Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, July 13, 2009

Spreek in tale - deel 3

Jesus en tale

Die voorbeeld van Jesus gee vir ons ‘n beter verstaan van die DOEL van die gawe van tale. In die Nuwe Testament het Jesus die aankondiging gemaak, “…hierdie tekens volg…met nuwe tale sal hulle spreek.” (Mark 16:17), maar Hy het self nooit in tale gespreek nie. Dit is ‘n probleem vir hulle wat daarop aanspraak maak dat Hy ons voorbeeld is. Hy is gister, vandag en veraltyd dieselfde en ons moet erken dat die stilte is onvermydelik. Hoekom?

Een verduideliking sê, as Jesus nie in tale gespreek het nie, was dit omdat Hy volmaak was en nie nodig gehad het om Homself te stig nie. Die apostel Petrus se reaksie daarop sou wees, “…die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Pet 3:16) Om aanspraak te maak op die afwesigheid van ‘n gawe in die naam van geestelikheid is ‘n swak demonstrasie van misleiding.

Waarom het Jesus daarop aangedring dat Johannes die Doper Hom moet doop met die doop van bekering, as Hy Homself nie hoef te bekeer het nie? Tog het Hy, om alle geregtigheid te vervul en sodat ons kan weet.

‘n Ander verduideliking sê, Jesus het in tale gespreek, maar nie alles wat Hy gesê en gedoen het is in die Skrif opgeskryf nie. (Joh 21:25) Niemand was daar toe Hy alleen in tale gebid het nie. Met hierdie benadering kan ons enige dwaling regverdig met nog nuwe dwalinge deur buite die Woord van God te gaan. Dit is baie gevaarlik.

Verduideliking

Jesus was permanent vervul met die Heilige Gees en Hy het al die gawes gehad behalwe hierdie een en sy verwante gawe, nl uitleg. Hy het dit nie gemis nie. Hy het nie daarvan gepraat nie. Hy het nie dit gesoek nie. Hy het dit ook nie beoefen nie. Hy het dit nooit gebruik in die teenwoordigheid van die dissipels nie.

Waarom het Hy nie die saam met die engele in hul hemelse taal gesing toe Hy hulle sien opklim en neerdaal uit die hemel nie (Joh 1:51)? Waarom het Hy nie hierdie gawe bygevoeg by die ander gawes tot voordeel van Sy bediening nie? Hulle wat dit nodig gehad het om ander tekens te sien, het hulle nie hierdie teken nodig gehad nie?

In 1 Kor 12 kry ons ‘n lys van die nege gawas van die Gees: WYSHEID, KENNIS, GELOOF, GENESING, WERKINGE VAN KRAGTE, PROFESIE, ONDERSKEIDING VAN GEESTE, ALLERHANDE TALE, UITLEG VAN TALE. Jesus het al hierdie gawes gehad en gebruik behalwe die gawe van tale en sy verwante een, uitleg.

Donald Gee bevestig dit deur te sê, "These gifts were not manifested during the earthly ministry of the Lord Jesus"

As Jesus nie hierdie gawe gehad het nie, was dit omdat Hy dit nie nodig gehad het nie, maar HOEKOM? Dit is dan juis die afwesigheid van hierdie gawe wat die algemene lering van die Bybel bevestig op hierdie onderwerp.

Jesus het nooit werklik Palestina verlaat nie. Hy het vir sy dissipels gesê om net na die verlore skape van die huis van Israel te gaan (Matt 10:6). Hy het hulle verbied om na die heidene toe te gaan. Die wêreldwye aspek van Sy lering was nog verborge. Daar was nog geen sprake van “ander volke, tale en nasies” nie. Daar was nog geen aanduiding van ‘n universiële omvang van Sy bediening in die toekoms nie. So ver was daar niks om die Jode jaloers te maak nie.

Om hierdie rede het die gawe van die spreek in tale nog geen nut gehad nie. Jesus het net eenkeer daarna verwys aan die einde van Sy bediening aan Israel (Mark 16:17). Hierdie profesie volg op die vorige vers,

Mark 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

Aan die ganse mensdom, dit is aan elke taal, en dit is inleiding tot die teken van spreek in tale. Die beperking tot Israel is tot ‘n einde. Jesus het egter geweet dat “HIERDIE VOLK” sou alles doen om die Goeie Nuus te keer om buite die grense van Israel verkondig te word aan ander tale. Daarom sou Hy aan hierdie volk, deur Sy dissipels, ‘n gepaste teken gee, een wat Hy self nie hoef te gebruik het nie.

Die stilte van hierdie gawe in Jesus se lewe bevestig die DOEL van die gawe van tale. En dit is wat Petrus en Paulus later sê, dat dit ‘n teken is vir hierdie “ongelowige volk”, dat God, volgens Joël 2, Sy Gees nie net op Israel nie, maar op alle vlees uitgestort het.

No comments: