Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Wednesday, July 8, 2009

Ewige saligheid

TEKSGEDEELTE: HEB 5:9

Heb 5:9 en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, 'n bewerker van ewige saligheid geword

KJV

Heb 5:9 And being made perfect, he became the author of eternal salvation unto all them that obey him;

KJV

Heb 12:2 Looking unto Jesus the author and finisher of our faith…

TEMA: DIE OUTEUR VAN EWIGE SALIGHEID

INLEIDING

Ons sit vangoggend rondom die nagmaalstafel en hierdie tafel spreek van die boodskap van ewige saligheid wat Christus vir ons bewerk het aan die kruis. Dit is Sy liggaam wat vir ons gebreek is. Hierdie is die beker van die nuwe testament in Sy bloed. Die tafel verkondig die boodskap van die ewige verlossingsplan wat God reeds voor die Skepping van die wêreld beplan het.

Tit 1:1 Paulus, 'n dienskneg van God en 'n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is,

2 in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het,

Ewige saligheid is God se idee. Dit is nie die mens se idee nie. Christus is die Outeur van ewige saligheid. Hy is die bewerker van ewige saligheid vlg Heb 5:9. “He is the Author and finisher of our faith.” Geen mens kon so ‘n verlossingsplan uitgedink het nie. Dit was God wat volgens Sy voorneme besluit het om Sy Seun na hierdie verlore wêreld te stuur, om ons sondes op Hom te neem en Sy geregtigheid op ons te plaas.

2 Tim 1:9 (die evangelie na die krag van God) wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,

Verlede jaar September het ek so paar boodskappe gepreek oor Saligheid en in Joh 6:29 het ons gesien dat saligheid is God se werk.

Tit 3:4 Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het--

5 nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees

Hoe red God ons? Deur die bad van wedergeboorte en die vernuwing van die Heilige Gees. Daar is geen twyfel dat saligheid by God begin nie. Saligheid is God se idee, en saligheid is die werk van God. Geen mens kan Sy soewereine plan omvergooi nie. Geen mens kan vir Hom vertel wat saligheid is nie. Ons moet hoor wat Hy sê oor saligheid. Daarom moet ons ons eie idees en opinies eenkant toe skuif en hoor wat Hy sê.

Nou, ons teksgedeelte sê, dat Jesus is die bewerker of die Outeur van ewige saligheid en as ons wil weet wat saligheid beteken dan moet ons hoor wat Hy sê.

Ek verbaas my hoe mense luister na ander mense se idees en filosofië en nie self hulle eie Bybel vat en lees en hoor wat Jesus, die Outeur van saligheid, sê nie. Luister! Ek is nie verhewe bo die Skrif nie. Ek moet onderwerp aan die Skrif. Geen mens is verhewe bo die Skrif nie.

Christus is die Outeur van ewige saligheid en as ons enigiets daaroor wil weet, dan moet ons gaan hoor wat Hy sê. Niemand kan stry met dit wat Hy gesê het nie.

Ons gaan vanoggend kyk wat Jesus sê oor saligheid, maar voordat ons dit doen, wil ek eers ‘n paar opmerkings maak.

In Joh 18 lees ons van die gebeurtenis waar Jesus voor Pilatus verskyn en in v36 sê Hy dat, “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” v37 sê, Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”

Maw Jesus het in hierdie wêreld gekom, vir twee hoofredes: om vir die waarheid te getuig en om aan die kruis te sterf. Dit is die twee hoofredes. Let op wat Joh 18 sê! Wie is hulle wat na Sy stem luister? “Elkeen wat uit die waarheid is.” Kan ons dit dan sê, dat hulle wat nie na Sy stem luister nie, is nie uit die waarheid nie? Ja.

Nou kom Pilatus vir se Jesus in v38: “Wat is die waarheid?” En toe hy dit gesê het, gaan hy uit, sonder om te luister na die antwoord. So die gevolgtrekking is dat Pilatus nie uit die waarheid is nie, anders sou hy geluister het na wat Jesus sê.

In Luk 12 sê Jesus die volgende en ek wil dit graag vir u lees:

Luk 12:51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.

52 Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.

53 Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.

Nou, waarna verwys Jesus? Jy sien, Hy het gekom in die wêreld om vir die waarheid te getuig. Jesus sê, Ek kom nie vrede op aarde gee nie, maar eerder verdeeldheid. Watter verdeeldheid? Verdeeltheid tussen lig en duisternis. Tussen die waarheid en die leuen. Tussen hulle wat uit die waarheid is en hulle wat nie uit die waarheid is nie. En hoe weet ons as iemand nie uit die waarheid is nie? Hy luister nie na Sy stem nie.

Johannes sê:

1 Joh 4:6 Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

Hoe ken ons die verskil tussen iemand wat die Gees en die gees van die dwaling? Wanneer iemand na die waarheid luister of nie luister nie. Wanneer iemand uit God is, luister hy na die waarheid, want hy is uit die waarheid. Wanneer iemand nie luister nie, dan het hy die gees van dwaling.

Dit verbaas my ook vandag dat soveel mense die vraag vra: wat is die waarheid? Maar hulle gaan sit nie stil en luister na wat Jesus sê nie. Dit klink soos daardie mense in Joh 6 wat Jesus gevolg het as gevolg van die wonderwerke wat Hy gedoen het, maar toe Hy begin onderrig gee, toe sê hulle:

Joh 6:60 …Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?

Daarna het baie omgedraai en weggeloop. En so is dit vandag ook, wanneer ‘n mens begin leer of onderrig gee uit die Woord, stel mense nie belang om te luister nie. En dit is ‘n bewys van hul ongeloof.

Joh 3:21 Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.

Die persoon wat opsoek is na die waarheid, sal sonder twyfel hom bekeer van sy verkeerde weë en Jesus omhels as Verlosser, wanneer hy die waarheid ontdek. Wanneer iemand die waarheid ontdek, sal hy nie valse dinge koester of verskonings maak nie. Fil 1:18 sê, dit is iemand wat homself in die waarheid verbly.

Waar moet ek dan begin? By die Outeur. Joh 1:14 sê, Hy is vol van genade en waarheid. In Joh 14:6 sê Jesus, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Waar begin ons? By wie Jesus is, wat Hy gedoen het en wat Hy gesê het.

WIE IS JESUS?

Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

2 Hy was in die begin by God.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid.

Jesus is God. Hy is die Woord wat by God was. Hy is die Woord wat God was. Hy was van die begin af daar. Hy het vlees geword en onder ons gewoon. Hy is die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol van genade en waarheid. Hy is die waarheid en getuig van die waarheid. Daar is niks valsheid in Hom nie. Hy is volmaak. Hy is die Skepper God, want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge

Hy is die Hoëpriester wat vir ons in die hemelse tabernakel eens en vir altyd ingegaan en die volmaakte offer gebring het, om vir ons ‘n ewige verlossing te bewerk. Hy is die bewerker van ewige saligheid. Hy is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Daar is net een naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word. En Sy naam is Jesus.

WAT HET JESUS GEDOEN?

Hy het in jou en my plek gesterf. Hy het aan die kruis van Golgota Sy lewe gegee as ‘n offer vir jou sondes.

Rom 6:10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.

Jesus het die dood oorwin. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning…Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.

2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Ja, Hy word sonde gemaak, ons word geregtigheid van God in Hom. Wat is sonde? 1 Joh 5:17 sê, alle ongeregtigheid is sonde. Daar is nie so iets soos ‘n groot sonde en ‘n klein sonde nie. Alle ongeregrigheid is sonde. En Rom 6:23 sê, die loon van die sonde is die dood.

Op 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

Luister mooi! Al die leuenaars word saam met die vreesagtiges en die ongelowiges en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars gereken. Al vertel jy net een leuen, kwalifiseer jy vir ‘n leuenaar. Daar is nie verskillende grade van sondes nie. Alle ongeregtigheid is sonde. En nou sê:

1 Joh 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Is hier iemand wat vanoggend kan sê, hy of sy is volmaak en sonder enige sonde? Ok. Paulus erken self in Rom 7:17 dat die sonde in hom woon. Paulus sê, want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.” Paulus erken dat hy nie volmaak en sonder sonde is nie.

Pred 7:20 want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.

Selfs die regverdige mens, die wedergebore kind van God moet erken dat die sonde ook in hom woon, anders is hy mislei. Maar Jesus het gekom, sodat ons nie meer onder die heerskappy van sonde hoef te wees nie, maar dat die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here. Hy het ons vrygemaak van die sonde en ons diensbaar gemaak aan die geregtigheid.

Die mag van sonde in ons lewens is verbreek, maar dit beteken nie dat die wedergebore kind van God sonder sonde is nie.

WAT SÊ JESUS?

Nie wat sê hierdie kerk of wat sê daardie kerk nie. Moenie luister na mense se opinies en teorië nie. Luister na wat Jesus sê! Jesus kom getuig van die waarheid. Hy is die waarheid. Selfs dit wat ek sê moet u aan die Skrif gaan toets om te kyk of dit so is of nie.

Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, HET DIE EWIGE LEWE en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Met ander woorde, hoe ontvang jy die ewige lewe? Hy wat Sy woord hoor, en Hom glo. Hy wat na Sy stem luister. Hy wat na die waarheid luister. Hy wat nie omdraai en wegloop van die waarheid nie. Wanneer jy Hom glo, wanneer jy glo wie Hy is, wat Hy gedoen het en wat Hy gesê het. Jy kan nie in Hom glo, maar nie in die waarheid waarvan Hy getuig, glo nie. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Hy is vol genade en waarheid.

Jes 11:2 en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.

1 Joh 5:20 En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

Hy wat hoor en glo, sê Jesus: HET DIE EWIGE LEWE, maw die ewige lewe is iets wat ek nou alreeds besit. Ek het die ewige lewe. Ek ontvang dit nie as ek eendag sterf nie, ek ontvang dit by wedergeboorte.

Verder sê Jesus in Joh 5:24 dat so iemand kom nie in die oordeel nie. Hoekom nie? Want hy het oorgegaan uit die dood in die lewe. Op grond waarvan kan ek sê: Ek het die ewige lewe? Want Jesus sê so. Jesus sê: as jy Sy woord hoor en Hom glo, het jy die ewige lewe. Daar vind ‘n verandering plaas. Jy het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, NOOIT UITWERP NIE.

Wedergeboorte vind plaas deur geloof. Jy ontvang saligheid deur geloof in Jesus Christus. Rom 6:23 sê die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus onse Here. Jesus sê: As ons na Hom toe kom, maw glo, het ons die ewige lewe, en Hy sal ons NOOIT uitwerp nie. Dan sê v39 ook:

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

Jesus sê dat al wat die Vader Hom gee, sal Hy nooit uitwerp nie (v37) en Hy sal daarvan nie verloor nie (v39).

Joh 10:27-28 My skape luister na My stem, en Ek ken hulle en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal NOOIT VERLORE gaan TOT IN EWIGHEID NIE, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Ons het netnou gesien in Jon 18:37 wat sê: “…Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem.” In Joh 10 sê Hy, “My skape luister na My stem…” Glo jy vanoggend wat Jesus sê? Luister jy vanoggend na Sy stem?

Heb 3:15 …Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.

Jesus sê:

Op 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak (maw glo), sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Verder sê Joh 10, “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal NOOIT verlore gaan tot in ewigheid nie.” As jy wedergebore word, gee Jesus vir jou die ewige lewe en ook die belofte saam met dit, jy sal NOOIT verlore gaan nie. Die wedergebore kind van God sal nooit verlore gaan nie. Nooit beteken Nooit. Die lewe wat Jesus gee is NIE TYDELIK NIE, die lewe wat Jesus gee is ewig. Jesus is die Outeur van ewige saligheid.

As jy jou saligheid kan verloor, was die saligheid wat jy gehad net tydelik en nie ewig nie. Jesus gee ons nie ‘n tydelike saligheid nie, maar ‘n ewige saligheid.

Kom ons som dit op: Jesus sê, as jy glo, het jy die ewige lewe, jy het oorgegaan uit die dood in die lewe. Hy sê: Ek sal jou nooit uitwerp nie. Hy sê: Ek sal hom wat na My toe kom, nie verloor nie. Hy sê: hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Hoekom? Want Jesus is die Outeur van ewige saligheid en Hy sê so.

Kom ons gaan na Joh 3 waar Jesus praat oor wedergeboorte.

Hy sê vir Nikodemus in v1-6 dat as as iemand nie weer gebore word nie, hy die koninkryk van God nie kan sien nie. Nikodemus het Jesus verkeerd verstaan en gedink Hy praat van ‘n natuurlike geboorte. Maar Jesus sê: “as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”

Wedergeboorte is ‘n geestelike geboorte. Dit is wanneer jy as kind van God in ‘n geestelike familie in gebore word. 1 Pet 2:5 sê, ons word soos lewende stene opgebou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom. Ef 2:21-22 sê, die hele gebou word goed saamgevoeg en verrys tot ‘n heilige tempel in die Here. Ons ontvang ‘n goddelike natuur. 2 Pet 1:4 sê, ons het deelgenote geword van die goddelike natuur.

Die vraag is: kan ‘n wedergebore kind van God hierdie posisie of voorreg verloor? Kan ‘n wedergeborene die goddelike natuur verloor? Met ander woorde, kan hy weer on-wedergebore word? Kan ek weer uit die geestelike huis uitgehaal word?

1 Pet 1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Verganklik beteken, dit is iets wat verbygaan. Dit iets tydelik en natuurlik. Onverganklik beteken, dit kan nie verbygaan nie, dit is ewig. Petrus sê ons is wedergebore uit onverganklike saad, maw dit kan nie verbygaan nie. Dit bly tot in alle ewigheid.

Ek wil twee vrae beantwoord waarmee baie mense worstel, dan sluit ek af.

Die eerste vraag is dit: Kan ek my saligheid verloor deur sonde? Die vraag wat ek saam met dit wil vra is: watter sonde moet ek doen en hoeveel sonde moet ek doen?

So bietjie vroeër het almal erken niemand is sonder sonde nie, en die Bybel sê, alle ongeregtigheid is sonde. Daar is nie ‘n verskil tussen ‘n leuenaar en ‘n hoereerder en ‘n towenaar en ‘n afgodedienaar nie. Alle ongeregtigheid is sonde. As ek my saligheid kan verloor deur sonde, dan is ons almal verlore, want ons almal het sonde. Hoeveel sondes het Adam en Eva gedoen om die hele wêreld in sonde te dompel? EEN.

Iemand wat egter sê, hy is gered, maar hy leef ‘n sondige leefstyl, het geloof wat dood is. Dit is eerder ‘n bewys dat hy nooit lewende geloof of ware geloof gehad het nie. Hy was nooit waarlik gered nie. Matt 3:8 sê, dra die vrugte wat by die bekering pas. So iemand het homself nog nooit onderwerp aan Christus se heerskappy nie.

Dit beteken egter nie dat die ware gelowige nie sonde het nie. Die ware gelowige is egter nie meer onder die heerskappy van sonde nie, maar onder die genade wat heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe.

Die tweede vraag: Kan iemand doelbewustelik ‘n keuse maak om sy rug op God te draai.

1 Joh 2:19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie (nie gered); want as hulle van ons was (gered), sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.

Johannes maak ‘n onderskeid tussen hulle en ons. Tussen hulle wat nie gered is nie en ons wat gered is. Hy sê as hulle van ons was, maw as hulle gered was, wedergebore was, sal hulle by ons gebly het en hulle sal nie van ons uitgegaan het nie. Maw ‘n ware wedergebore kind van God sal nooit sy rug op God draai nie. Jesus sê: die wedergebore kind van God sal nooit verlore gaan nie.

Iemand wat sy rug op God draai, nadat hy “gered was”, bewys die teendeel, dat hy nooit gered was nie.

Jud 1:24 Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

2 Tim 1:12 Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge; maar ek skaam my nie, want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe.

1 Pet 1:4, 5 sê dat ons het ‘n ewige erfenis wat in die krag van God bewaar word.

Hierdie nagmaals tafel verkondig die boodskap van ewige saligheid. Jesus het vir eens en veraltyd vir ons die prys van sonde betaal. Luister na hierdie waarheid en glo vanoggend wat Hy sê.

Slot

Die vraag wat jy jouself moet afvra is: is jy waarlik gered? Paulus sê, ondersoek jou geloof en kyk of jy in die geloof is of nie. As jy nie is nie, plaas jou geloof in Jesus Christus en Hy sal jou die ewige lewe gee. Jy kan ook vanoggend sê: Ek is ‘n kind van God en ek het die ewige lewe.

Jesus sê: Jy sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie.

No comments: