Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Wednesday, July 8, 2009

Spreek in tale - deel 2

Tale, ‘n teken vir die ongelowige

Ons het reeds gesien dat tale is nie ‘n boodskap tot mense nie, maar gebed, psalmsing, en danksegging tot God.

1 Kor 14:2 Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God…

Alhoewel hy wat in ‘n taal spreek, tot God spreek, was dit nog steeds ‘n teken. En die vraag is: vir wie is hierdie teken? Sommige meen dat dit ‘n teken is van die doping met die Heilige Gees en dat dit die bewys is dat die gelowige ‘n tweede ervaring van die Christen lewe ontvang het. Hierdie gawe van “tale” is dus ‘n pluspunt vir die gelowige se geestelike lewe. Volgens hierdie benadering is spreek in tale ‘n teken vir die gelowige, maar dit is nie wat die Bybel ons leer nie.

1 Kor 14:22 Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges

Die teenoorgestelde lering is baie duidelik. Die Heilige Gees sê dit is ‘n teken vir die ongelowiges.

Dit lei na ‘n volgende vraag: Wat dan van ‘n persoon wat in die privaat tale gebruik? Vir wie is die spreek in tale ‘n teken? Hoe kan hy die gawe van tale beoefen as ‘n teken vir homself voor God? Dit is soos ‘n evangelis wat ‘n gawe het wat bedoel is vir ongelowiges, maar hy beoefen dit in die privaat, met homself as die gehoor, en mis die doel geheel en al.

Net so is dit met tale. Die doel van tale is nie om gelowiges te bereik nie, maar ongelowiges.

Die identiteit van die ongelowiges

As tale dan ‘n teken is vir ongelowiges, wie is hierdie ongelowiges?

1. Wie is die mense wat teenwoordig is in Jerusalem op Pinksterdag, in Hand 2? ‘n Skare van godvresende Jode van elke nasie onder die hemel. Hierdie Jode kan nie as ateïste beskou word nie. Hul getrouheid en godsdienstige passie het gemaak dat hulle die lang en duur reis na Jerusalem onderneem om die groot fees van Pinkster by te woon. Dit is egter nie op hierdie gebied waar hulle ongeloof is nie.

2. In Hand 8, met die bekering van die Samaritane, is die veronderstelling dat tale ook hier ter sprake was, alhoewel dit nie genoem word nie. Hier is ateïsme of agnostiek ook nie teenwoordig nie. Hierdie mense het geglo in die Here Jesus. Daar moet ‘n ander onderliggende rede wees waarom die teken van tale voorgekom het.

3. In Hand 10 word die eerste heidene gered in Cornelius se huis. Hier kom die teken van tale ook voor, maar wie is die ongelowiges? Petrus was ‘n gelowige.

4. In Hand 11 vertel Petrus aan die apostels in Jerusalem dat tale ook in die huis van Cornelius gespreek is. Dit is duidelik dat die apostels nie ongelowiges was nie.

5. In Hand 19 kry ons sommige Joodse dissipels van Johannes wat hul tot Christus bekeer het, en die teken van tale het ook hier voorgekom. As die tale ‘n teken is vir die ongelowiges, wie was die ongelowiges?

Is 1 Kor 14:22 dan in teenstelling met dit wat in Handelinge gebeur? Nee!

Verduideliking

1 Kor 14:21 gee vir ons die antwoord. “In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek…”

Let op! Elke keer waar die teken van tale voorkom, is dit altyd in die teenwoordigheid van JODE. En waar die Jode nie teenwoordig was nie, soos in Athene of in Malta, vind ons nie die teken nie. Ons moet net uitvind wat hierdie ongeloof is wat algemeen was onder hulle, en dit is nie so moeilik om dit raak te sien nie.

Dit is in die karakter van die teken waar ons sien wat die karakter is van hul ongeloof. Die teken bestaan uit ander tale van ander nasies. Dit was tale wat vreemd was aan Aramees. Die teken het gewys na mense van ander nasies wat nie Jode was nie. Die teken het die Jode se ongeloof aangespreek wanneer dit kom by die saligheid van heidene wat ander tale gespreek het.

Die teken van tale was gepas by die buitengewone gebeure op Pinksterdag: die geboorte van die Kerk waar nie net gelowige Jode nie, maar ook gelowige heidene wat ander tale gepraat het, deel geword het van die Kerk. Die spreek in tale was die proklamasie van hierdie groot waarheid in die vorm van ‘n teken.

Op Pinksterdag het God ‘n nuwe liggaam saamgestel, wat bestaan uit gelowiges uit die Joodse volk en gelowiges uit die heidene wat ander tale gepraat het. Hierdie was ‘n nuwe geestelike identiteit: Die Kerk, die liggaam van Christus.

Kol 3:11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

En dit is presies wat die Jode nie wou glo nie. Hulle was gekant daarteen dat vir die heidene gepreek moes word dat hulle gered kon word. (1 Thes 2:16)

C.I. Scofield sê die volgende oor Ef 3:6, "The divine intention was to make a new entity out of the non-Jews: the Church constituting the body of Christ formed by the baptism of the Holy Spirit that destroys any distinction between Jews and non-Jews..."

Hierdie idee dat hulle nou een gemaak is met heidene was meer as wat die Jode kon verdra. En dit is wat God wou hê hulle moes weet en daarom gee Hy vir “hierdie volk” ‘n teken, naamlik tale. God het op ‘n wonderbaarlike wyse die Jode laat spreek in ander tale van ander nasies. Dit was ‘n teken vir die ongelowige Jode wat nie wou glo dat God ook nou met die heidene deel nie.

Die Jode was teen alles wat nie-Joods was. Kyk vir Jona hoe hy die mense van Ninevé gehaat het tot op die punt waar hy God ongehoorsaam was. Hy hardloop weg na Tarsis, voordat hy verlossing aan hulle verkondig. Vir hom is Jahweh die God van Israel. Hy sterf eerder voordat God ‘n heidense stad verlos.

Hierdie gees van teenkanting vind ons regdeur Israel se geskiedenis. Die Jode behoort aan Jahweh en Jahweh behoort aan hulle. Al die ander mense is vervloek. Hulle kon dit nie aanvaar dat mense met ‘n ander taal as hulle ook dieselfde voordeel by God kon kry nie.

In Luk 4:26-28 sê Jesus dat Elia is net na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee toe gestuur. Verder was nie een van die melaatses in Israel in die tyd van Elísa gereinig nie, maar net Naäman, die Síriër. Die sinagoge was met woede vervul toe hulle dit hoor en wou Jesus by ‘n krans afgooi.

Selfs die Samaritane wat aan die Jode verwand was, het ook hierdie teenkanting ervaar. Op ‘n dag toe Jesus en die dissipels in ‘n Samaritaanse dorp kom en hulle Hom nie wou ontvang nie, het die dissipels gesê,

Luk 9:54 …Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het?

55 Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie;

56 want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, aar te red. En hulle het na 'n ander dorp vertrek.

Die ergste belediging wat jy aan ‘n Jood kon bring, was om hom ‘n Samaritaan te noem. Min het die dissipels geweet dat hulle later sou terugkeer en hulle hande op hulle sou lê.

Deut 32:21 Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat 'n nie-volk is, deur 'n dwase nasie sal Ek hulle terg.

Die oomblik wat God Homself aan die heidene openbaar, word hierdie profesie letterlik vervul. Die Jode was jaloers. Ons sien in Hand 17:5 hoe die Jode se afgunstigheid maak dat hulle ‘n opskudding in Thesalonika veroorsaak.

Hand 13:45 Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.

46 Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie--kyk, ons wend ons tot die heidene.

Toe die Jode hoor wat Paulus en Barnabas sê, “Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (v47), wou hulle Paulus en Barnabas vervolg. In Hand 22 lees ons,

Hand 22:21 En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene.

22 Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so 'n mens, want hy behoort nie te lewe nie!

Die idee dat God met ander volke deel was net te veel vir die Jode om te aanvaar. Die ongelowige apostels het Petrus aangespreek omdat hy die evangelie aan die heidene verkondig (Hand 11:1-3). Selfs Petrus was eers ongelowig in die verband, maar God gee hom ‘n gesig van ‘n groot laken met diere op wat volgens hom onheilig en onrein was. Die Here sê drie keer vir hom, “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.” (v9)

Na die kruis, gee Jesus die opdrag in Matt 28:19, Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies…

1 Joh 2:2 En Hy is 'n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s'n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Natuurlik was dit so! Maar dit was nie so duidelik vir die Jode nie.

‘n Verborgenheid

Paulus verduidelik dat die heidene en die Jode een liggaam vorm en deel in dieselfde beloftes (Ef 3:6). Vandag is dit nie meer vir ons so ‘n verborgenheid nie. Maar vir die Jode was dit ‘n verborgenheid (Ef 3:9), en was die teken van tale nodig om hulle te help verstaan, want hulle vra vir ‘n teken (1 Kor 1:22).

Paulus sê dit so in Titus,

Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn

Hierdie waarheid was egter nie deur die nuwe Jonas van die Nuwe Testament onmiddelik geglo nie. Maar die muur wat skeiding bring tussen beide kante word afgebreek deur die teken van tale aan die ongelowige Jode en Paulus se leringe.

Ef 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.

14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep

16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

Ongelukkig het nie almal Paulus se oortuiging dat, “ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.” (1 Kor 12:13), geglo nie. Hul teenkanting sou hulle blootstel aan die verskriklike doping met vuur. (1 Thes 2:15,16) Dieselfde teken van tale word vir hulle ‘n vuur van toorn. (Matt 3:12)

Die gesig van Petrus

Dit was Petrus, die ongelowige gelowige, wat vir ons die duidelike en belangrike bewyse gee van die tipe ongeloof waarop die teken van tale gemik is. Petrus het nie die omvang van hierdie waarheid “…sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees” besef nie. In Gal 2:11-14 lees ons waar hy homself onttrek het van die heidene juis as gevolg van sy Joodse agtergrond.

God moes sy weerstand afbreek voordat Hy hom kon stuur na Cornelius se huis.

Hand 10:28 en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.

Dit verwys na die gesig wat hy gesien het.

Hand 11:5 Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in 'n verrukking van sinne het ek 'n gesig gesien: 'n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos 'n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom.

6 En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel.

7 En ek hoor 'n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!

8 Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.

9 En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.

Die onrein diere verwys na alles wat nie Joods is nie, maw na al die heidense nasies en tale. Hierdie gesig kon niemand anders as ‘n Jood oortuig nie. Dit was hulle wat hierdie geloof moes aflê, dat heidene onrein is, want God het hulle rein gemaak. Die heidense tale het God as rein geag om deur die Heilige Gees gebruik te word. Die gawe van tale het dan ook dieselfde betekenis as die gesig.

Daarom gee God aan hom ‘n gesig, want hy was nog ongelowig in hierdie veband. Net so het die Jode (wat gered was of wat nog gered sou word) hierdie tekens nodig gehad wat dieselfde ding sê. Die teken van (heidense) tale, soos die gesig van Petrus het die ongelowige Jode geleer dat die saligheid was nou vir alle tale.

‘n Vergelyking

1. Die gesig was aan ‘n gelowige gegee, maar was gerig op Petrus se ongeloof. Net so was spreek in tale beoefen deur gelowiges en het te doen gehad met dieselfde ongeloof.

2. Die gesig was ‘n teken vir die apostels van Christus wat nie geglo het in die saligheid van ander volke en tale nie. Petrus se gesig en die tale in Cornelius se huis het hulle oortuig dat God ook nou met die heidene deel. En hulle reaksie kry ons in Hand 11:18, “En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

3. Die gesig kom herhaaldelik voor en daarna opgeneem in die hemel, maar ons word herinner daaraan elke keer as ons Hand 10 & 11 lees. Net so was die teken van tale net vir ‘n tydperk en die einde van hierdie teken word aangekondig deur die Heilige Gees in 1 Kor 13:8.

4. Die gesig verkodig die universiële dimensie van die nuwe boodskap en so ook die gawe van tale. Dit demonstreer aan die “Israel alleenlik” lering dat die evangelie nou aan elke volk en taal verkondig word.

5. Die gesig kry eers sy volle verduideliking by die bekering van Cornelius. Net so, word spreek in tale eers ten volle begryp in die lig van die bekering van mense van ander tale wat nie-Joods is.

6. Petrus se gesig dien geen doel in ‘n gemeente van gelowiges wat reeds oortuig is dat die offer van saligheid universieël is nie. Dieselfde met tale, dit is nie ‘n teken vir gelowiges nie en dien geen doel anders as wat dit ‘n teken is vir ongelowige Jode nie.

7. Petrus was persoonlik gestig deur die gesig wat hy gehad het, maar in die sin wat dit hom geleer het. Geen ander betekenis kan bygevoeg word of weggeneem word nie. Net so met die spreek in tale; hulle was gestig binne in die betekenis daarvan en niks meer nie. Dit het hulle geleer dat die Heilige Gees uitgestort is op alle vlees, alle mense, alle tale en dat hulle nie iemand onrein moet ag wat God rein gemaak het nie. Geen ander betekenis kan daarby gevoeg word of weggeneem word nie.

8. Die gesig was drie keer herhaal vir Petrus. Nadat die boodskap verstaan is, was dit nie nodig dat dit herhaal word vir die res van sy bediening nie. Net so met die spreek in tale. Spreek in tale kom drie keer voor in Hand 2, 10, 19 en het geduur totdat die Judeo-Christen Kerk dit volkome verstaan het en nie verder as dit nie.

Opsomming

Die doel van die teken van tale word uitgespel in Hand by die Pinkster gebeure, “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees…” en wieookal die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Die doel van tale was om vir die ongelowige Jode te vertel dat die Evangelie ook vir ander volke en tale is. Daarom is tale ‘n teken vir die ongelowiges en nie vir die gelowiges nie. “Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek…”

Waarom het Cornelius in tale gebid?

Die teken van tale in die huis van Cornelius was ‘n bewys dat heidene ook toegang het tot die Kerk en Petrus kan dit as bewyse aan die Joodse apostels oor vertel. Toe die apostels dit hoor (Hand 11:18) het hulle geswyg en gesê dat God ook aan die heidene die bekering tot die lewe skenk. Cornelius dra die teken, maar die teken is vir “hierdie volk”.

No comments: