Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Tuesday, August 11, 2009

Die Woord van die lewe

Teksgedeelte: 1 Joh 1:1-4

1 Joh 1:1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe--

2 en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is--

3 wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

4 En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Tema: Die Woord van die lewe

En dit is wat Johannes wil verkondig. Die Woord van die lewe. Johannes is al ‘n ou man. Dit is net voordat hy na die eiland van Patmos toe verban is. Hy is die laaste apostel wat nog lewe en tien teen die laaste ooggetuie van die lewe en bediening van Jesus Christus.

Die vroeë kerkvaders, soos Justin Martyr, Irenaeus, Klements van Alexander en Esebeus sê dat hy op daardie stadium die pastoor was van die gemeente in Efese. Maar hy het ook ses ander gemeentes gehad in klein Asië waaroor hy toesig gehou het. En ons sien dan in die eerste hoofstukke van die boek Openbaring waar hy aan die sewe gemeentes in klein Asië skryf.

Johannes se boodskap was nie net positief nie, maar ook negatief. Die inhoud van Sy brief is vol positiewe belydenisse en bevestiginge van die waarheid, maar hy skryf ook baie negatiewe dinge teen die valse leringe.

Die eerste en belangrikste verantwoordelikheid wat ons dan het as dienaars van die Here is om die waarheid te verkondig en dit ook te verdedig, om enigiets wat teen die waarheid is en dit bedreig, vir mense uit te wys.

Die grootste realiteit wat in hierdie wêreld bestaan is goddelike waarheid, die Woord van die lewe. Niks is meer belangrik en meer waardevol as goddelike waarheid nie. Die wêreld het die Woord van die lewe nodig. Die wêreld het goddelike waarheid nodig meer as enigiets anders. Want dit voorsien die ewige lewe.

Nou as goddelike waarheid die grootste realiteit in die wêreld is, dan is die grootste bedreiging in hierdie wêreld enigiets wat in stryd is met die waarheid. Enige idee, enige filosofie, enige teorie of dogma wat teen die waarheid van God opgerig word, is ons grootste bedreiging. Dit is ons vyand.

Jy sien, ons is in ‘n geestelike oorlog gewikkel en hierdie oorlog is ‘n oorlog tussen die waarheid en die leuen. En hierdie oorlog het alreeds in Genesis 3 begin toe Satan vir Eva sê: Is dit ook so dat God gesê het? Satan is die vader van leuens.

God sê so, dan kom die duiwel en sê, maar het God regtig so gesê? Hy plaas altyd God se woorde onder verdenking. Hy plaas twyfel in mense se harte. Ek wil vir jou sê, bly by dit wat God sê. If God said, I believe it, that settles it.

Daarom het elke getroue dienaar van God deur die geskiedenis die verantwoordelikheid gehad om die waarheid te verkondig en dit te verdedig teen valse leringe. Paulus stel dit so,

Kol 1:28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel;

Ons onderig en ons vermaan elke mens in alle wysheid.

2 Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

Die KJV sê v5, “Casting down imaginations (verbeeldings), and every high thing that exalteth itself against the knowledge of God, and bringing into captivity every thought to the obedience of Christ.”

Maw dit is leuens, dit is menslike idees en verbeeldings. Dit is dinge wat teen die waarheid opgewerp is. So die geestelike oorlog is ‘n oorlog vir die waarheid. En die oorlogsveld is jou gedagtes. Daarom sê hy, moet elke gedagte gevange geneem word tot die gehoorsaamheid aan Christus.

Tit 1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.

Dit is ons verantwoordelikheid om die waarheid te verkondig en elke leuen te weerlê. Die Bybel sê ons moet die Woord verkondig, tydig en ontydig. Dit beteken, op die regte tyd en op die verkeerde tyd. Jy preek dit by die huis, jy preek dit by die werk, jy preek dit om die braaivleis vuur, jy preek dit wanneer mense wil luister, en jy preek dit wanneer mense nie wil luister nie. Tydig en ontydig.

En dit is wat Johannes doen. Hy verkondig die goddelike waarheid, die Woord van die lewe, maar ter selfder tyd waasrsku hy teen valse profete en antichriste, bv.

1 Joh 2:18 Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

In hierdie geval verwys hy na die Gnostiese dwalinge. Die gnostisisme het geheers in daardie tyd en ons kry vandag ook, veral in die New Age beweging.

1 Joh 3:7 My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.

1 Joh 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

En ons kan nie naïef wees oor hierdie dinge nie. Orals in die Bybel word ons gewaarsku. En ons sal dom wees as ons die waarskuwinge in die Woord ignoreer en dink dat prediking altyd net positief is. Prediking bestaan uit verkondiging van die waarheid en die verdediging daarvan teen leuens. Die bediening is nie net altyd positief nie, maar ook negatief. As jy lief is vir jou kinders sal jy hulle beskerm en waarsku teen die negatiewe dinge.

Johannes skryf dan om die waarheid te verkondig, die Woord van die lewe en dan dit ook te verdedig teen die valse leringe in sy tyd. En daar was baie. Maar ons tyd sal dit nie toelaat om dit alles te bespreek nie.

Hoor hoe seker is Johannes van sy saak. 1 Joh 2:3 sê hy, hieraan weet ons dat ons Hom ken. Ken jy die Here? In 2:5 sê hy, hieraan weet ons dat ons in Hom is. Weet jy dat jy in Hom is? In 3:19 sê hy, hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is. Hy sê, ons weet ons het die waarheid. 3:24, hieraan weet ons dat Hy in ons bly. 4:13, hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons. 5:2, Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet.

Johannes is nie onseker nie van sy saak nie. Hy weet waarvan hy praat. ‘n Ander woord wat belangrik is en waarna ons moet oplet is die woord wat hy gebruik in,

1 Joh 2:28 En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.

KJV sê, “…we may have confidence”. Ons het volle vertroue.

Die Griekse woord is “parrhesia” en beteken “om uitgesproke te wees”, “om reguit te wees”, “om seker te wees”, “om volle vertroue te hê”.

1 Joh 3:21 …then have we confidence toward God.

1 Joh 4:17 …that we may have boldness…

Ook in 1 Joh 5:14.

Johannes sê, hy het vrymoedigheid, hy het sekerheid, hy weet, hy het confidence, hy het vertroue. Hy is uitgesproke, hy is reguit. Hy is 100% seker. Hy het boldness. Ek wonder hoeveel christene is daarvan vandag wat ook dit kan sê oor hulle geloof?

Waaroor is hy dan so seker? Ek wil drie punte uitlig, daar is nog meer, maar ons sal by hierdie stilstaan.

1. Die Woord van die lewe is ewig

1 Joh 1:1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe--

“Wat van die begin af was…” Sommige kommentare sê dat dit verwys na meer as net van die skepping af, maar eerder van die ewigheid af. Die Woord van die lewe was van die begin af was. Dit was nog altyd daar. Dit is ewig.

Johannes sê, ek verkondig aan julle dit wat van die begin af was. Dit is nie iets nuuts nie. Dit is nie ‘n nuwe openbaring nie. Die Woord van die lewe is ewig en het nie en sal nooit verander nie. Dit is die ou ou storie. Dit is nie ‘n nuwe ding nie.

Hy sê dit teen die agtergrond van die Gnostiese dwaalleringe wat gekom het met nuwe geheime kennis. Johannes sê, Nee! Die boodskap het nie verander nie. En jy sien, as iemand kom met ‘n nuwe openbaring of nuwe insigte, of ‘n nuwe ding, hardloop!

Die Mormone het gesê, ons het ‘n nuwe openbaring. Dit is wat Mary Baker Eddy gesê het met “Science and Health en Key to Scriptures”, wat vandag ‘n groot invloed het op die New Age beweging. Dit is wat Pastoor Russel en Rutherford gesê het met hulle nuwe openbaringe en dat hulle die ware Jehovah getuies is wat ‘n dokument uit die hemel ontvang het, “The Harps of God”. Luister! As enigiemand kom met ‘n nuwe openbaring, dan hardloop jy weg! Dis ‘n leuen.

Johannes sê, dit wat ek julle vertel, was so van die begin af. Judas stel dit so,

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskap-like saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Jy sien die positiewe, ek wil oor ons gemeenskaplik saligheid skrywe en dan die negatiewe, maar ek het die noodsaaklikheid gevoel om julle te vermaan. Hy sê, julle moet kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. En dit is die Nuwe Testament. Dit is die Woord van die lewe. Dit is die evangelie van Jesus Christus. Die ewige Woord van die lewe. Dit is eenmaal oorgelewer. Daar kan niks bygevoeg word nie. Daar kan niks weggeneem word nie. Stry daarvoor.

Jud 1:4 Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.

Wat doen hulle? Hulle verander die genade van onse God. Hulle verander dit in ongebondenheid. Hulle sê, jy is vry om te doen net wat jy wil. Daar is geen grense nie. Jy is nie gebonde nie. Nee! Ons het grense en dit is God se Woord. Vryheid is nie losbandigheid nie. Ons is vry van die straf van sonde, maar het diensbaar geword aan die geregtigheid. Ons is slawe van Christus.

Jy sien hierdie ouens kom en sê, ons het ‘n nuwe openbaring ontvang. Judas sê, stry vir die geloof wat eenmaal aan julle oorgelewer is. Daar is nie nog ‘n openbaring nie. Daar is nie nog ‘n ander dinge wat jy by die Woord van die lewe kan byvoeg nie. Dit was en sal altyd dieselfde bly.

Heb 13:9 Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie…

Nee! Bly by die geloof wat eenmaal oorgelewer is. Bly by die Woord van die lewe. Bly by die evangelie van Christus. Paulus sê,

Gal 1:6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe,

7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.

Christus roep hulle deur Sy genade, maar hulle kies eerder om agter ‘n ander evangelie aan te loop. Daar is geen ander nie. Die Woord van die lewe het nie verander nie. Johannes sê, wat van die begin af was, die Woord van die lewe, die boodskap van die Woord van die lewe, Christus en die evangelie, dis dieselfde boodskap. Dis die boodskap wat die Apostels gebring het, dis die boodskap wat Jesus verkondig het. Daar is nie ‘n ander een nie. Die Woord van die lewe is ewig.

2. Hierdie boodskap is verstaanbaar

Dit is nie misterieus soos met die Gnostisisme nie. Die boodskap is nie onverstaanbaar nie. Dit is nie net sekere ouens wat hierdie hoër vorm van geheime kennis ontdek het nie. Johannes wil hê ons moet weet dat die Woord van die lewe is iets wat ons kan begryp. Dit is verstaanbaar. Dit is rationeel.

1 Joh 1:1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe--

2 en die lewe is geopenbaar (dieselfde gedagte as Joh 1:14 wat sê, die Woord het vlees geword en onder ons kom woon), en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is--

Die Woord van die lewe is geopenbaar. God het mens geword. Die ewige lewe wat by die Vader was is aan ons geopenbaar.

Deut 29:29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

Kyk mooi! Die verborge dinge, dit wat weggesteek is, dit wat bo ons menslike denke is, die dinge wat ons nie kan verstaan nie, dit is vir die Here onse God. Maar die geopenbaarde dinge, dit is vir ons en ons kinders. God is groter as ons menslike gedagtes. Ons kan Hom nie peil nie.

Job 11:7 Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?

Die anwoord is: Nee! Maar hoe sou ons ooit Hom leer ken? Hoe sou ons kinders van God kon wees? Hoe sou ons ooit die Woord van die lewe kon verstaan, as Hy Homself nie aan ons openbaar het nie. Maar dank God, Hy openbaar Homself aan ons, JA, net dit wat nodig is, sodat ons die Woord van die lewe kan verstaan. Sodat ons Hom kan ken. V2 sê, die Woord van die lewe is geopenbaar.

1 Joh 5:20 En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

God kom en gee ons verligte oë van verstand, sodat ons kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is. Die Woord van die lewe is geopenbaar, sodat jy die Waaragtige kan ken.

Die Bybel wil nie hê dat ons onverstandig moet wees nie. Ja daar is baie dinge wat verborge is en wat ons nie verstaan nie, maar die verborge dinge is vir God. God wil egter hê ons moet verstaan wat Sy geopenbaarde wil.

Ef 5:17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.

Tit 3:3 sê, ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, ens. En dan sê v5, maar Hy red ons deur die bad van wedergeboorte. Jy sien dit is die natuurlike mens, die ongelowige mens, wat onverstandig is, wat dinge van die Gees nie aan neem nie. Maar die Woord van die lewe is aan ons geopenbaar sodat ons dit kan verstaan en met ons verstand, met ons hart kan glo.

Johannes sê, ons het dit gehoor, ons het dit gesien met ons eie oë. Hy sê, ons hande het dit aangeraak. Die Woord van die lewe wat geopenbaar is. Ons is ooggetuies.

Jy sien, hy praat nie van een of ander transendentale ervaring, of een of ander mistieke ding, of een of ander geheime kennis nie. Dit is tasbaar. En onthou hy praat teen die Gnostiese dwalinge. Hy sê, ons het hierdie Woord van die lewe ervaar, ons het Hom gehoor, ons het Hom gesien, ons het Hom aanskou, ons het aan Hom geraak.

God het vlees geword en onder ons kom woon. Die waarheid is ‘n werklikheid en Hy was hier. God het mens geword. Moenie dat enigiemand julle iets anders vertel nie. Hy was hier. Die ewige Woord het tyd binne gedring en is geopenbaar. Dit is nie intuïtief nie. Dit is nie misterieus nie. Dit is nie ‘n droom nie. Dit is nie een of ander visie nie. Dit is duidelik verstaanbaar.

Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;

10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Jy moet met jou mond bely en met my hart glo. En julle sal onthou so ruk terug het vir julle gewys dat wanneer die Bybel praat van die hart, praat dit nie van hierdie ding wat bloedpomp nie. Dit praat ook nie van jou emosies nie. Jy glo nie met jou emosies nie. Wanneer die Bybel verwys na die emosies, dan praat dit van die ingewande, jou binneste.

As die Bybel praat van die hart, dan praat hy van jou verstand. Bekering is die Griekse Woord “metanoia” wat beteken “om jou gedagtes te verander”. “to change your mind”. Om anderste te dink. Jy moet met jou mond bely en met jou hart glo. En dit is bekering.

Jy glo met jou hart, maw jou glo met verstand. En dit is hier in jou verstand, in jou gedagtes waar die oorlogsveld is en dit is ‘n stryd tussen die waarheid en die leuen. Maar Johannes sê, En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken.

Die Woord van die lewe ewig, maar dit is ook ‘n boodskap wat ek en jy kan verstaan en begryp wanneer God ons verstand verlig.

Slot

Die Woord van die lewe is geopenbaar. God het mens geword. God het my en jou sondestraf kom dra op die kruis van Golgota. En wanneer jy jou bekeer en jou geloof in Hom plaas, dan word jy ‘n deelgenoot van die ewige lewe. Die ewige lewe wat by die Vader was.

Ek sal volgende keer aangaan, maar ek wil net dit sê. Dat die gemeenskap waarna v3 verwys, is die woord “koinonia” wat beteken “vennootskap”.

1 Joh 1:3 wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Wil jy nie ook ‘n vennoot wees van die Woord van die lewe nie?

No comments: