Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, July 20, 2009

Die Goddelike Waarborg - deel 3

TEKSGEDEELTE: Rom 5:9-11

Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.

10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

11 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.

Tema: Die waarborg van bevryding en blydskap

Inleiding

Die afgelope tyd het ons tyd spandeer in Romeine en dan veral hoofstuk 5, waar die hooftema , die sekuriteit van jou saligheid is. Dit vertel vir ons wat God se beloftes is vir ons. Hy verklaar ons regverdig op grond van ons geloof in Jesus Christus, dit is ‘n geskenk van Hom af. En Hy neem nooit daardie geskenk weer terug nie.

Mense maak beloftes en breek dit. Mense kan nie vertrou word nie. Selfs ons ook wat bely ons is kinders van die Here, stel mense telleur. Ons stel somstyds of baie keer ook God telleur. Dit is deel van die sondige wêreld en die sonde wat in ons woon, soos Paulus daarna verwys in Rom 7. Mense is onbetroubaar.

Maar God is bo dit alles en God is getrou.

Deut 7:9 Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God…In teenstelling met die ongetrouheid van die mens, God bly getrou.

2 Tim 2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.

Hy bly getrou, want dit is wie Hy is. Hy is volmaak en kan nie verander nie. Jes 11:5 sê dat trou die gordel van Sy heupe is.

Psa 36:5 o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.

Dit beteken jy kan nie verby God se getrouheid beweeg nie.

Heb 10:23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;

1 Kor 1:9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.

1 Thes 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

Wat sal Hy doen? Hy sal ons geheel en al onberispelik bewaar tot by die wederkoms van Jesus Christus. Hoekom? Want Hy is getrou.

2 Thes 3:3 Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.

Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;

Dit is die God wat ons dien. Hy is ‘n getroue God wat sal doen wat Hy sê. Hy sal Sy beloftes na kom. Hy sal die werk wat Hy in ons begin het voleindig. Die tema dan van Rom 5 is die gelowige se sekuriteit. Hoekom? Want God is getrou.

Daar is 6 skakels in die ketting wat ons verewig aan God vasbind, en hierdie ketting kan nie verbreek word nie. Die eerste een is, ons het vrede by God. Ons is nie meer God se vyand nie. Ons is nou Sy vriende. Die tweede skakel is, ons leef en staan in genade. Ons is nie meer onder die vloek van die wet nie. Ons is gesement in genade. Ons het toegang gekry tot hierdie genade deur die geloof.

Die derde skakel is, ons het ‘n lewende hoop ontvang. ‘n Hoop op die heerlikheid van God. Deel van jou saligheid ontvang jy ook ‘n belofte. Jesus sê, die heerlikheid wat die Vader vir my gegee het, gee Ek aan julle. Hierdie lewende hoop is die hoop op die ewige erfenis, ‘n erfenis wat nie kan vergaan nie, maar wat in die hemele bewaar word in die krag van God.

Die vierde skakel is die realiteit van liefde, God se liefde wat in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat permanent in ons kom woon het. Ons besit die geskenk van liefde. Ons redding is ‘n daad van liefde. Dit is Sy liefde wat jou gekoop het.

Dit is Sy liefde wat jou geroep het. Dit is Sy liefde wat jou gered het. God demonstreer Sy liefde aan ons deurdat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 1 Kor 13:8 sê, die liefde vergaan nimmermeer.

Ons het permanente vrede, permanente genade, ‘n lewende hoop wat onsterflik is, en ons oneindigende liefde ontvang. Ef 3:17 sê dat ons in die liefde gewortel en gegrond is. V19 sê dit is liefde wat die kennis oortref. Rom 8:35-39 sê, niks sal ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here is nie.

Rom 5 sê dan vir baie duidelik, sonder enige twyfel dat ek en jy as kind van God, ‘n goddelike waarborg het, wat nie gekoop kan word nie en ook nie kan verval nie. Die Heilige Gees in ons, is die onderpand, die waarborg van ons verlossing. En Jesus het gesê dat Hy by ons sal bly tot in alle ewigheid.

Daarom sal ‘n kind van God nooit rustigheid hê en gemaklik voel, wanneer hy sonde doen nie, want die Heilige Gees sal hom gedurig aankla.

God se liefde is anders as die wêreld se liefde. Sy liefde is onvoorwaardelik. Jy kan nie Sy liefde verdien nie. As Hy ons liefgehad het, toe ons nog goddeloos was en Sy vyande was, maar nou dat ons verander is, dat ons ‘n nuwe skepsel is, waarom sou Hy ons minder liefhê. En dit is waar ons dan begin lees het vanaand in v9,

Sover het ons gekyk na 4 skakels wat ons saligheid verseker en dit is ‘n goddelike waarborg. Daar is nog twee skakels. Die vyfde skakel is dan, bevryding of redding en die sesde skakel is blydskap.

5. Bevryding of redding

Kan jy vanaand sê, EK IS VRY? Kan jy sê, God het my siel GERED?

Wanneer ons sê ons is vry of ons is gered, dan is die vraag: Waarvan? Waarvan is ons bevry? Waarvan is ons gered? Die antwoord is eenvoudig: Ons is gered van die toorn van God. Ons is gered van die straf wat sonde bring.

Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.

10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

Hierdie verse is baie belangrik. Hierdie is ‘n ongelooflike belofte aan die gelowige. Dit is dieselfde as,

1 Thes 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.

Dit is God se belofte aan die gelowige. Let op! Hy verlos ons van die toekomstige toorn. Waarvan is ek bevry? Waarvan is ek gered? Van die toekomstige toorn.

1 Thes 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

Dit gaan alles terug na die feit dat God te vrede is met die offer van Christus. God se oordeel oor al ons sondes is klaar afgehandel en daarom is ons gered. Daar is nie ‘n sonde in ons verlede, hede of in die toekoms waarmee God nie alreeds afgehandel het nie. Christus het klaar ons sondestraf gedra. Daarom is ons vry.

Ons is nie net nou gered nie, maar ons is gered van die toekomstige toorn. Ons is gered van die finale oordeel aan die einde. Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die toekomstige oordeel verwys dan hier na die ewige hel. U het sekerlik al gelees van die Wit troon oordeel in Op 20.

Op 20:11 En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.

12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.

13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.

14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.

Dit is die ewige hel waar daar geween en ‘n gekners van tande sal wees. Daar sal net duisternis wees. Daar sal net lyding en smart wees verewig. Ons is daarvan bevry. Ons is daarvan gered.

Wedergebore kinders van God, kan nooit en sal nooit hel toe gaan nie, want hulle is gered van die toekomstige toorn. Jesus sê, hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie. As ‘n geredde weer verlore kan gaan, maw hel toe gaan, was hy nooit waarlik gered in die eerste plek nie.

2 Thes 1:5-9 praat van die regverdige oordeel van God. In v7,8 staan daar, dat Jesus uit die hemel saam met Sy magtige engele in vuur en vlam sal kom en wraak sal uitoefen op die wat God nie ken nie. Hulle straf sal ‘n ewige verderf wees, weg van die aangesig van die Here. Dit is die finale oordeel.

Maar Rom 5:9 sê, Hy het ons gered van die toorn deur Christus. En hoe red Hy ons? In sy bloed. Omdat ons geregverdig is, omdat ons saak reg is met God deur die dood van Sy Seun wat ons sondestraf betaal het, kan ons verseker weet dat ons gered is van die toekomstige oordeel.

Dit is die offer van Christus wat ons aanvaarbaar maak voor God. Ons vrede by God, die genade waarin ons staan, ons lewende hoop op die heerlikheid, die liefde wat in ons harte uitgestort is, ons het bevryding, dit alles is nie gegrond op dit wat ons gedoen het nie, maar op dit wat Christus gedoen het. Onthou, jy kan nie hierdie waarborg koop nie en dit het nie ‘n verval datum nie.

Jy gaan nie eendag die hel mis, omdat jy ‘n goeie lewe geleef het en so sondeloos as moontlik probeer leef het nie, NEE! Jy is alleen gered op grond van die versoeningswerk van Christus. Ons is geregverdig in Sy bloed. En wanneer die Bybel praat van die bloed van Jesus, praat dit nie van die bloed wat een of ander magiese krag besit nie, NEE! Die bloed verwys altyd na die dood van Jesus op die kruis. Die bloed simboliseer die offer van Christus op die kruis.

Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.

Dit is wonderlik om vrede by God te hê. Dit is wonderlik om onbeperkte genade te hê. Dit is wonderlik om ‘n lewende hoop te hê op die heerlikheid van God. Dit is wonderlik om God se oneindigende liefte te hê, maar VEEL MEER as dit, sal ons deur Hom gered word van die toorn. Veel meer as dit alles, is ons vry. En dit is die hoogtepunt. Ons is vry!!

God het niks binne in ons gevind wat goed genoeg was om ons te bevry nie. Daar was niks binne in ons wat ons waardig gemaak het om die ewige lewe te verdien nie. Niks in ons wat saligheid verdien het nie. Moenie jouself mislei nie. Jy mag dalk die getrouste en die grootste Christen wees, jy mag die heiligste op aarde wees, maar moet nooit dink dat jy enigiets by jou saligheid bygevoeg het nie.

Hy het ons gered tot Sy verheerliking, en Hy belowe aan ons bevryding van die ewige oordeel. Paulus verduidelik dit dan so: hy sê,

Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

Dit is belangrik dat ons dit sal verstaan. As Hy dit kon doen deur die dood van Sy Seun, hoeveel te meer kan Hy doen deur Sy lewe? Nou het ons ‘n lewende Hoëpriester wat vir ons voorspraak doen. Dit is ons waarborg.

Ons is versoen met God, deur Sy dood, maar veel meer is ons gered deur Sy lewe. Ons saligheid word bewaar deur Christus wat lewe en ons ewige heerlikheid verseker.

Heb 2:17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.

18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Hy is ons voorspraak. Hy is altyd daar om ons te help, om ons by te staan, om ons te ondersteun, wanneer ons versoek word. Kom ons stel dit eenvoudiger: As Christus in sy dood ons kan red, dan kan ‘n lewende Christus ons gered hou. As ons gered kan word en versoen kan word terwyl ons nog Sy vyande was, kan ons saligheid verseker wees, nou dat ons Sy vriende geword het.

Dit bring ons by die laaste skakel:

6. Blydskap

Hierdie realiteit is die samevatting van alles,

Rom 5:11 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.

Ons het vrede, genade, hoop, liefde en bevvryding en dan blydskap. Ons roem ook in God. U sal onthou die woordjie “roem” is die hoogste vorm van blydskap. Ons verbly ons ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou versoening verkry het.

As daar een ding is, een emosie, een gesindheid, een karaktereienskap, wat die Christen se lewe moet domineer, dan is dit blydskap. As al hierdie dinge waaroor ons gesels het, nie vir jou blydskap bring nie, wat sal? Alhoewel saligheid jou ‘n toekomstige hoop gee, bring dit ook ‘n teenwoordige blydskap met die afwagting op daardie toekoms.

Die feit dat jou plek in die hemel verseker is, moet jou met blydskap vervul. Paulus sê,

Fil 4:4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!

Luister! Dit is sonde om nie blydskap te hê nie. Wat wil jy uit die lewe hê? Meer geluk? Meer gemak? Meer plesier? Meer besittings? Wat is die bron van jou vreugde as hierdie dinge waaroor ons gepraat het, dit nie is nie? Niks kan daarby uitkom nie. Alles is drek in vergelyking daarmee. Alles is hout, hooi en stoppels.

Rom 5:11 En nie alleen dit nie, (nie alleen al hierdie wonderlike dinge nie) maar ons roem (ons verbly ons) ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het (wat ons nie verdien het nie).

Elke Christen behoort blydskap te hê. Blydskap is deel van die vrug van die Gees. Ek praat van ‘n diep gewortelde blydskap wat niemand kan verwyder nie. Ek roem in die Here. Die psalmdigter sê dit so,

Psa 34:2 My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees.

3 Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!

Hab 3:18 nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

Psa 43:4 dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap en U kan loof met die siter, o God, my God!

Daar is niks in onsself om oor te roem nie. Niks in onsself om oor trots te kan wees nie. Ons roem is in Christus Jesus onse Here. Al hierdie dinge het ons gekry, alles as gevolg van Hom. En die einde van dit alles is blydskap.

Ons het ‘n goddelike waarborg. Hy gee ons vrede, Hy gee ons genade, Hy gee ons hoop, Hy gee ons liefde, Hy gee ons verlossing en Hy gee ons volkome blydskap. Dit is goddelike vrede, goddelike genade, goddelike hoop, goddelike liefde, goddelike bevryding en goddelike blydskap. Dit is jou goddelike waarborg.

Is jy dankbaar daarvoor?

No comments: