Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, July 13, 2009

Die Goddelike Waarborg - deel 2

Teksgedeelte: Rom 5:2-8

Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,

4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;

5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.

7 Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe

8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Tema: Die waarborg van hoop en liefde

Inleiding

Hierdie gedeelte het baie temas waaroor ons kan gesels, maar as ons hierdie gedeelte kan opsom in een hooftema, gaan dit oor die sekuriteit van jou saligheid. 1 Pet 1:5 sê, dit word in die krag van God bewaar. Hoe weet ek ek gaan hemel toe? Ek het ‘n goddelike waarborg. En as ons dan by verlede week kan aansluit, dan sê ons eerstens, dat hierdie waarborg kan nie gekoop word nie en tweedens, dit het nie ‘n verval datum nie. Dit word in die krag van God bewaar.

Hoe bewaar God ons ewige erfenis? Dit is wat hierdie gedeelte in Rom 5 dan vir ons sê. En dit is wonderlik om te weet, dat ons saligheid is verewig. Dit bring vreugde en hoop. Die sekuriteit van jou saligheid is nie afhanklik van jou nie, dit is afhanklik van God. Dit word in Sy krag bewaar. As ons dit moes bewaar, sou ons almal dit nie gemaak het nie.

Die verloop van argumente wat Paulus gee in Romeine is dan, alle mense is onder die toorn van God, alle mense het gesondig. Die enigste wyse waarop jy die oordeel van God kan ontvlug is deur geloof in Jesus Christus. Ons kan dit nie verdien nie, dit is uit genade deur die geloof in Christus alleen. Rom 4 gaan oor saligheid deur die geloof en kry die voorbeeld van Abraham. En dit was nog altyd so gewees.

Die vraag wat opkom is dit: Is geloof dan genoeg? Goed! Ek plaas my geloof in Jesus Christus, my sondes word vergewe deur die voorsienning van Christus op die kruis. Is dit genoeg? Wat as ek sonde doen? Is my geloof genoeg om my verhouding met God te verseker tot op die laaste dag? Sal geloof my kan salig hou tot aan die einde en my lei tot in die hemel?

Paulus se antwoord op hierdie vra is…absoluut JA!

En dit is nie omdat jy iets gedoen het nie. Ons word gered deur die geloof. Is ons volmaak? Nee! Maar as wedergeborene word jy in die krag van God bewaar. Ek het laas week 6 dinge genoem wat ‘n goddelike waarborg is. Eerstens het ons deur die geloof in Jesus Christus vrede by God. Ons is nie meer God se vyand nie, ons is nou Sy vriend. Ons is geregverdig en dit beteken ons staan nou in die regte verhouding met God.

Tweedens het ons gekyk na die feit dat ons in die genade staan. Ons is in gesement in die genade van God en sy genade is onbeperk. Ons stap nooit uit die genade gebied uit, terug na die gebied van die Wet en weer onder die oordeel nie. Nee! Jesus het die weg oopgemaak na God, en ons het toegang in Sy teenwoordigheid en dit is ‘n permanente voorreg. Ons staan in genade.

  1. Die hoop op die heerlikheid

Die derde ding wat dui op die goddelike waarborg is, die hoop op die heerlikheid. Dit het ons dan gelees aan die einde van v2 tot en met v5.

Rom 5:2 …en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,

4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop

5 en die hoop beskaam nie…

Drie keer kry ons die woord “hoop” en dit is die derde skakel in die ketting wat ons verewig vasbind aan God. Hoop! Ons lewe in hoop. Ons het ‘n verhouding met God wat permanente vrede is. Ons leef en staan in genade. En ons het hoop. Hoop kyk na die toekoms. Die gelowige kyk voorentoe op die belofte van heerlikheid. God gee ons ‘n belofte, die ewige lewe, die ewige heerlikheid en daarop kan roem, “…ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.” God het vir jou ‘n ewige heerlikheid belowe.

Die woordjie “roem” is die Griekse woord “kauchaomai” wat beteken “verbly”. Ons verbly ons in die hoop op die heerlikheid van God. Die KJV sê, “…rejoice in hope of the glory of God.” Maar dit is meer as net om te “rejoice”. In ‘n sekere sin is dit om met volle vertroue te roem. Dit verwys na die hoogste vorm van blydskap. Nie ‘n oppervlakkige of emotionele blydskap nie.

Die wete dat jy vrede by God het, dat jy in genade staan, alles as gevolg van die werk van Christus. Ons vrees nie meer die toekoms nie. Wat kan verkeerd gaan? Ons kan met volle vertroue roem in die sekuriteit van ons ewige hoop.

Ons verhouding met God is ‘n permanente vrede. Ons posisie waarin ons staan is permanente genade. Wat kan verkeerd gaan? Daarom roem ons in die hoop op die heerlikheid van God. Ons lewe met hierdie hoop.

1 Tim 1:1 …ons Verlosser, en van die Here Jesus Christus, ons Hoop,

Jesus Christus is ons vrede. Hy is die bron van genade en Hy is ons hoop. Ons hoop op ‘n ewige toekoms is gebou op Hom.

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Ons geloof en hoop is op God. Jy kan nie ‘n saligheid besit sonder hoop nie. Jy kan nie ‘n saligheid besit sonder genade nie. Jy kan nie ‘n saligheid besit sonder vrede nie.

Joh 17:22 En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.

Jesus sê, Hy het ons die heerlikheid gegee wat die Vader aan Hom gegee het. Hy bid dat ons sal wees waar Hy is, dat ons Sy heerlikheid sal aanskou. En dit waarvoor Jesus ookal bid, word beantwoord.

Rom 8:18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Paulus sê, dit maak nie saak wat verkeerd gaan in hierdie lewe nie, dit maak nie saak hoeveel lyding ek moet verdra nie. Hy sê, niks kan opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. En dit is volle vertroue. En dit wat beteken om te roem in die heerlikheid van God.

Rom 8:24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?

Ons word nie gered, sodat ons hier en nou ‘n beter lewe op aarde kan hê nie. Hierdie hoop op heerlikheid is nie ‘n hoop wat nou gesien kan word nie.

1 Kor 15:19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

Ons het ‘n ewige hoop. Ons het ‘n toekomstige hoop. Ons hoop is nie sonder enige rede of sonder enige fondasie nie. Ons hoop is geanker in die beloftes van God. Ons hoop is geanker in die krag van God. Ons hoop is geanker in ons ewige saligheid. Dit is die volle vertroue wat ons het, dat ons die ewige heerlikheid SAL ingaan.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

Die groot vervulling van ons saligheid sal geopenbaar word in die heerlikheid wat kom…Die eindresultaat van ons redding. Dit is die hoop op die heerlikheid. Ons lewe in ‘n versekerde en gewaarborgde hoop.

En wanneer jy hierdie hoop het, sal jy enigiets verdra, want jy weet dat jy nie in jou eie vermoëns en krag bewaar word nie, maar in die krag van God.

Jud 1:24 Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

Wow! God is magtig, weereens gaan dit terug na Sy krag, nie ons sin nie, maar dit is Hy wat ons staande hou, Hy wat ons sonder gebrek voor sy heerlikheid stel. En dit is alleen moontlik deur die genade van God waarin ons staan.

Luister! Niemand kan hierdie hoop van jou af steel nie. Niemand kan hierdie hoop van jou af wegneem nie. Niemand kan hierdie hoop verander nie. Niemand kan die saligheid wat God voorsien omkeer nie. Kyk wat sê Petrus:

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,

Luister mooi wat sê die gedeelte: Deel van dit wat God jou gee wanneer jy gered word, saam met die wedergeboorte wat God jou skenk, ontvang jy hoop, ‘n lewende hoop. En dit is deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. Wat is hierdie lewende hoop? Dat ons ‘n erfdeel sal ontvang.

En wat is die omvang van hierdie erfdeel? V4 sê, dit is onvernietigbaar. Hierdie erfdeel kan nie vernietig word nie. Dit kan nie vergaan nie. Dit is onverganklik. Dit is onbesmet en onverwelklik. V5 sê dit word in die krag van God bewaar deur die geloof wat in die laaste tyd geopenbaar sal word.

Die taal wat Petrus gebruik is baie duidelik. Die dag wat jy wedergeboorte ontvang, op daardie oomblik ontvang jy ‘n lewende hoop wat nie kan sterf nie. Hierdie lewende hoop is verseker deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. Ons het ‘n erfdeel wat nie kan vergaan nie. Dit word vir ons bewaar in die krag van God.

Wat dan van beproewinge en lyding?

1 Pet 1:6 Daarin (In die beproewinge) verheug julle jul, al word julle nou--as dit nodig is--'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge

Ons verbly ons in die heerlikheid van God. Ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. In die midde van beproewinge, die dinge wat jou geloof gaan beproef, dinge wat twyfel in jou hart gaan saai, deur dit alles word jou geloof nie beïndig of vernietig nie. Maar,

1 Pet 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof (of anders gestel, julle geloof wat op die proef gestel gaan word) wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

Goud sal vergaan, maar jou geloof sal gevind word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus. Kom ek probeer dit vereenvoudig dit wat Petrus sê: Alles sal vergaan, maar jou lewende hoop, jou erfenis, jou geloof, sal nooit vergaan nie. Dit sal behoue bly tot by die openbaring van Jesus Christus.

Die grootste geskenk wat ‘n Christen ooit kan ontvang is die sekerheid van sy ewige saligheid. Die teenoorgestelde moet verskriklik wees, om te dink dat jy jouself salig moet hou. Om te vrees dat jy dalk jou saligheid kan verloor, om te vrees of jy dit eendag dalk nie gaan maak of nie.

Het ek genoeg kerk toe gegaan, het ek dalk te veel gesondig, het ek te min gebid, het ek te min my Bybel gelees? Hoe sal ek weet? Gaan ek dit maak?

Dit moet verskriklik wees om te wonder of jy dit nog gaan maak. Maar die Bybel sê iets anders. Die Bybel sê, ons het vrede by God, ons staan in genade, ons het ‘n hoopvolle toekoms en niemand kan dit veander nie.

Petrus sê, beproewinge kom, nie om ons geloof te breek nie, maar om ons geloof te bewys. En dit is die grootste geskenk wat jy kan hê, dat niks jou geloof sal vernietig nie, want geloof is ‘n gawe van God. Beproewinge kom om jou geloof te toets.

Jy kan alles van my af wegvat, my geld, my aardse besittings, my ervaringe, my belewenisse, alles, maar gee my ‘n lewende hoop wat nie uitsterf nie en die sekerheid dat dit sal staande bly deur elke beproewing en elke toets, en wanneer my geloof net sterker en sterker word, dan weet ek dit is nie ek nie, maar geloof wat ek van God af ontvang het. Dit is geloof wat staande bly. Dit is kosbaarder as goud. Dit is geloof wat tot lof en heerlikheid van God is.

Ons het ‘n lewende hoop!

Kom ons gaan terug na Rom 5.

Rom 5:2 …en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

Hierdie is die heerlikheid wat God aan ons sal gee, Sy heerlikheid waarin ons sal deel in die hemel. V3 sê dan min of meer dieselfde wat Petrus gesê het…

3 En nie alleen dit nie, maar ons roem (ons verbly ons) ook in die verdrukkinge (hoekom?), omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,

4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop

Dit is dieselfde ding wat Petrus sê. Beproewinge kom in ons lewens. Ons verdra dit en deur dit alles het ons hoop. Deur dit alles moet jou geloof net sterker en sterker word. Wees dankbaar vir beproewinge, want dit maak jou sterker.

Rom 5:5 en die hoop beskaam nie…

Hierdie hoop sal jou nooit teleurstel nie. As jou geloof eg is en jy waarlik ‘n wedergebore kind van God is, sal die lewende hoop wat jy ontvang het, jou nooit teleurstel nie, nooit!

Daar is mense in die wêreld sonder hoop. Ef 2:12 sê dat die hele wêreld leef sonder hoop. Daar is mense, volgens Spr 11:7 wat ‘n valse hoop het. Maar ons het ‘n hoop wat nie sal beskaam nie. Daar is baie mense wat hulle hoop op verkeerde dinge plaas. Hulle plaas hulle hoop op ander mense, hulle plaas hulle hoop op geld, hulle plaas hulle hoop op baie ander dinge. Maar ons het ‘n hoop wat geanker is Christus.

Heb 6:11 Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe

Dit is ‘n hoop tot die einde toe. Dit sal nie teleurstel nie.

  1. Die realiteit van liefde.

Rom 5:5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Omdat die Heilige Gees in ons woon, het ons die vrug van die Gees, naamlik LIEFDE.

Wat hierdie vers sê is dit, dat jou saligheid is verseker omdat God jou verewig liefhet. En Hy bewys Sy liefde deur aan ons die Heilige Gees te gee om in ons harte woning te kom maak.

Ef 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die Heilige Gees is die onderpand, die deposito. Die woord “onderpand” is die Griekse woord, “arrabon”, wat beteken “die verloofring”, of “die belofte”, of “die waarborg”. Hier praat hy nou nie van ons liefde vir God nie, maar Sy liefde vir ons. En die rede waarom hoop nie sal teleurstel nie, is omdat God se liefde ‘n ewige liefde is. Hierdie liefde het Hy in ons harte uitgestort.

Hoe doen Hy dit? Deur aan ons die Heilige Gees te gee. God self maak woning in ons deur Sy Gees.

Rom 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?

Sal hierdie dinge ons kan skei? V37

37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge

39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Die liefde van God wat in Christus Jesus is, is in ons harte uitgestort deur die teenwoordigheid van God se Gees wat in ons kom woon het. Ons is die tempel van God se Gees. God woon in ons en niks kan dit verander nie. Jesus sê, Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.

Rom 8:9 sê dat as ons die Gees van God het, behoort ons aan Hom. Die Gees van God woon in die gelowige. Ef 3:16 sê ons word versterk met krag deur die Gees in die innerlike mens. Ons het die derde persoon van die drie-eenheid ontvang met wedergeboorte en Hy kom woon binne in ons. Dit is hoe God sy liefde aan ons bewys.

Rom 5:6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.

7 Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Mense sal nie vir misdadigers sterf nie. Hulle sal dalk nog vir goeie mense sterf.

8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Dit is waaroor dit gaan. Hy het vir ons gesterf toe ons nog sy vyande was. Hoekom sal Hy ons nou minder liefhê wanneer ons iets verkeerd gedoen het. As Hy ons liefgehad het toe ons nog sy vyande was, dink jy nie Hy sal ons liefhê nou dat ons Sy kinders is nie? Dit is ons waarborg. Hy het ons die grootste geskenk gegee, vrede, genade, hoop en liefde. En al hierdie dinge is in Hom gesetel, in Sy krag, in Sy beloftes. Dit is nie afhanklik van ons nie. Hy bind ons aan Hom vas.

Slot

No comments: