Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Sunday, August 2, 2009

Die ware wynstok en die lote - deel 3

Teksgedeelte: Joh 15:4, 8-10

Joh 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.

8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.

9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

Tema: Bly in die wynstok

Inleiding

Die vraag wat in my gedagtes opkom wanneer ek hierdie teksgedeelte lees is die vraag wat baie Christene al gepla het meer as enige anders en dit is: wat is belangrik wanneer dit kom by ‘n verhouding met Jesus Christus? En ek is seker dit is iets wat Christene al gevra het wanneer hulle geval het en sonde gedoen het, of wanneer hulle moed verloor het en nie seker was wat hul verbindtenis is met Christus nie.

Dit is ‘n vraag wat die ongelowiges ook vra: waaroor gaan ‘n verhouding met Jesus Christus? Waaroor gaan dit alles? Hoe beskryf ons die eenheid wat die gelowige tussen homself en Christus ervaar?

Ons praat daarvan dat jy Jesus moet ken. Ons praat daarvan om in Christus te wees. Ons praat daarvan om ‘n pad saam met Christus te loop. Ons praat daarvan om Hom lief te hê en Hy wat ons liefhet. Ons sê ons is een met Christus, maar wat behels dit alles? Waaroor gaan ‘n verhouding met Christus?

Ons kan sê dat ‘n verhouding met Jesus Christus is soos twee mense wat lief is vir mekaar, wat mekaar se lewens deel. Ons kan praat van ‘n Vader/seun verhouding waar dit daar gaan oor gee en ontvang, en oor liefde en respek. Ons kan ook sê dat dit soos twee vriende is wat ‘n lewenslange vriendskap het. Of ons kan sê dat dit soos twee broers is wat sekere dinge met mekaar deel en wat vir mekaar opkom en mekaar verdedig.

Maar die beste wyse waarop Jesus ons verhouding met Homself beskryf is hierdie beeld in Joh 15 van die wynstok en die lote. Wanneer ons praat oor die feit dat ons in Christus groei, sien ons dat Jesus dit uitbeeld in hierdie gedeelte. Wanneer ons praat oor die feit dat ons niks in onsself is nie, maar ons krag van van Hom af kom, word dit ook uitgebeeld in die wynstok en die lote.

Wanneer ons praat oor die feit dat ons lewens as gelowiges gevul is met God se energie, Sy krag, Sy bron, word dit ook uitgebeeld in hierdie beeld van die wynstok en die lote. ‘n Loot het geen energie van sy eie nie, maar slegs dit wat hy kry uit die wynstok. Ons praat oor die feit dat ons nie in onsself vrug kan produseer nie, maar dit kom deur Sy krag binne in ons. Dit word uitgebeeld in die beeld van die ware wynstok en die lote.

Jesus gee vir ons ‘n beeld van die verhouding van ‘n gelowige met Hom. Hy sê vir ons ook dat iemand waarskynlik ‘n loot kan wees in die wynstok, soos Judas ook ‘n dissipel was, maar hy is nie gereinig nie (vlg Joh 13:10-11), wat nie genuine is nie, en afgesny word en in die vuur gegooi word.

Laas week het ek dan vir u verduidelik wie die twee groepe lote is. Jesus is die ware wynstok. Die Vader is die landbouer wat omgee en tyd spandeer aan jou, jou skoonmaak, sodat jy meer vrug kan dra. Die lote wat nie vrug dra nie, neem Hy weg en gooi dit in die vuur. En ons het gesien dat die lote wat nie vrug dra nie, is nie gelowiges nie, maar ongereddes. Hulle is die Judas lote.

Ek noem hulle Christmas tree christene. Mooi aan die buitekant met allerhande versierings, maar plastiek aan die binne kant. Hulle is nie eg nie. Hulle is nie real nie.

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat iemand wat gered is, sal vrug dra. ‘n Goeie boom word aan sy goeie vrugte geken. As jy nie vrug dra nie, dan is die geloof wat jy het dood, want geloof sonder werke is dood. Ware geloof produseer egter goeie werke.

Ons moet dus onderskei tussen ware Christene en sogenaamde of nominale christene. Dit is die sogenaamde christene wat lyk asof hulle teruggeval en hul saligheid verloor het, maar hulle was nooit waarlik gered van die begin af nie.

Jesus sê, elke goeie loot, elke goeie boom dra vrug. Jesus sê ons sal die boom ken aan sy vrug wat hy dra. Daar bestaan nie in die Bybel so iets soos ‘n gelowige wat nie vrug dra nie.

Die lote wat wel vrug dra, die ware gelowiges, hulle word skoon gemaak om meer vrug te dra en dit is heiligmaking. Die hemelse Vader spandeer tyd aan Sy kinders, Hy kom met Sy mes, en sny alles af wat verhinder dat jy meer vrug kan dra. Hierdie mes maak somtyds seer, maar Hy weet presies wat Hy doen.

Die Here tugtig die wat Hy liefhet. Die Here tugtig Sy seuns en dogters. Alle dinge werk ten goede mee vir die wat Hom liefhet. Die Woord van God is die mes waarmee die Vader ons skoonmaak.

En nou kom ons by v4,

Joh 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.

BLY IN MY”. Dit is wat Jesus wil hê. Dat ons in Hom sal bly. Jesus kyk na die lote en in Sy gedagtes sien Hy hoe sekere lote aan die wynstok verbind is, sekere mense wat hulleself vereenselwig met Hom. Hulle gaan dalk kerk toe, hulle is deel van ‘n bybelstudie groep. Hulle praat van hulle verhouding met Jesus, maar hulle is nie eg nie. Jesus sê basies vir hulle, “Bly in My”. Maw, word ‘n egte loot. Dit is soos wat die jongmense vandag sê, “GET REAL”.


Hoe weet ek dan of iemand eg is? Maklik…eerstens het ons gesien dat egte lote dra vrug. Maar daar is nog ‘n manier hoe jy kan sê of iemand ‘n egte loot is, en dit is: ‘n ware loot BLY in Christus. ‘n Ware gelowige is iemand wat in Christus bly. Dit is nie iemand wat kom en gaan nie. Dit is nie iemand wat vir die Here kom kuier en dan weer weggaan nie. Dit is iemand wat in Christus BLY.

Die woord “bly” is die Griekse woord meno wat beteken, “to stay (in a given place, state, relation or expectancy): - abide, continue, dwell, endure, be present, remain, stand”. Luister! ‘n Ware loot bly in Christus.

Dit is nie iemand wat die Here dien en dan terugval en daarna weer die Here dien en dan weer terugval en dan weer die Here dien en dan weer terugval nie. ‘n Ware gelowige is iemand wat bly. Dit is ‘n permanente staat.

1 Joh 2:19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.

As iemand waarlik gered is, sal Hy in Christus bly. Jesus sê maw, moenie net in My wees nie, moenie net met My geassosieer word nie, moenie net met My verbind wees nie, maar BLY IN MY. Ware geloof word daardeur bewys dat jy in Hom bly. Dit beteken nie dat jy nou moet bly om jou saligheid te verseker nie, want dan hang jou saligheid van jou af en die Bybel sê ons is nie gered uit ons werke nie, maar dit sê dat as jy waarlik gered is, sal jy in Christus bly.

Jesus gee dan ‘n waarskuwing in v6,

Joh 15:6 As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

Maw as daar een of ander verbindtenis is en daardie persoon verwyder homself, maw hy kies self om nie in Christus te bly nie, word hy uitgewerp. Let op! Hy maak self die keuse. Dit gebeur baie. Daar is baie mense wat lyk asof hulle aan Christus verbind is en dan skielik is hulle weg en ons wonder en vra: wat het gebeur? Die antwoord is eenvoudig: Hulle was nooit eg van die begin af nie. As hulle eg was en ware gelowiges was, sou hulle wat?...in Hom gebly het. Dit is die valse loot, die Judas loot, die vrugtelose Jood, wat nie bly nie.

Om te bly

Wat beteken dit om te bly? En ek wil vir u die basies betekenis gee van wat dit beteken om te bly. Jesus sê vir mense soos Judas, “Moenie so wees nie, get real, BLY IN MY, wys dat jou geloof eg is.” Jesus sê eenvoudig: Kom tot bekering. Become the real deal.

En dit is tragies dat mense hulle met Christus kan vereenselwig, maar hulle is nie ware Christene nie. Net God weet wat binne in elke mens se hart aangaan. Net jy en God weet of jou verhouding met Jesus Christus eg is. Jesus sê,

Joh 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.

Die woord BLY beteken “to stick around”. Dit is nie bly wat jou red nie. Anders plaas dit jou hele saligheid in jou vermoë om uit te hou. Dit is die bly wat ‘n bewys is dat jy waarlik gered is.

Ek hoor so baie hierdie storie van Mnr so en so wat sy hele lewe lank kerk toe gegaan het. Hy het dalk nog sondagskool ook gegee en hy was daar betrokke en het dit vir die kerk gedoen. En skielik is hy weg. Hy sit by die huis en wil niks met die kerk te doen hê nie. Ons sien dit oor en oor gebeur in die bediening.

Die enigste Bybelse verduidelik is dat Mnr so en so het bewys dat hy nooit waarlik gered was nie, want as hy waarlik gered was, sou hy in Christus gebly het. Hy was nooit eg van die begin af nie. As iemand regtig Jesus Christus ken, dan sal hy in Christus bly. Dit is wat Jesus hier in Joh 15 sê.

‘n Valse dissipel sal altyd wegloop een of ander stadium. Dit is soos die saad wat tussen die dorings geval het, maar die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord en hy word onvrugbaar. Hy dra nooit die vrug van bekering nie.

As hy ‘n ware dissipel was van die begin af, sou hy gebly het. Die ware gelowige bly in Christus. En dit klink soos wit en swart. Of jy is in of jy is uit. Daar is geen uitsonderings nie. Jesus maak ‘n duidelike onderskeid. Die ware gelowige bly. ‘n Nie-gelowige sal op een of ander stadium wegval.

Kyk wat sê Paulus hieroor:

Kol 1:21 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen

22 in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;

Paulus sê vir die Kolosense, julle was eers vyande van God, sondaars weg van God, maar Christus het julle met God versoen deur Sy dood. En kyk na v23,

23 as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof…

Sê hy nou dat jy salig moet bly deur aan te hou, deur te volhard? Nee! Hy sê die egtheid van julle saligheid word bewys daardeur dat julle vasbly in die geloof. As jy vasbly in die geloof, die KJV sê, “If ye continue in the faith grounded and settled…” en nie weggaan of afgebring word van die hoop nie. Die bewys van saligheid is wanneer iemand in Christus bly.

Heb 3:6 maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis (wie se huis is ons? Ons is Christus se huis) as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.

Hy sê nie, hou vas aan jou saligheid, moet dit nie verloor nie. Nee! Hy sê, die bewys dat jy waarlik Sy huis is, is dat jy tot die einde toe onwrikbaar vashou. Dat jy tot die einde toe in Christus bly.

Heb 3:14 Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou;

Ware gelowiges begin en eindig hulle lewe in ‘n verhouding met Jesus Christus wat lewendig is.

Heb 10:38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.

39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.

Hy sê, maar by ons, en hy praat van ons gelowiges, by ons gelowiges is daar geen onttrekking tot verderf nie, maw geen ware gelowige sal hom onttrek nie, maar daar is geloof tot behoud van die lewe, maw sy geloof sal hom deurdra tot aan die einde.

As iemand se geloof eg is van die begin af sal dit vandag steeds eg wees en ook tot aan die einde toe hom deurdra. Hy sal bly in Christus. Kom ons vergeet om ons eie verduidelikings te gee, en kyk eerder na wat die Bybel sê.

Joh 15:4 Bly in My, soos Ek in julle…

HOE? Soos Ek in julle…En as ek mag, wil ek in hakkies byvoeg, …bly. Hy sal in ons bly. Bly in My en Ek bly in jou. Kol 1:27 sê, Christus onder julle, die hoop op heerlikheid. KJV sê, Christ in you the hope of glory.

Dit is hoe die verhouding met Christus, die verhouding tussen die ware wynstok en die loot moet wees. Christus bly in ons en ons bly in Hom. Wanneer ons dan deur ware geloof gered is, sal ons altyd in Hom bly en Hy sal altyd in ons bly.

Let op! As jy nie in Christus bly nie, as jou geloof nie eg is nie, dan is Christus ook nie daar nie. Hy bly nie eers daar nie. Hy leef deur die Gees van God in die tempel van ware dissipels. En dit is ‘n permanente, ewige verhouding.

Joh 15:8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.

Wat sê Jesus? My dissipels dra veel vrug. Jesus kyk na die vrugtelose lote wat geheg is aan die wynstok, dan sê Hy vir hulle, wees eg, kom tot ware bekering en begin om vrug te dra. Bly in My. Dra vrug en julle sal my dissipels wees. Die ongelowige dra nie vrug nie.

Joh 15:9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

‘n Ware dissipel kom nie in die liefde van Christus in en verlaat dit dan nie. Hy bly in Sy liefde. Of Jesus nou sê, jy moet vrug dra, jou moet bly in Sy liefde, jy moet in Hom bly, dan sê dit dieselfde ding.

Joh 15:10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

As julle my gebooie bewaar, sal julle?…in my liefde BLY. Jesus sê, bly, dra vrug, bly in My liefde, bewaar my gebooie. Dit sê alles basies dieselfde ding. ‘n Ware dissipel bewaar Jesus Christus se gebooie. ‘n Ware dissipel bly in Sy liefde. ‘n Ware dissipel dra vrug. ‘n Ware dissipel bly in Christus vanaf die dag wat hy wedergebore word tot aan die einde. ‘n Ware dissipel is wat Jesus verlang. En Sy hart is gebreek met Judas. En Hy sê, moenie soos Jodas lote wees nie. Wees eg.

En die einde van v10 stel Jesus Homself as die perfekte voorbeeld van iemand wat bly. Hy sê, “…net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”

Weet jy wat Jesus wil hê? Hy wil hê dat jy dieselfde verhouding met Hom sal hê net soos Hy met Sy Vader het. In Joh 17 bid Hy en sê,

Joh 17:21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U;

Die Vader in Hom en Hy in die Vader. Dink jy ooit dat hierdie verhouding gaan verander? Nooit. En Hy wil hê ons moet op dieselfde manier in Hom bly. Die verhouding sal nooit verander nie.

Jesus pleit by die Jodas lote om in Hom te bly, om vrug te dra, om in Sy liefde te bly, om Sy gebooie te bewaar, want dit sal bewys dat hulle eg is. Dit is hoe ‘n ware gelowiges lyk.

‘n Ware christen sal in Christus bly, en nooit weggaan nie. ‘n Ware christen sal dra vrug. ‘n Ware christen sal in Sy liefde bly. ‘n Ware gelowige sal Sy gebooie bewaar.

Joh 8:31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Hoe weet ek iemand is waarlik sy dissipel? Hy bly in sy woord.

Joh 14:15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

Joh 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Elke ware gelowige het lief en is gehoorsaam. Dit is waaroor die Christen lewe gaan … liefde en gehoorsaamheid. Mense sê Christenskap is so gekompliseerd…doen dit, doen dat…sit…staan…waai jou hande. Nee! Christenskap is liefde en gehoorsaamheid. Gehoorsaam spruit uit liefde.

Slot

Waaroor gaan ‘n verhouding met Jesus Christus? Dit gaan daaroor om in Hom te bly. Dit gaan oor liefde en gehoorsaamheid. Dit is alles die vrug van ware bekering. Dit is wat Jesus vra. Dit is wat Hy wil hê. Jesus soek mense wat eg is, mense wat nie kerkspeel nie, maar mense wat in ‘n lewende verhouding met Hom staan.

2 comments:

Wollie said...

As ek kyk na die vergelykenis van die goeie Samaritaan, dan sê dit vir my, dat ons kan oorval word deur die bose. Dit is nie dat ons nie eg is nie en 'n goeie Samaritaan is nodig om ons weer op te help.
Hoe kan mens in Jesus Christus bly, as Hy nog een dag moet kom?

Rudi Botha said...

Hi Wollie...Goed om van jou te hoor.

Jou opmerking lok baie vrae uit, maar ek gaan probeer bly by die tema van BLY IN MY. Eerstens, Jesus vertel die gelykenis van die barmhartige samaritaan om vir Sy dissipels te wys wie hulle naaste is. Enigiets anders as dit, soos om te bewys dit wat jy voorstel in jou opmerking, is inlegkunde. Maar JA, 'n gelowige kan oorval word deur sonde, dit is nie onmoontlik nie. Dit beteken egter nie dat hy sy saligheid verloor nie, maar God tugtig die wat Hy liefhet (Heb 12). Gaan lees gerus 1 Kor 5 oor Paulus se stryd met die gelowiges in Korinthe en op die ou einde word hulle oorgelewer aan Satan TOT DIE VEDERF VAN DIE VLEES (v5) en nie die GEES NIE. Inteendeel se hy dat die gees word gered in die dag van die Here. (Gal 6:8) Wat jy in die vlees saai, sal jy in die VLEES maai (nie die Gees nie).

Let op! Die loot wat nie vrug dra nie word weggeneem en nie weer herstel nie...Heb 6 se dieselfde dat dit onmoontlik is om twee keer tot bekering te kom.

Jou vraag oor, hoe in mens in Jesus kan bly as Hy nog moet kom, is ek nie seker wat jou bedoeling is met hierdie vraag nie. As jy daardeur bedoel dat Jesus reeds gekom het, dan lok dit 'n totale ander gesprek uit. In kort, Hand 1:11 se Hy sal weer kom, NET SOOS Hy opgevaar het, SIGBAAR EN OP DIE WOLKE. Wel! Dit het nog nie gebeur nie.

As jy wil weet hoe 'n mens in Jesus BLY, dan is dit eenvoudig. Net soos Hy in ons. Net soos Hy ins die Vader en die Vader in Hom. Paulus se in Kol 2:10, ons het die volheid van Hom. Gal 2:20 - Ek leef nie meer nie, maar CHRISTUS LEEF IN MY.

Ek hoef seker nie al die baie tekste te gee wat praat van die GELOWIGE in CHRISTUS nie.

Seengroete