Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, July 13, 2009

Die Goddelike Waarborg - deel 1

Teksgedeelte: Rom 5:1-2

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;

2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

Tema: ‘n Goddelike waarborg

Inleiding

Julle sal weet. Vandag as ‘n mens iets koop, soos ‘n DVD speller of ‘n Yskas, of ‘n GPS, watookal, dan moet jy seker maak dit het ‘n waarborg. En meeste van die tyd het dit ‘n jaar waarborg, maar daar is sekere winkelgroepe waar jy so bietjie meer betaal dan kry jy ‘n “verlengde waarborg”. En dit is ‘n goeie ding.

Vandag maak hulle die goed dat dit net werk totdat die waarborg verval, dan breek dit. Glo my, ek weet waarvan ek praat. My DVD speller hou gewoonlik net so bietjie langer as ‘n jaar, dan breek dit. Maar ek het geleer om daardie ekstra waarborg uit te neem. Al kos dit nou so bietjie meer geld, oor ‘n lang tydperk spaar jy darem baie.

Die “moral of the story” is, moenie iets koop sonder ‘n waarborg nie.

Ek wil vanaand met u praat oor ‘n Goddelike waarborg. Maar daar is twee belangrike dinge wanneer dit kom by die goddelike waarborg. 1. Jy kan hierdie waarborg nie koop nie, en 2. Hierdie waarborg is nie tydelik nie. Dit het nie ‘n verval datum nie.

Ons het alreeds gesien in Rom 3 en 4 dat geen mens kan sy saligheid verdien nie. God skenk dit aan jou deur Sy genade. Genade is die onverdiende guns van God. Jy kan nie daarvoor werk nie, jy kan ook nie daarvoor betaal nie. Ons het reeds gesien dat ‘n mens word geregverdig deur die geloof, maw jy ontvang die geskenk van geregtigheid deur die geloof.

Om dit eenvoudig te stel: Om kind van God te wees, om in die regte verhouding met God te staan, is absoluut ‘n geskenk van God en ons ontvang hierdie geskenk deur die geloof.

1 Joh 5:1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore…

Jy ontvang wedergeboorte, saligheid, regverdigmaking, vrymaking, verlossing, versoening, die ewige lewe, alles in een oomblik, die oomblik wanneer jy jou geloof in Jesus Christus plaas as jou Verlosser en Saligmaker.

Bo op dit alles, is daar ‘n goddelike waarborg. En onthou, hierdie waarborg kan jy nie koop nie, en hierdie waarborg het nie ‘n verval datum nie. God skenk aan ons die ewige lewe, nie ‘n tydelike lewe nie. En die ewige lewe impliseer, dit is ewig. As ek die ewige lewe kan verloor, was die lewe wat ek ontvang het nie ewig nie.

Maar dank God, Jesus self gee vir ons ‘n goddelike waarborg:

Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Daarom noem Heb 5:9 Jesus, die bewerker van ewige saligheid. En daarom sê 1 Pet 1:4,5 dat ons het ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemele bewaar is vir ons en v5 sê dit word in die krag van God bewaar deur die geloof. God bewaar hierdie erfenis. Ons het ‘n goddelike waarborg.

In Rom 5 gee Paulus dan vir ons 6 belangrike dinge wat die saligheid van die gelowige verseker. 6 waarhede wat die ewige karakter en natuur van saligheid opmaak en dit is die goddelike waarborg.

Hierdie 6 dinge kom saam met saligheid. Dit is 6 komponente wat saligheid beskryf.

1. Vrede by God

2. Staan in genade

3. Hoop op heerlikheid

4. Sekerheid van liefde

5. Versekerde bevryding

6. Blydskap in God.

1. Vrede met God

Die eerste beginsel van die goddelike waarborg is dan: Vrede by God. En dit is waar hoofstuk 5 begin.

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus

Ons het vrede. “Ons het” is die Griekse woord “Echo” wat ‘n teenwoordige besitting is. Ons het, ons besit, ons besit nou vrede…Ons het vrede by God. En hier verwys dit nie na ‘n positiewe gevoel of ‘n psigologiese rustigheid of ‘n gevoel van welstand nie. Dit is glad nie eers ‘n gevoel nie.

Wanneer ONS praat van vrede, dan dink ons in terme van gevoelens. Ek ervaar vrede. Ek ervaar ‘n rus en vrede. Dit is nie waarvan hier gepraat word nie. Hierdie vrede is nie subjektief nie. Hierdie vrede is objektief. Dit gaan oor ‘n verhouding.

Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het daar ‘n verhouding ontstaan tussen God en ons. Die vorige verhouding was een van vyandskap. Jy was eers vyand van God. Maar nou het jy vrede…

Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun…

Dit beteken dat elke mens op hierdie planeet wat nie gered is nie, is ‘n vyand van God en God is sy vyand. Dit gaan nie oor jou gesindheid nie, dit gaan nie oor hoe jy voel nie, dit gaan oor jou verhouding met God. God is die vyand van elke sondaar en elke sondaar is die vyand van God.

En dit is die rede waarom die wêreld die Bybel haat en verwerp. Hulle haat goddelike waarhede. God is die sondaar se vyand en die sondaar is God se vyand. Jesus sê in Joh 8 dat die sondaar is onder die mag van Satan. In v44 sê Hy, “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen…”

Ef 2:2 sê dat die hele wêreld is onder die owerste van die mag van die lug, die gees wat in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.

1 Joh 5:19 Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.

Dit is waaroor dit gaan. Dit is mense wat in vyandskap is met God. En Heb 10:31 sê,

Heb 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Die laaste persoon wie jy wil hê moet teen jou wees, is God. Om dit eenvoudig te stel: jy is nie in God se goeie boekies nie. Jy is dalk nie so kwaad vir God nie, maar Hy is baie kwaad vir sondaars.

Rom 1:18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk

KJV

Psa 7:11 God judgeth the righteous, and God is angry with the wicked every day.

Wat beteken dit dan om vrede by God te hê? Dit beteken jy is nie meer God se vyand nie. Dit beteken God is nie meer jou vyand nie. Hy sal jou nie meer veroordeel nie. Vrede by God is die nuwe toestand tussen God en die gelowige wat vloei uit die versoeningswerk van Jesus Christus.

Toe Jesus op die kruis gesterf het, het Hy al ons sondes in Sy liggaam gedra en God se toorn is daardeur te vrede gestel. Die straf van sonde is betaal. Daar is niks meer om voor te betaal nie. Dit is wat Jesus gesê het, “Dit is volbring.”

Kol 1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis…

Vrede by Hom! Vrede tussen God en die mens! Vrede tussen die sondaar en God! God het nie meer nodig om vir ons kwaad te wees nie. God het nie meer nodig om ons te straf vir ons sondes nie, want dit is klaar gedoen. Die nuwe realiteit is ‘n nuwe vrede. Instede dat ons vyande van God is, is ons vriende van God. Ons is kinders van God.

God se straf wat ons in die ewige hel sou gooi is weggeneem, en is ten volle opgeneem op Christus by die kruis. En dit is wat ons teksgedeelte sê:

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus

Hy is die Een wat versoening bring. Hy is die Een wat vrede bewerk. En Hy is die Een wat vrede belowe.

Joh 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

God offer aan jou vrede. Hierdie is ‘n nuwe status. Wat dan belangrik is om te verstaan is dat hierdie nuwe status die gevolg is van die kruis. Omdat Christus se werk dan volkome is, is hierdie nuwe status ook volkome. Christus se werk hoef nie weer herhaal te word nie en daarom kan die status ook nie verander nie.

Ons het in ‘n nuwe dimensie in beweeg, ‘n nuwe verhouding met God. God se toorn is afgehandel, en ons het vrede by God. Die gevoel van sekerheid en vrede vloei vanuit ‘n objektiewe waarheid wat ‘n onveranderlike realiteit is. Ons is vriende van God.

Psa 37:23 Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg.

24 As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand.

KJV

Psa 37:23 The steps of a good man are ordered by the LORD: and he delighteth in his way.

24 Though he fall, he shall not be utterly cast down: for the LORD upholdeth him with his hand.

Dit is jou nuwe status. Ef 6:15 noem die evangelie, die evangelie van vrede, want dit is wat dit is. Jesus bring vrede tussen ons en God.

Ef 2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

Die rede waarom jy vrede met God het, is omdat God te vrede is met die offer van Jesus Christus. Jy het vrede met God en dit is ‘n permanente toestand. As God nie ten volle te vrede was met die werk van Christus nie, sou ons nie permanente vrede gehad het nie. Maar nou dat God ten volle te vrede is met die offer van Jesus, is daar permanente vrede. Dit is onveranderlik.

2. Staan in genade

Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

KJV

Rom 5:2 By whom also we have access by faith into this grace wherein we stand…

Die eerste beginsel is, ons het vrede met God. Die tweede beginsel: ons staan in genade.

Alles kom deur Christus. Alles kom as gevolg van Christus. Christus is die Middelaar tussen God en die mens. Deur die geloof het ons toegang verkry tot hierdie genade. KJV sê, …we have access by faith into this grace…Ons het toegang. Ons het toegang tot God.

Ef 2:18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.

Ef 3:12 in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.

Deur Christus se dood is daar toegang tot God vir die mens. Die voorhangsel van die tempel het geskeur en nou het ons toegang.

1 Pet 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring…

Christus maak die weg oop, Hy is die weg na God. Hy bring ons in die teenwoordigheid van God. Hierdie woord “toegang” kan ook beteken, “‘n veilige hawe of sekuriteit.”

Matthew Clark se kommentaar sê die volgende:

And this access to God, or introduction to the Divine presence, is to be considered as a lasting privilege. We are not brought to God for the purpose of an interview, but to remain with him; to be his household; and, by faith, to behold his face, and walk in the light of his countenance.

Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan…

Die oomblik wat jy na Jesus Christus toe gekom, het jy toegang verkry tot genade. Nou lewe jy in genade. Nou staan jy binne in genade en is omring met genade. Die Griekse woord is “hestemi”, (to be fixed, to be settled) wat beteken “om te staan”, of “om gegrond te wees”, “om gesetel te wees”. Om dit eenvoudig te stel, julle is in genade in gesement.

Paulus hou van hierdie woord. Hy gebruik dit in 1 Kor 15:1 waar hy sê,

1 Kor 15:1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan (gesettle is)

Dit spreek van ‘n permanente posisie waarin ons staan. Ons staan in genade. Ons is gesement in genade. En as ek dan in genade staan, en my hele lewe is omring met genade, dan is dit mos nie die wet nie. As dit genade is dan is dit mos nie werke nie.

Deur jou saligheid het jy toegang verkry tot genade. Nou lewe jy in genade. Jou saligheid word nie nou behou deur jou werke nie. Jou saligheid is gegrond in die genade waarin jy staan. Genade is die goddelike waarborg.

Wat dan as jy sonde doen?

Rom 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword;

Ons leef in genade. Ons staan in genade. Ons is gesement in genade.

Rom 14:4 Wie is jy wat die huiskneg van 'n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.

Ons het ‘n goddelike waarborg. Hoor die getuienis van Judas,

Jud 1:24 Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig

Hoe doen Hy dit? Hoe sal Hy ons eendag sonder gebrek voor sy heerlikheid stel? Deur genade! Ons sondes kanselleer nie ons saligheid nie, want ons leef in genade. Hy is magtig, Hy het die krag, om ons veilig te bewaar. Ons staan geanker in genade. En dit is God se onverdiende guns waardeer Hy ons red.

Omdat ons vrede by God het, het ons toegang tot God se genade deur dit wat Jesus gedoen het. Ons kan dit nie verdien nie of nog minder kan ons dit behou deur ons werke nie. Dit is uit genade alleen en dit is genade wat vergewe. Ons begin nie met genade en eindig met werke nie. Nee! Ons staan en lewe in genade.

Gal 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Dit beteken nie hulle was in die genade en het toe verval nie. Nee! Die hele argument is dit: Jy kan nie beide hê nie. Jy kan nie genade hê en werke hê nie. Ja! Goeie werke is die vrug van jou bekering, maar dit sal jou nooit red of gered hou nie. Jy staan in die genade en dit is jou waarborg.

As ons ons saligheid moet behou deur ons goeie werke, gaan niemand dit maak nie. Daar is net een waarborg, en dit is genade. Die genade waarin jy staan, dit is die goddelike waarborg.

Dit is Christus wat ons ingebring het en ons daar hou. Deur genade is al ons sondes vergewe…die verlede, die hede en die toekoms. Die wet het hier geen rol wat dit vervul om ons gered te hou nie.

Daarom sê Heb 6:1 dat ons moet nie bly by die prediking aangaande Christus nie en weer die fondament van bekering neerlê nie, maar voortgaan na die volmaaktheid. V4 sê dan, dit is onmoontlik vir ‘n geredde persoon om weer tot bekering te kom (v6), want anders kruisig hy Jesus ‘n tweede keer en maak Hom openlik tot skande. Jy sê in der waarheid, die eerste keer wat Jesus gesterf het, was nie genoeg nie.

Jesus bid in Joh 17 Sy priesterlike gebed en sê,

Joh 17:12 Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.

Hoe word ons bewaar? In God se genade. Daar is geen apelhof wat hierdie uitspraak van God kan verander nie. God het die finale uitspraak gegee, Hy spreek mense vry op meriete van Christus en dit kan nie omgedraai word nie.

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

As God ons nie meer veroordeel nie, wie is die mens om te veroordeel. Daar kan nie nog veroordeling wees nie, want Jesus het die volle prys betaal.

Rom 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge

39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

1 Thes 5:24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

Ons het ‘n goddelike waarborg.

No comments: