Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Tuesday, November 17, 2009

Oorwinnig oor sonde (Rom 8:12,13)

Teksgedeelte: Rom 8:12, 13

Rom 8:12 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie;

13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.

Tema: Oorwinning oor sonde

Ons teksgedeelte sê ons is nie meer skuldenaars aan die vlees nie. Dit beteken eenvoudig, ons is nie meer slawe van sonde nie. En dan sê v13 dat ons die werke van die liggaam doodmaak deur die Gees.

Dit is dieselfde soos Gal 5:16 wat sê, wandel deur die Gees en jy sal nie die begeerlikhede van die vlees volbring nie. Wandel deur die Gees. Wat beteken dit? Dit beteken om te doen wat God sê, dan sal jy sonde oorwin.

Ons praat oor ‘n stryd wat ons as gelowiges het. Ons verstaan wie ons is in Christus. Ons is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan, alles het nuut geword. Maar as ons Romeine 7 lees, dan stem ons saam met Paulus dat die sonde nog in ons woon. Die dinge wat ek moet doen, dit doen ek nie, maar die dinge wat ek nie moet doen nie, dit doen ek.

En hierdie stryd duur voort. Dit is ‘n stryd tot aan die einde toe. Maar die Bybel help ons en sê vir ons hoe om sonde te oorwin. God sê vir ons wat ons moet doen. Dit is hoe jy deur die Gees wandel. Om God se wil te doen. Ons teksgedeelte sê, ons is skuldenaars en ons moet die werke van die liggaam doodmaak deur die Gees. Jy kan alleen sonde oorwin, deur die Gees.

Om dit te illustreer wil ek vir u stories uit die Ou Testament gebruik wat ek dink gepas is by ons teksgedeelte. Julle ken vir Samuel…

1 Sam 15:1 Toe sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE.

2 So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.

3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.

Sjoe, dis erg. Daar mag niks oorbly nie. Hulle moet alles vernietig. God se opdrag is baie duidelik. Geen uitsonderings nie, geen gevangenisse nie, niemand mag oorleef nie. En ‘n mens mag dalk die vraag vra: Waarom sou ‘n liefdevolle God so iets verwag? Wel, hulle almal gaan tog verlore. In ‘n sekere sin gaan alle sondaars ook sterf. En God sê, hierdie klomp gaan sterf as Saul getrou is aan Sy wil.

Die Amalekiete was nog altyd Israel se vyand. Dit is dieselfde stam wat Israel aangeval het by Rafidim kort na die uittog. En dit is wat v2 sê. Dit is die oorlog waar Aaron en Hur Moses se arms ondersteun het (Eks 17). Maar die Amalekiete het ‘n slegte een op die Israeliete getrek. Hulle val Israel van agter af.

Deu 25:17 Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het,

18 hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.

Die Amalekiete was ‘n klomp lafaards. Hulle was een van die sterkste en vreeslikste groepe gewees. God het toe Israel die volgende dag uit hulle hande verlos en hulle het gevlug. Daarna sê God vir Moses in,

Eks 17:14 Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as 'n aandenking in 'n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg.

Hierdie vernietiging het toe deel gevorm van die wet (Deut 25:17-19). In Num 24 is dit geprofeteer. Hulle was vir Israel ‘n groot probleem. Hulle het Israel en die God van Israel gehaat.

Dit is om hierdie rede dat God vir Saul roep om die vernietiging van die Amalekiete uit te voer. Die tyd het aangebreek. Genoeg is gesê, dit is tyd om op te tree. Saul en sy weermag sou dan Eks 17:14 moes uitvoer.

Samuel salf toe vir Saul as koning en sê, doen dit wat die Here vir jou vra. Saul het toe in oorlog gegaan.

1 Sam 15:5 En toe Saul by die stad van Amalek aankom en in die dal 'n hinderlaag opstel,

1 Sam 15:7 En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê.

God gee hom die oorwinning. Let op! Hy oorwin die Amalekiete. Maar hy neem Agag gevangenis, die koning van die Amalekiete. En hy hou die beste van die kleinvee en die beeste, die lammers en alles wat van waarde was. Het Saul dan gedoen wat God vir hom gesê het om te doen? Nee. Sy gierigheid het hom gemotiveer.

Hoekom sou hy dit doen? Hoekom sou hy nie Agag doodmaak nie. Dalk wou hy hom gebruik as ‘n trofee, om in die publiek hom te verneder, om te wys hoe groot en sterk hy is. Hy was gemotiveer deur sy trots. Hy wou van Agag ‘n bespotting maak.

Maar sy ongehoorsaam het gemaak dat God hom onmiddelik as koning verwerp.

1 Sam 15:23 Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

KJV

1 Sam 15:23 For rebellion is as the sin of witchcraft, and stubbornness is as iniquity and idolatry.

Dit was die einde. Saul word verwerp as koning. In v32 kom Samuel en sê,

1 Sam 15:32 …Bring Agag, die koning van Amalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk.

Agag sê, jy hoef nie bang te wees vir die dood nie. Maar Samuel sê,

1 Sam 15:33 …Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die HERE in Gilgal.

Sjoe, dit klink soos ‘n riller fliek. Hy kap hom in stukke. Dit klink wreed. Maar dit is wat God beveel het. Dalk nou nie op daardie manier nie, maar Samuel maak ‘n verklaring. Dit is wat Saul veronderstel was om te doen. Dit het Saul se koningskap gekos.

Anders as Saul en die res van die klomp Israeliete het Samuel God se opdrag uitgevoer. Die oorlog wat veronderstel was om al die Amalekiete uit te delg, het nie geslaag nie.

Teen die tyd wat Samuel vir Agag in die hande gekry het, was daar nog ander Amalekiete. ‘n Paar jaar later het hulle weer gegroei en ‘n groot stam geword. Hulle kom weer na vore in Dawid se tyd. Kyk in 1 Sam 30:1 wat gebeur,

1 Sam 30:1 En toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete 'n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand.

2 En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan.

3 Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer.

Hier is die Amalekiete al weer en kyk wat doen hulle. Hulle het selfs Dawid se twee vrouens gevangene geneem. In v17 sien ons hoe Dawid hulle dan verslaan, behalwe 400 jongmanne wat weg kom en vlug. Dawid oorwin hulle, maar nie almal nie.

500 jaar later kom ‘n koning met die naam van Haman. Hy was van die nageslag van Agag. Ons sien hom in die boek van Ester. Hy smee ‘n komplot teen die Jode. Die arme Jode. Die Amalekiete het hulle darem maar opdraande gegee. Weet jy hoekom? Want die Amalekiete was nie almal doodgemaak soos wat God vir Saul gesê het om doen nie. Daarom het hulle probleem nie opgehou nie, en oor en oor weer terug gekom.

Dit alles, is vir ons ‘n ongelooflike voorbeeld van hoe sonde is in ‘n gelowige se lewe. ‘n Mens kan nie met sonde ligtelik werk nie. Sonde moet uitgedelg word. Dit moet doodgemaak word. Dit moet in stukke gekap word, soos Samuel Agag in stukke gekap het. Dit moet vernietig word. Anders gaan dit herleef en terugkom en jou hart beroof en oor en oor en oor jou geestelike krag dreineer.

Jy kan nie genadig wees met Agag nie anders gaan dit meer word en terugkom en jou verteer.

Ons teksgedeelte in Rom 8 sê dat ons deur die Gees die werke van die liggaam moet doodmaak. Ek glo dat God wil hê ons moet met sonde afreken soos wat God vir Saul gevra het om met Amalek af te reken. Jy moet met sonde werk soos wat Samuel met Agag te werk gegaan het. Jy moet met sonde afreken soos God met Haman afgereken het, waar hy op die einde op sy eie galg opgehang het.

As ons in ‘n stryd is met sonde, dan is ons in ‘n stryd wat baie ernstig opgeneem moet word.

Kom ons gaan na Rom 8:12,13.

Rom 8:12 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie;

Is nie meer skuldenaars aan die vlees om na die vlees te lewe nie. Ons is nie meer onder die verpligting, die verantwoordelikheid van die vlees nie. Ons hoef nie meer volgens die vlees te lewe nie. Ons kan nou volgens die Gees lewe. Ons is nuwe skepsels. Ons is nie meer onder die heerskappy van sonde nie.

13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.

Gelowiges moet met geweld die werke van die liggaam doodmaak. Dit beteken eenvoudig, dat sonde is iets wat gaan terugkom. Dit is soos die Amalekiete. Dit het ‘n manier om te herleef en te vermeerder en jou weer onverwags onkant te vang op jou swak plekke.

Volgens Rom 6 het ons oorwinning oor sonde. En tog in hooftuk 7, het ons ‘n voortdurende stryd met sonde. En nou in hoofstuk 8 sê dit ons moet sonde ernstig opneem en dit doodmaak.

Die kenmerkende optrede van iemand wat gered is en wat oorwin oor sonde en wat ‘n nuwe skepping is in Christus, is dat hy voortdurend die werke van die liggaam doodmaak. Dit is soos onkruid. Soos daai bossies in jou tuin. As jy dit los, dan het jy later net groter probleme.

KJV

Rom 8:13 For if ye live after the flesh, ye shall die: but if ye through the Spirit do mortify the deeds of the body, ye shall live.

“Mortify” is die woord “thanatoou” wat beteken, “to put to death, to destroy, to kill”. Om dood te maak. Paulus sê, die karakter van ‘n ware gelowige, is om sonde dood te maak. Die ware gelowige is nie soos Saul nie. Die ware gelowige pamperlang en vertroetel nie sonde nie. Hy hou nie Agag aan die lewe nie. Hy kap dit in stukke.

‘n Ware gelowige weet dat hy nie die vlees kan vertroetel en oppas nie. En wanneer ons hier praat van die vlees, praat ons van die sondige natuur. Sonde is nie jou vriend nie, dit is jou vyand. Jy moet nie sonde probeer bestuur nie, maar jy moet dit doodmaak. Daar is geen ander weg nie. Hoor hoe stel Jesus dit,

Mat 18:8 En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word.

9 En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.

Dit is hoe dramaties jy met sonde moet werk. Jesus probeer nie hier sê, jy moet jou liggaam ampiteer nie. Al wat Hy hier probeer sê is, jy moet sonde doodmaak.

Ons leer in Romeine 7 dat wanneer jy ‘n gelowige word, sonde nie gaan ophou om jou te pla nie. Inteendeel gaan jy uitvind dat jy nou in konflik daarmee lewe. Voordat jy gered was, het dit jou dalk nie so gepla nie. Nou sal dit jou pla. Sonde het jou vyand geword.

Paulus sê dan vir ons hoe ons met sonde moet afreken. Deur die Gees moet jy die werke van die liggaam doodmaak.

Luister! Sonde is nie doodgemaak wanneer jy dit net bedek nie. Of wanneer jy dit net vir iemand anders wegsteek nie. Jy kan Agag in die kas wegsteek, maar hy is nog steeds daar. Ons het laas week gesien in Spr 28:13 dat hy wat sy sonde bedek, sal nie voorspoedig wees nie.

Daardie sondes wat jy dalk wegsteek vir jou vrou of jou kinders of vir die mense by die kerk.

Pasop! Hier kom pastoor, steek weg die as bakkies. Hulle is daar en hulle lewe en hulle gaan terugkom en jou lewe verwoes. Nee! Die werke van die liggaam is nie doodgemaak as dit net bedek is nie.

Nog ‘n gedagte. Sonde word nie doodgemaak, wanneer jy dit internaliseer nie. Kom ek verduidelik. As iemand sê, wel, ek doen nie meer hierdie sonde nie, maar in sy gedagtes dink hy die heeltyd oor die plesier daarvan, dan is dit nie dood nie. Jy het jou sonde eenvoudig uit die openbaar verskuif na jou private wêreld. Jy het dit geinternaliseer. Jou sonde is nog in jou gedagte wêreld.

Jesus sê, as jy net jou broer haat, dan het jy alreeds moord gepleeg in jou hart. Jesus sê, as jy in jou hart begeer, dan het jy egbreek gepleeg. Sonde word nie doodgemaak wanneer jy ophou om dit te doen en dit net internaliseer nie.

Nog ‘n gedagte. Sonde word nie doodgemaak wanneer jy dit opgee vir ‘n ander sonde nie. Daar is baie mense wat dink, wel, ek doen nie meer dit nie, maar hulle het dit vervang met iets anders. Wat help dit as jy die begeerlikheid van die vlees vervang met die begeerlikheid van die oë. Dit het net van vorm verander.

Sonde word nie doodgemaak totdat jou gewete tot ruste kom nie. Hier is ons doel:

1 Tim 1:5 Maar die doel van die gebod is liefde uit 'n rein hart en 'n goeie gewete en 'n ongeveinsde geloof

Solank as wat jou gewete jou aankla, solank as wat jou gewete uitskroep oor sonde, het jy nie met sonde afgereken soos wat jy moet nie.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

16 met behoud van 'n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.

Wanneer jy ‘n kopseer het, of iewers ‘n pyn het, dan sê jou liggaam vir jou daar is ‘n onderliggende probleem. Ons behandel die simtoom en drink ‘n pynpil, maar die probleem is nog daar. Net so is skuldgevoel en ‘n gewete wat jou aankla besig om vir jou te sê, jy het ‘n geestelike probleem. Moenie van jou gewete probeer ontslae raak nie, raak ontslae van die sonde.

Wat moet jy doen? Ruk dit uit, maak dit dood, haat dit vir wat dit aan jou doen. Vernietig dit. Jy moet met sonde afreken soos wat Saul veronderstel was om met Amalek te doen. Maak soos Samuel, kap dit in stukke.

1 Pet 2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;

Ons weet alreeds dat die vleeslike begeertes stryd voer teen ons siel. Ons weet ons is in ‘n stryd. Ons het ‘n nuwe lewe in Christus, maar ons het ook nog ‘n sondige natuur. Daar is ‘n geveg tussen die vlees en die gees. En kyk hoe eenvoudig sê Petrus, wat moet ons doen: Hy sê, onthou julle van vleeslike begeertes…KJV sê, abstain from fleshly lusts, which war against the soul. Maw, hy sê baie eenvoudig, HOU OP! STOP DIT!

1 Kor 6:18 Vlug vir die hoerery….

Vlug…hardloop weg. Hoe maak ek die vleeslike begeertes dood?…VLUG daarvoor! En Petrus gee nie net raad nie, hy sê: Geliefdes, ek vermaan julle…dit is ‘n opdrag! Jy kan dit ook net doen, as jy volgens Rom 6:12 nie meer onder die heerskappy van sonde is nie. Kom ek lees dit:

Rom 6:12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.

In eenvoudige boere Afrikaans. STOP DIT. Hou eenvoudig net op. Hardloop weg daarvan.

Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!

Dit is die tipe opdragte wat die Bybel vir ons gee.

Hier is ‘n positiewe opdrag in Rom 13.

Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Dit sê eenvoudig, word soos Jesus Christus. Maak geen voorsorg vir die vlees nie. Onthou julle daarvan, maak geen voorsorg nie. Moenie plek maak daarvoor nie. Vlug daarvoor.

Slot

Hier is ‘n tip: As jy nie wil val nie, moenie loop waar dit glad is nie.

No comments: