksamen tyd? Ek onthou toe ek eksamens geskryf het op universiteit. Wanneer ek nie voorbereid was nie, het ek gestress en was dit nie lekker nie, maar ek onthou die tye toe ek goed voorbereid was. Man dit was lekker as jy klaar geskryf het en jy weet dit het goed gegaan.

Nou, ons is in God se skool en hier moet ons ook eksamens af lê. Die lewe het baie toetse wat ons moet skryf. Maar daar is wel een eksamen wat jy moet slaag, en die toets is die toets van geloof. Die brief van Johannes is dan vir ons ‘n toets van geloof.

Ek glo julle ken teen nou al vir Johannes. Hy is die apostel van sekerheid. Hy is die apostel van wit en swart. Daar is geen grys area by hom nie. Hy is die apostel van absolutes. En hy gee vir ons goddelike waarhede.

Hy gee vir ons dan ‘n paar toetse waardeur ons kan sine of ons in die Koninkryk van God is of nie. As iemand sê hy is ‘n Christen, dan is hierdie briewe van Johannes ‘n goeie toets om te sien of dit so is of nie.

Die eerste toets is ‘n leerstellige toets. Niemand kan homself ‘n Christen noem of hoop om die ewige lewe te kry en hemel toe te gaan as hy nie weet wie Jesus Christus is nie. Johannes sê, Hy is die Woord van die lewe wat geopenbaar is. Hy is God wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Hy het kom sterf vir sondaars en Hy het weer opgestaan. En dit is die kern van ons geloof. Hierdie is die eerste toets wat jy sal moet slaag. Glo jy dit?

Die hooftema van die Bybel is CHRISTUS. Dit gaan alles oor Hom. Die Ou Testament vertel dat Hy gaan kom. Die evangelies vertel dat Hy het gekom. Die sendbriewe vertel, hoekom het Hy gekom. Openbaring vertel vir ons, Hy kom weer.

Dit is belangrik dat ‘n mens sal weet “wie Jesus is, wat Hy gedoen het en wat Hy gesê het”, as jy gered wil word. Daar moet ‘n duidelike verstaan wees van Hom. Dit is die eerste toets.

Johannes se boodskap is ook ‘n boodskap vir ons vandag. Ons leef in ‘n tyd waar mense nie meer Christus erken nie, hulle glo nie meer in die vleeswording van Christus nie, hulle glo nie meer dat God in ‘n menslike liggaam gekom het en dat Jesus die enigste Verlosser is nie.

Die tweede toets waardeer ‘n mens sy geestelike toestand kan bepaal is die toets van sonde. Daar is die Christus toets en dan is daar die sonde toets. Ons het dan verlede week daarna begin kyk, vanaf v5-2:1. Dit is belangrik om die realiteit van sonde te besef.

Die wêreld wil nie erken dat hulle skuldig is voor God nie. Hulle wil nie erken dat hulle Sy Wet oortree het nie en dat hulle sondaars is nie. Ons samelewing probeer vandag eerder alles sielkundig verklaar: jy het sielkundige afwykings, of jy het ‘n te kort aan selfwaarde, of jy het ‘n slegte selfbeeld, ens.

Instede dat mense verantwoordelikheid neem vir hulle dade, word hulle ‘n slagoffer van omsgtandighede, sekere verhoudings, of vorme van mishandeling, verwerping. Die blaam word verskuif na alles behalwe myself, so ek neem nooit verantwoordelikheid vir my eie dade nie. Enigiets anders as ‘n Bybelse diagnose van sonde.

Hierdie is ‘n toets wat vir ons wys of iemand ‘n ware gelowige is. Hulle het nie net die regte sienning van Christus nie, maar hulle het die regte sienning van sonde. Sonde is ‘n persoonlike saak.

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God, hulle het Sy Wet verbreek. Hulle het onmiddelik ‘n keuse gehad, bely of bedek. Julle ken die storie. Wat het hulle gedoen? Hulle het hulleself bedek met vyeblare. En om dit nog verder weg te steek het hulle vir God weggekruip. Is dit nie wat mense vandag ook maar doen nie? Dit is wat sondaars geneig is om te doen.


Wanneer hulle bewus raak van hulle sonde, dan voel hulle skuldig en probeer onmiddelik dit bedek, om dit te ontken, om dit weg te steek, of om alles en almal die skuld te gee, behalwe om dit te bely.

Spr 28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.

Solank as wat jy nie jou sonde erken nie, solank as wat jy probeer om dit in sielkundige terme of sosiale terme te herdefineer, solank as wat jy dit bedek, sal jy nie voorspoedig wees nie. Maar wanneer jy dit bely en laat staan, sal jy barmhartigheid vind.

Daarom sê ons, voordat jy wedergeboorte kan ontvang, moet daar eers belydenis en bekering wees. Om jou sondes weg te steek, om dit te bedek, om dit te herdefineer, is alles karaktereienskappe van mense wat God nie ken nie.

Johannes sê, hulle het nie gemeenskap met ons nie. Hulle kom nie tot die volle besef van hulle sonde nie. Hulle mag dalk erken dat hulle hier en daar ‘n fout maak. Hulle mag erken dat hulle dalk beter keuses kon gemaak het.

Ons hoor dit so baie vandag. Jy is ‘n slagoffer van jou slegte keuses. Dit is ongelukkig nie die hele waarheid nie, want slegte keuses word gemaak deur slegte mense. Slegte bome dra nie goeie vrug nie. Slegte keuses word beoefen deur slegte mense.

Maar mense wil die blaam verskuif na die inlvoed wat die kultuur op hulle het of die invloed wat ouers of op hulle gehad het of omstandighede. Solank as wat hulle nie hoef te bely dat hulle 100% verantwoordelik was en dat hulle die vermoë gehad het om te sondig nie. Hulle bedek hulle sondes, hulle steek dit weg.

Christene, aan die ander kant, is mense wat bely. Dit beteken nie hulle pak nou alles uit oor wat verkeerd is in hulle lewens voor almal, sodat almal dit kan weet en die hele wêreld vol versprei nie. Dit beteken eerder dat hulle eerlik en opreg voor God kom en bely.

Kyk wat sê Dawid toe hy nie sy sonde bely het nie. Hy sê,

Psa 32:3 Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag;

4 want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed.

Die KJV sê, Psa 32:4 For day and night thy hand was heavy upon me: my moisture is turned into the drought of summer. (my life juices drained) En dit is hoe Dawid voel oor die swaar gewig van sy onbelyde sonde en skuldlas wat hy moes dra. Maar aan die ander kant sê hy,

Psa 32:5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.

Hy gee finaal toe aan die roepstem van sy gewete, die marteling van sy stryd met God en sê, Ek wil aan die Here my oortredinge bely. Die oomblik toe hy dit doen, het die skuldlas verdwyn. Jy hoef nie met ‘n skuldlas rond te loop nie. Bely dit en Hy sal jou vergewe.

Die mens wat sy sonde in hierdie lewe bedek, maak vir homself ‘n groot skuldlas bymekaar wat hy moet dra en daarom sal hy nie voorspoedig wees nie. Die mens se sonde in hierdie lewe wat bedek word, sal in die volgende lewe openbaar word. Jesus sê,

Luk 12:2 En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.

Die boek Openbaring praat van boeke wat akkurate rekords hou van alles. Dit is hierdie boeke wat geopen gaan word by die Wit troon oordeel. Daar sal geen geheime wees nie. Wat jy nou wegsteek, sal geopenbaar word. God sal alle sonde op die einde oordeel, want alle sonde is teen Hom gedoen. Dawid het gesê,

Psa 51:4 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.

Hy erken dat alle sonde is teen God. En God alleen is absoluut heilig en dit is vir Hom ‘n gruwel. En dit is ware belydenis. Ware belydenis is nie net om te erken dat jy teen iemand iets verkeerd gedoen het nie, maar om te erken dat jy primêr teen God gesondig het. Dit is hierdie tipe belydenis, wat Salomo in Spreuke sê, dit sal jou siel voorspoedig maak. Dit is hierdie tipe belydenis wat mense bring tot ware bekering en deur geloof tot vergifnis en seën.

So, jy het ‘n keuse. Jy kan bedek of jy kan bely. Johannes wys dan vir ons dat mense wat aan God behoort, is mense wat bely. Mense wat nie aan God behoort nie, bedek hulle sondes. Belydenis van sonde is ‘n toets van jou redding.

Eerstens het ons die toets van die leer aangaande Christus. Die regte leerstellings oor Christus. Dan is daar die toets van jou gesindheid oor sonde. Christene bely, sondaars bedek.

Daar is twee ander toetse waaroor ons ook nog sal gesels en dit is die toets van gehoorsaamheid en die toets van liefde. Johannes sê dat jy sal altyd ‘n Christen kan uitken deur hul siening oor Christus, hul siening oor sonde, hul siening oor gehoorsaamheid en hul siening oor liefde. En as hulle nie hierdie dinge het wat die Bybel sê ‘n ware gelowige moet hê nie, dan is hulle nie ‘n Christen nie, al maak hulle daarop aanspraak.

Johannes skryf teen die agtergrond van die valse leraars en hulle verwerp die ware leerstellinge van Christus. Hulle het ook hulle sonde ontken. Hulle het nie Christus op die regte manier bely nie, en ook nie hulle sondes bely nie.

Die woordjie “belydenis”, is die Griekse woord “homologeo” wat letterlik beteken “om dieselfde ding te sê”. Die teenoorgestelde woord is die woord “heterogeo” wat beteken “om iets anders te sê”. Maw belydenis beteken om dieselfde te sê as wat God sê. As jy Christus bely, dan sê jy dieselfde oor Christus as wat God sê oor Christus. As jy jou sonde bely, dan sê jy dieselfde oor sonde as wat God sê oor sonde.

Die valse leraars het iets anders vir die gemeentes van Asië vertel as wat God gesê het. Hulle het ‘n ander Christus verkondig. En hulle het hulle sonde ontken.

Nou, as daar twee dinge in my lewe is wat ek nie wil doen nie, is dit eerstens, om te sê: God het so gesê, terwyl Hy nooit so gesê het nie. En tweedens, wanneer God iets gesê het, en ek dit nie sê nie.

1 Joh 1:5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

Van wie af kom hierdie boodskap? Van Hom af. En dit is die verkondiging wat ons van Hom af gehoor het. Dit is goddelike openbaring. En hier is die fondasie: God is lig en geen duisternis is in Hom nie. Lig is hier sinoniem vir die lewe en duisternis is sinoniem vir die dood. God is ewige lewe. Alles begin by Hom wat die ewige lewe het. Dit begin by Hom wat die ewige lewe skenk. En daar is geen duisternis, daar is geen dood in Hom nie.

Die ewige lewe is heilig en die ewige lewe is getrou. So wat sien ons, heiligheid en getrouheid. En wanneer iemand hierdie lewe van God ontvang het, dan sien ons hierdie dinge in sy lewe. Ons sien heiligheid en getrouheid. Getrou aan die gesonde leer van Christus en ‘n heilige lewenswyse.

2 Joh 1:9 Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. (As jy God het, sal jy getrou bly in die leer van Christus) Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun.

Rom 6:22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.

So, hier is die eksamen vraestel se antwoorde: As jy ‘n kind van God is, sal jy getrou bly in die leer van Christus en jy sal die vrug van heiligmaking hê.

Daar is baie mense wat sê dat hulle is in die lig. Daar is mense volgens 1 Joh 1:6 sê dat hulle gemeenskap het met Hom. Dit is dieselfde as om te sê om in die lig te wandel. Dit is dieselfde ding as om te sê dat jy die lewe besit. Maar v6 sê, hulle wandel in die duisternis. Daar is mense in v7 wat waarlik in die lig wandel. En dit is die ondeskeid wat getref word.. Dit is nie hulle wat net dit sê nie, maar hulle wat wandel wat ware gelowiges is.

As jy die lewe van God het, sal jy in die lig wandel en nie in die duisternis nie. Ons het gesien in Joh 15:5 dat Jesus sê, Hy wat in my bly en Ek in hom, hy sal veel vrug dra. En enigiemand wat in die duisternis wandel demonstreer dat hulle nie die lewe van God besit nie, want in Hom is daar geen duisternis nie.

Jakobus sê, dat ons nie nie net hoorders van die woord nie, maar ons is ook daders van die woord.

Kom ons kyk dan na hulle wat sê dat hulle in die gemeenskap is. Hulle wat sê dat hulle die ewige lewe besit. Hulle wat sê dat hulle aan God behoort. Hulle wat sê dat hulle gered is.

Om gemeenskap met God te hê, beteken om saam in Sy lewe te deel. Gemeenskap is die woord koinonia, wat beteken venootskap. Ons is venote/partners, mede-werkers van God. Jy kan nie sê, jy het gemeenskap met God, maar jy het ook gemeenskap met die duisternis nie.



So wat sê die valse leraars? Hulle sê volgens v6 dat hulle het gemeenskap met God, maar hulle wandel in die duisternis. Hulle maak daaroop aanspraak dat hulle nie sonde het nie en is daarom self mislei en die waarheid is nie in hulle nie. In v10 maak hulle daarop aanspraak dat hulle geen sonde het nie. Hulle sê die teenoorgestelde wat God sê en daarom maak hulle God ‘n leuenaar en Sy woord is nie in hulle nie.

Let op wat is hulle probleem! Dit is die afwesigheid van waarheid. Die einde van v6 sê, hulle “…doen nie die waarheid nie.” Die einde van v8 sê, “die waarheid is nie in…” hulle nie. Die einde van v10, “sy woord…” is nie in hulle nie.

Luister! Niemand word gered sonder die waarheid nie. Dit is die waarheid wat vrymaak.

2 Thes 2:13 Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid

Geloof in … wat? Geloof in die waarheid. So, hier het jy mense wat geen waarheid in hulle het nie. En sonder die waarheid is hulle verlore. Daarom moet ons die evangelie van Jesus Christus uitdra in die hele wêreld. Daar is geen saligheid wat los staan van die geloof in die waarheid nie. As jy nie die waarheid glo nie, sal jy nie so lewe nie.

Hierdie ouens sê in v6 hulle is die gemeente, maar hulle sê niks van sonde nie. In v6 praat hulle nie van sonde nie, want dit is nie vir hulle ‘n realiteit nie. Hulle sê hulle het gemeenskap met God, terwyl hulle in die duisernis wandel. Hulle is eenvoudig leuenaars. Johannes sê, hulle bely nie, want hulle glo nie daar is iets om te bely nie. Hulle dink dat duiseternis is lig. Hulle is mislei.

1 Joh 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Hierdie ouens in v8 dink hulle het ‘n staat bereik waar hulle geen sonde het nie. As hulle enige sonde gehad het, was dit in die verlede. Maar hulle het hierdie staat van volmaaktheid bereik. V10 gaan dan verder, die eerste ou sê, sonde? Wat’s dit? Die tweede een sê, sonde? O, ek doen dit nie meer nie. Die derde ou sê, ja, daar is sonde, maar ek het nooit gesondig nie.

Die eerste ou dink dat sy sonde is eintlik goed. Die tweede ou dink hy het ‘n staat bereik waar hy geen sonde doen nie. En die derde een dink hy het nooit gesondig nie. In die geval, sê die Bybel, ken hulle nie die waarheid nie. Hulle het die toets gedop. Hulle ken nie die waarheid oor die evangelie nie en ook nie die waarheid oor sonde nie. En die twee gaan saam.

En ongelukkig is daar baie mense wat sê, hulle het gemeenskap met God, maar hulle wandel in duisternis. As jy dan sê jy het gemeenskap met Hom, sal jy dan ook die eksamen slaag. Dit is nie die aanspraak wat jy maak wat tel nie, dit is jou dade wat ‘n bewys lewer van dit wat jy sê.

Om te sê jy het gemeenskap met God, maw dat jy deel in die lig van Sy lewe, dat jy ‘n vennoot is van God en dat jy die ewige lewe besit, maar jy wandel in duisternis en jy het ‘n onheilige lewenswyse, dan is jy ‘n leuenaar. Waar is heiligheid, waar is getrouheid?

Jesus beskryf dit so in Matt 6,

Mat 6:22 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.

23 Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!

Johannes skryf in Joh 3 dat mense die duisternis liewer gehad het as die lig, want hulle werke was boos. ‘n Suurlemoen boom dra nie appels nie. Daar is baie mense wat sê hulle het gemeenskap met God, maar lewe in sonde en duisternis. Hulle woorde en hulle dade stem nie ooreen nie. Johannes sê in v6, hulle doen nie die waarheid nie. Hulle verstaan nie die waarheid nie. Hulle kan dit nie begryp nie.

Kol 1:12 en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig--

13 Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,

Beteken dit dat ‘n Christen nie sonde doen nie? Nee! ‘n Christen kan sonde doen, maar hy wandel nie in duisternis nie. Ons het God se lewe. Ons is in Christus. Maar dit is juis ‘n Christen wat erken en besef wanneer hy iets verkeerd doen en dit bely en laat staan.

1 Joh 2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

Johannes sê nie dat ons nooit sondig nie. Hy sê eenvoudig, dit is nie ons lewenspatroon of lewenswyse nie. Ons het ‘n nuwe lewnswyse. Ons wandel in gehoorsaam en liefde in die waarheid.

Slot

Hier is jou eksamen vrae?

1. Wat glo jy oor Jesus? Glo jy die evangelie van Jesus, die leer aangaande Christus?

2. Wat is jou gesindheid oor sonde? Bely jy dit of bedek jy dit.

Skuldig of onskuldig?

Teksgedeelte: 1 Joh 1:5-2:1

1 Joh 1:5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

11 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

Tema: Skuldig of ontskuldig? Wat pleit jy?

Die woord wat uitstaan in hierdie gedeelte wat ons gelees het, is die woord “sonde”. 2:1 sluit dan af en sê, “…ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie”. Hierdie gedeelte gaan dan oor sonde. Dit gaan as’t ware oor die sekerheid van sonde, of dan ook die belydenis van sonde.

Ons het laas week gesien hoe seker Johannes is oor die Woord van die lewe. Hy praat vanuit eerste handse ervaring. Hy was ooggetuie. Die Woord van die lewe is geoponbaar en hy getuig daarvan. Hy getuig van die ewige lewe.

Maar dis nie al nie. Hy praat nie net oor die sekerheid van die Woord van die lewe nie, maar hy praat ook oor die sekerheid van sonde. Dit is dan juis waarvoor die Woord vlees geword het om die mensdom se sondes te dra. As iemand dan ‘n ware Christen is, dan sal hy getuig van die realiteit van die Woord van die lewe wat vlees geword het, maar hy sal ook die realiteit van sy sonde erken. Christus is ‘n werklikheid, maar sonde is ook ‘n werklikheid.

Johannes verdedig dan hierdie waarhede teenoor die valse leringe in sy tyd wat sê, dat sonde is nie ‘n werklikheid nie. Dit is dan ook ons werk om die waarheid te verdedig. Kom ons kyk gou na 2 Joh, want ek wil hê julle moet sien wat die dryfveer agter Johannes is.

2 Joh 1:1 Die ouderling (en hier verwys hy natuurlik na homself) aan die uitverkore vrou en aan haar kinders (en dit is die kerk)--wat ek in waarheid liefhet, en nie ek alleen nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het;

2 ter wille van die waarheid wat in ons bly en by ons vir ewig sal wees--

Drie keer verwys hy na die waarheid. Ek het in waarheid lief, maar ook almal wat die waarheid ken, en ter wille van die waarheid.

2 Joh 1:4 Ek was baie bly dat ek van u kinders gevind het wat in die waarheid wandel, soos ons 'n gebod van die Vader ontvang het.

Dink julle dat die waarheid was vir Johannes belangrik? Ja, dit het alles vir hom gegaan oor die waarheid.

3 Joh 1:3 want ek was baie bly as daar broeders kom en van jou waarheid getuig, soos jy in die waarheid wandel.

4 Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.

7 Want vir sy Naam het hulle uitgegaan sonder om iets van die heidene te neem.

8 Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.

Ons is mede-arbeiders van die waarheid. Ons is vennote. En net deur hierdie gedeeltes is dit baie duidelik dat daar net een ding was wat Johannes gedryf het, en dit was die waarheid. Hy was nie sukses gedrewe nie. Hy was nie bekommerd oor die styl van sy bediening nie. Hy was waarheid-gedrewe. Die waarheid het hom gedwing, die waarheid het hom gemotiveer.

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

En enige persoon wat so passievol is vir die waarheid sal ook sterk stand inneem teen leuens.

2 Joh 1:7 Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.

8 Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar 'n volle loon ontvang.

9 Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun.

10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.

Wat doen jy as daardie ouens aan jou deur kom klop en ‘n klomp onbybelse waarhede wil verkondig? Die Bybel sê, ontvang hom nie in die huis nie. Moet hom nie eers groet nie. Ons mag nie en ons kan nie valse leringe verdra nie.

Hoe weet ons dan of iemand eg is? Hoe weet ons dan of iemand ‘n ware kind van God is? Johannes gee dan vir ons ‘n klomp toetse. Eerstens sê hy, dit is mense wat nie bely dat Christus in die vlees gekom het nie. En dan ook waaroor ons vanaand gesels, en dit gaan oor ‘n persoon se persepsie van sonde.

Ek wil jou vra: Is jy skuldig of onskuldig? Die Bybel sê baie duidelik dat jy nie tot bekering kan word, as jy nie ‘n eerlike en duidelike besef het van jou sondige toestand nie.

Mar 2:17 En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

As jy nie op die plek kom waar jy skuld erken nie, sal daar nooit vergifnis wees nie. Jy kan nie genade verstaan as jy nie die wet verstaan nie. Jy kan nie vergifnis verstaan as jy nie sonde verstaan nie. Jy sal nooit verstaan wat dit beteken om vrygemaak te wees van ‘n ewige oordeel as jy nie die oordeel verstaan nie. Jy sal nooit die ernsigheid van jou sondige toestand besef, as jy nie die ewige verderf verstaan nie. Dan eers kan jy verstaan wat dit beteken om verlos te word.

Wat dan van die gelowige? ‘n Wedergebore mens bely sy sonde gereeld. Dit is wat ons Skrifgedeelte sê,

1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Maar aan die ander kant,

1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

So as ons wil sien of ‘n persoon waarlik ‘n kind van God is, dan vra ons, wat is sy gesindheid teenoor sonde. Om dit eenvoudig te stel, sonde belydenis is deel van ‘n wedergeborene se lewespatroon.

Dit is onwedergebore mense wat geneig is om hulle sondes weg te steek. Hulle maak asof dit nie so ernstig is nie. En omdat die evangelie gaan oor die vergifnis van sonde, is dit die regte plek om te begin.

V9 sê, as ons ons sondes bely…en dit is ‘n basiese ding van saligheid. Die Bybel is vol van voorbeelde van sonde belydenis. Ons sien in Eks 9:27 dat Faroa sy sonde bely. Saul bely sy sonde,

1 Sam 15:24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het…

1 Kron 21:17 En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het…

Jes 6:5 Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!

Psa 32:5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.

Psa 38:18 Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.


Is jy bekommerd oor jou sonde? Pla jou sonde jou, of bedek jy dit. Verontskuldig jy jouself en maak asof dit nie so ernstig is nie. Regverdig jy jouself. Wat is jou gesindheid van sonde? Is jy skuldig of onskuldig?

Spr 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:

17 trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,

18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,

19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.


En vandag maak die wêreld sonde iets wat sielkundige gevolge het. Dit is nie gesond vir jou nie, dit is nie goed vir jou selbeeld nie. Nee! Die Bybel sê, dit is ‘n gruwel in God se oë. ‘n Ware Kind van God besef die erns van sonde. Petrus het sy sondige toestand besef,

Luk 5:8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!

Die verlore seun het uit die varkhok gesit en gesê,

Luk 15:18 Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,

Die tollenaar het gesê,

Luk 18:13 …o God, wees my, sondaar, genadig!

Dit was Paulus wat gesê het,

1 Tim 1:15 Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

Wat ‘n belydenis? Is jy skuldig of onskuldig? Jesus vergewe net skuldenaars.

Maar jy sien. Mense hou nie daarvan om hulle sondes te bely nie. Hulle ontwikkel eerder ‘n ingewikkelde filosofiese en selfs ‘n godsdienstige sisteem om sondebelydenis te ontduik. Enigiets behalwe dit. Daar is mense wat sover gaan deur te sê dat daar nie so ding is soos sonde nie. Dit is wat die New Age leer. Hulle sê, daar is nie so iets soos reg en verkeerd nie.

Baie verskillende maniere hoe mense hulleself verontskuldig. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang. Hulle veg teen die gewete, volgens Rom 2, wat die wet van God is. Hulle probeer alles in hulle vermoë doen om hul gewete stil te maak.

Iemand het eendag gesê, jou gewete is soos die skeidsregter op die rugby veld. Hy is daar om die fluitjie te blaas elke keer as jy teen die reëls van die spel gaan. Maar mense luister nie na die skeidsregter nie, en watter verskriklik dag moet dit wees, wanneer die skeidsregter van die veld afstap omdat mense nie wil luister nie.

As die mens homself kan oortuig dat daar nie sonde is nie, dan is hy oortuig daar is nie ‘n oordeel nie. Jy sien, mense is net te lief vir hulle sondes. Hulle ontken dat sonde, sonde is. Hulle ontken dat dit oortreding van God se wet is. Dan probeer hulle lewe en aangaan asof dit nie bestaan nie.

2 Pet 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,

6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

Hoekom dink julle glo mense nie meer in die skepping nie, maar dat alles deur evolusie ontstaan het? Daar is net twee verduidelikings vir die grondlae en al die bene wat hulle opgrawe. Of dit het oor miljoene jare gebeur, of daar was ‘n vloed wat alles vernietig het.

Hoekom wil hulle dan nie die vloed aanvaar nie? Want die vloed spreek van God se oordeel. As die wêreld dan kan vergeet van ‘n vloed en van God se oordeel, dan help dit hulle om nie te dink aan hulle sondes nie. Maar hulle is te lief vir hulle sondes en hulle wil dit nie aflê nie.

Mense word nie vandag beskryf in morele terme nie, maar in psigologiese terme. Hy is nie ‘n sondaar nie. Hy word beskryf as siek, verstandelik siek, emosioneel siek, psigologies siek. Dan word hy behandeling gegee en selfs pille gegee wat maak dat sy brein nog minder funksioneer. En dit is nou die oplossing vir al ons probleme.


Alles wat verkeerd is in jou lewe kom van waar af? Buite? Nee!

Mar 7:21 Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord,

Maar moet net nie vir mense sê die fout lê by hulle nie. Moet net nie vir menses ê hulle is skuldig nie. Jy gaan hulle aanstoot gee. (sarkasme) Luister! Wanneer jy die realiteit van sonde ontken, sal jy nooit gered word nie. Rom 3:23 sê almal is sondaars en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.

1 Joh 5:17 Alle ongeregtigheid is sonde…

Daar is nie so ding soos ‘n groot sonde en ‘n klein sonde nie. Jy kan nie sê, As jy hierdie sonde doen gaan jy hel toe, maar nie as jy hierdie een doen nie. Nee! Dan gee jy mos toestemming vir mense dat hulle sekere sondes kan doen, maar ander sondes moet hy voor pasop.

Die Bybel sê alle ongeregtigheid is sonde.

1 Joh 1:10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar…

Hoekom? Want God sê dit is sonde en jy sê, dit is nie. Dan kan ons teruggaan na v6 wat sê,

1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Slot

God staan altyd gereed om te vergewe. Hy vergewe net skuldenaars. Is jy skuldig of onskuldig? Wat pleit jy?