Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Sunday, August 23, 2009

In vennootskap met God

Teksgedeelte: 1 Joh 1:1-3

1 Joh 1:1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe--

2 en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is--

3 wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Tema: In vennootskap met God

Inleiding:

Johannes skryf oor die Woord van die Lewe en hy skryf vanuit sy eie persoonlike ervaring. Hy sê, ek het gehoor, ek het gesien, ek het aanskou, ek het met my eie hande geraak. Hy sê, ek is ‘n ooggetuie. Ons sien dan in sy brief dat hy seker is waarvan hy praat. Hy is uitgesproke. Hy praat met oortuiging. 1 Joh 4:17 in die KJV sê, …that we may have boldness… Wanneer ons dan die waarheid verkondig, doen ons dit met oortuiging en met “boldness”.

En dit is wat die kerk van die Here nodig het, manne en vroue wat nie skaam is vir die waarheid nie. Manne en vroue wat nie hul skaam vir die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag tot redding vir hulle wat glo. Boldness.

Ons sien in v1 dat Johannes sê, hy preek nie ‘n nuwe ding of ‘n nuwe openbaring nie, maar dit wat van die begin af was. Die Woord van die lewe wat geopenbaar is. Hy sê, ek kom vertel julle nie ‘n nuwe ding nie. Ek vertel julle die ou ou storie. Die Woord van die lewe wat van die begin af was. Dit het nie verander nie. God doen nie vandag ‘n nuwe ding nie. Die Woord van die lewe het nie verander nie, dit is ewig.

Hy sê dit dan teenoor die Gnostiese dwalinge in sy tyd wat met nuwe geestelike insigte en nuwe geestelike openbaringe gekom het. Jud 1:3 dat ons moet stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Daar is net een evangelie. Ons moet daarvoor stry. Die Woord van die lewe is ewig.

V2 sê, die lewe is geopenbaar. Die ewige Woord het vlees geword. Joh 1:14 sê, die Woord het vlees geword en onder ons kom woon. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Nou kan ons Hom ken. Openbaring beteken letterlik, om bekend te maak, om sigbaar te maak, dit wat onbekend is. Dit wat verborge is, dit wat onverstaanbaar is, dit wat onbekend is, word geopenbaar, dit word verstaanbaar gemaak, dit word bekend gemaak.

Wat dan van die dinge oor God wat ons nie verstaan nie en wat ons nie kan peil nie.

Deut 29:29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

Ons breek nie ons kop oor die verborge dinge en die dinge wat ons nie kan begryp nie. Maar dit wat God aan ons geopenbaar het, dit wil ons en moet ons verstaan. Sy openbaring wil ons ken. Die Heilige Gees moet ons verligte oë van verstand gee, sodat ons Sy geopenbaarde dinge kan verstaan.

1 Joh 5:20 En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

Kom ons vergeet die verborge dinge en fokus op die geopenbare dinge. God het alles aan ons geopenbaar wat Hy wou hê ons moet weet en verstaan. Buite God se geopenbaarde Woord, is waar God nie wil hê ons moet wees nie. Ons is gebonde aan Sy Woord. Die Woord is ons grense.

Nou sê v3,

3 wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Johannes sê, die rede waarom ons die ewige onveranderlike Woord van die lewe verkondig: sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê, en ons gemeenskap is met die Vader en met die Seun. Wat beteken dit?

Die Woordjie “gemeenskap” is die Griekse woord “koinonia” en beteken “vennootskap”. Johannes sê, ek verkondig aan julle hierdie dinge, sodat julle saam met ons in ‘n vennootskap kan gaan. Sodat julle deelgenote kan word van ons. Die engelse woord is “partnership”. Sodat ons in “partnership” kan gaan. Het jy geweet dat ons is “partners”, ons is vennote?

Verder sê hy, en en ons gemeenskap (ons vennootskap) is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit beteken dat jy het in ‘n vennootskap met God gegaan. Ons is nou Sy “partner”. Maw ons werk saam met Hom. Ons is medewerkers. Ons werk nie teen Hom nie, maar saam met Hom. Daarom sê v6 en v7,

1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

En hier is geen uitsonderings nie.

1 Joh 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

Jakobus sê dit so,

Jak 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.

Jy kan nie sê, jy is in ‘n vennootskap met God, maar jy is ook in ‘n vennootskap met die wêreld nie. ‘n Slaaf kan nie twee Here dien nie. Jy is of deel van die Koninkryk van God of jy is deel van die koninkryk van die duisternis. Jy is nie vandag in vennootskap met God en dan more in vennootskap met die wêreld nie.

Die Koninkryk van God is nie soos ‘n hotel waar jy in en uit “book” soos jy wil nie. Nee! Jy het ‘n deelgenoot van die goddelike natuur.

1 Kor 1:9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.

Dit is ‘n vennootskap. Ons is nou deelgenote met Christus.

1 Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.

Wat gebeur wanneer jy gered word? Jou word onmiddelik in ‘n verhouding geplaas, ‘n ewige vennootskap met God en met Christus. Heb 3:14 sê ons het deelgenote geword van Christus. 2 Pet 1:4 sê ons het deelgenote geword van die goddelike natuur.

Johannes sê, dit is die fondasie. Die ou boodskap wat van die begin af gepreek is aangaande die Woord van die Lewe, Jesus Christus, die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is, dit is die boodskap wat ek preek. Dit is die ware boodskap. Ek was daar. Ek het gehoor, ek het gesien, ek het aanskou, ek het die Woord van die lewe geraak. Ek weet waarvan ek praat. Dit is die boodskap wat ek verkondig, sodat die wat my hoor ook in vennootskap kan gaan, gemeenskap met ons kan hê.

Ons het deelgenote geword van die goddelike natuur. Ons het deel geword aan die lewe van God. Dit is die groot werklikheid. Wanneer jy ‘n Christen word, dan kom die lewe van God in jou in. Watter lewe is dit? Die geestelike lewe. Eers was jy dood. Nou lewe jy.

Voorheen het jy nie God se openbaring verstaan nie, jy het God nie geken nie, jy het nie Sy goddelike waarheid verstaan nie, en met wedergeboorte word jou gees lewend gemaak. Hierdie lewe wat jy ontvang het, dit is die lewe wat van God af kom. Oorvloedige lewe, geestelike lewe, ewige lewe.

Wanneer Johannes dan sê, ons het gemeenskap met mekaar, dan sê hy nie ons het een of ander sosiale interaksie nie. Ek dink nie hy het bedoel hy wil nou vir al die gemeentes in Asië gaan kuier en so bietjie lekker koffie saam drink nie. Ja dit is goed as ons bymekaar uitkom, en as ons saam kan koffie drink en kuier, maar dit is nie wat hy hier sê nie. Hy sê baie meer as dit. Hy sê, ons is deelgenote. Ons is vennote.

Ons is die liggaam van Christus, die Kerk van die Here Jesus Christus.

Ef 2:19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,

20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,

21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here,

22 in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.

Ons is huisgenote. Ons is die gebou van God. Ons is ‘n heilige tempel in die Here. Ons is die woning van God in die Gees. God woon binne Sy kerk. Dit maak ons vennote van mekaar.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

As jy ‘n wedergbore kind van God is, dan is jy deur een Gees gedoop tot een liggaam. Jy het ‘n deelgenoot geword van die goddelike natuur.

Ef 3:6 dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie

Maar ons is dit ook nie net van mekaar nie, maar ook van Christus. Ons dra Sy belange. Sy gedagtes moet ons gedagtes wees. Sy begeertes moet ons begeertes wees. 2 Kor 2:16 sê, ons het die sin van Christus. Die KJV sê, “we have the mind of Christ”. Dis die Griekse woord “nous”, wat beteken, ons het die intellek, die verstand, die gedagtes van Christus. Die verstandhouding van Christus.

Dink soos Christus, praat soos Christus, doen soos Christus. Ons is in vennootskap met God. Hoe voel God oor sonde? Jy moet ook so voel. Hoe voel God oor gebroke stukkende mense? Jy moet ook so voel. Hoe voel God oor verlore mense? Jy moet ook so voel. Hoe voel God oor kinders? En ons het vanoggend ook hierdie waarheid weer besef. Vir God is hulle onsettend belangrik. Jy moet ook so voel.

Here, gee ons gekruisigde hande wat gee. Gekruisigde voete wat loop waar Hy sal loop van myself gestroof. ‘n Hart waarin waarheid kan groei. En trane wat vryelik vloei as wortel diep Sy liefde bloei.

Die vrug van die Gees is die karaktereienskappe van Christus. Sy liefde word my liefde. Sy blydskap word my blydskap. Sy vrede word my vrede. Sy lankmoedigheid word my lankmoedigheid. Sy vriendelikheid word my vriendelikheid. Sy goedheid word my goedheid. Sy getrouheid word my getrouheid. Sy sagmoedigheid word my sagmoedigheid. Sy selfbeheersing word my selfbeheersing.

Ek het ‘n deelgenoot geword van Sy goddelike natuur. Ek is in vennootskap met God. Ek is ‘n vennoot van die Koninkryk van God.


No comments: