Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Tuesday, November 17, 2009

Die einde van die werêld (deel 1)

Teksgedeelte: 2 Pet 3:1-7

2 Pet 3:1 Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek,

2 sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.

3 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel

4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,

6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

Tema: Die einde van die wêreld

Ons het al so baie gehoor oor die einde van die wêreld. Daar was in elke eeu soveel profete gewees wat die einde voorspel het. Julle onthou Y2K. Hoeveel ouens het gesê, dit is nou die einde van die wêreld? Nou ek wil nie vanaand in daardie gat trap nie, want Jesus het gesê niemand weet nie. Maar al wat ek wel vir u kan sê is, ek weet dit is naby.

As ons kyk na die tekens van die tye en die waarskuwings wat Jesus vir ons gegee het, dan weet ek ons moet elke oomblik gereed wees, want die basuine kan enige oomblik blaas. Sy koms is beslis oppad, en baie vinniger as wat ek en jy dink.

Nou, ons kry die begin van die Skepping en dan kry ons die einde van die Skepping. Ons kry die boodskap van die begin en dan kry ons die boodskap van die einde. Hoe dit alles begin het en hoe dit alles sal eindig.

Net God alleen weet dan hoe alles begin het, want Hy alleen was daar toe Hy dit geskep het. Net God alleen weet hoe alles gaan eindig, want net Hy ken die toekoms. Hy ken ook dan nie net die toekoms nie, maar Hy bepaal die toekoms, soos wat Hy die verlede bepaal het en net soos wat Hy die teenwoordige bepaal.

Maw as ons die oorspring, die begin van alle dinge wil verstaan en dan ook die einde, die samevatting van alles, moet ons na Sy openbaring toe gaan wat Hy vir ons gegee het. Alles wat ons weet van die skepping is dit wat God vir ons vertel het en alles wat rondom die einde gaan gebeur, is dit wat God vir ons gesê.

Daar is baie skrifgedeeltes wat verwys na die vernietiging van die heelal waarin ons leef, maar daar is een wat meer in detail is en vanaand gelees in 2 Petrus 3.

Die Gees van God inspireër Petrus om vir ons te sê hoe alles gaan eindig. Om so bietjie agtergrond te gee, is Petrus besig om ons te waarsku teen valse leraars. Daarvan kan ons gaan lees in hoofstuk 2. Petrus sê, hulle gaan kom en dit is hoe hulle gaan wees.

Dan kom ons in hoofstuk 3, en verduidelik Petrus vir ons hoe hierdie valse leraars ons gaan aanval. Hulle gaan byvoorbeeld die bybelse waarhede, dat die heelal tot ‘n einde gaan kom met die koms van Jesus Christus, gaan hulle aanval.

Dit is duidelik dat die skepping in bestaan gekom het deur die Woord van God. En God het gesê, laat daar lig wees. En dit is ook baie duidelik wanneer ons die by die einde kom, die einde ook sal kom deur die Woord van die God.

Maar Petrus weet dat daar is valse leraars wat nie wil glo in ‘n finale oordeel nie. Jy sien, God is heilig en daarom haat Hy sonde en straf Hy sondaars. En mense hou nie daarvan nie. Mense hou van hulle sondes, maar hulle hou nie van die idee van ‘n God wat oordeel nie.

Petrus begin dan met die spotters en hulle wat nie glo in die wederkoms van Christus nie, wanneer Hy kom om die heelal te oordeel. Kyk dan wat is die argumente wat die spotters gebruik. Hulle sê, die wêreld gaan maar aan soos dit nog altyd aangegaan het. Hulle sê dat daar nie ‘n oordeel of verwoesting kom nie.

2 Pet 3:3 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel

4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

Dit is hoe hulle argumenteer. Nou ons noem hierdie tipe argument ‘n ad hominem en beteken dat hulle eerder die persoon aanval as wat hulle die spesifieke saak aanspreek op ‘n redelike wyse. Hulle argumenteer deur die persoon te spot, of te intimideer. Dit is ‘n emotionele argument en nie ‘n rationele argument nie. Hulle speel op mense se onvervulde hoop en op hulle overvulde verwagtinge. Maw hulle speel op mense se gevoelens.

V3 sê dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom. Baie in die vroeë kerk het die Here spoedig verwag. Die apostels het geglo dat Jesus in hulle tyd sal kom. Paulus verwys na homself, wanneer hy sê dat ons wat in die lewe oorbly sal saam met hulle weggevoer word, die Here tegemoed in die lig. Hulle het die Here se koms verwag in hulle eie leeftyd.

Jesus het vir hulle gesê, “…Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie.” Petrus het wel geweet dat Jesus nie sal kom voordat hy sterf nie, want in Joh 21 sê Jesus vir hom dat hy gearresteer gaan word en doodgemaak sal word. So hy het geweet dat hy nie sal lewe wanneer Jesus terug kom nie.

Maar meeste Christene het hierdie verwagting gehad. Hulle het gewag vir die oomblik, die oogwink, die basuin wat sal blaas. Hulle het dit alles spoedig verwag. Maar intussen tyd het sommige begin sterf. Sommige het gesterf as martelare, sommige het gesterf as gevolg van siektes, ens.

Dan sê Paulus in 1 Thes 4:13, Moenie onkundig wees oor die wat gesterf het nie. Hulle sal eerste opstaan en dan sal ons wat lewe saam met hulle weggevoer word die Here tegemoed in die lug. Hulle gaan nie die wegraping mis nie. Hulle gaan nie die Koninkryk mis nie. Hulle gaan nie die toekomstige heerlikheid mis nie.

Maar toe Jesus nie kom nie en die jare verbystap, was die gelowiges onder geweldige druk, en met al die telleustellings van swaarkry in die lewe, het hulle ‘n maklik teiken geword vir die valse leraars.

Hier kom hulle dan en sê, “Waar is hierdie Jesus waarvoor julle so wag?” En vandag is ons nog 2000 jaar verder. Petrus sê dan, julle moet weet hoe hierdie spotters te werk gaan. Hulle val gelowiges aan waar hulle kwesbaar is. En daarom is hulle vandag ook baie effektief, want ons leef in ‘n tyd waarin selfs Christene nie meer belang stel in die wederkoms van Jesus Christus nie.

V3 sê dan verder dat, “…aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.”


Hoekom val hulle dan Christene aan en spot hulle? Want hulle wandel volgens hulle eie begeerlikhede. KJV sê, “…walking after their own lusts”. Die Griekse woord hier is “epithumia”, wat beteken, bose begeertes. Wat is dit wat hulle motiveer? Is dit hulle geleerdheid? Nee. Is dit omdat hulle geldige redes het om die wederkoms te bevraagteken? Nee. Jy sien, dit wat hulle motiveer is hulle bose begeertes.

Hoofstuk 2:2 sê, hulle volg hulle verderflikheid na, v10 sê, hulle loop agter die vlees in vuile begeerlikheid. V12 sê hulle is soos redelose diere wat die natuur volg, ens.

So hier het jy dit. Dit is die hoofrede waarom hulle spot en sê daar is nie ‘n wederkoms nie, nie omdat hulle verskil wanneer dit kom by die Skrif op ‘n intellektuele vlak nie. Nee! Hulle verwerp die wederkoms, want hulle wil dit nie glo nie. Dit pas nie hulle sondige bose leweswyse nie.

Hulle wil nie rekenskap gee nie. Hulle soek nie ‘n regter wat hulle oordeel nie. Hulle wil nie dink aan ‘n God wat Sy wraak gaan uitoefen nie. Bybelse eskatologie, Bybelse eindtyd pas net nie in, in hulle leefstyl nie.

Daarom is dit nie snaaks dat mense nie meer in ‘n Skepper glo nie, maar verkies om in die evolusie te glo. Want as God alles gemaak het, dan beteken dit dat Hy alles besit en as Hy alles besit, maak Hy die reëls en moet ons doen wat Hy sê. Ons moet dan aan Hom rekenskap gee.

‘n Evolusionis met die naam van Aldous Huxley, ‘n ateïs, het die volgende gesê, “…We objected to the morality because it interfered with our sexual freedom,”

Moenie dink dat filosowe so slim en intellektueel is nie. Hulle word gedryf deur hulle begeertes. Dit is hoekom daar ateïste is. Dit is hoekom mense glo in die evolusie of liberale teologie. Die Bybel meng in met hulle sondige lewenswyse en die vryheid wat hulle wil hê.

Hulle verwerp God, want hulle soek nie ‘n God wat hulle gaan oordeel oor hulle sondes nie. Hulle wil vry wees om te doen net wat hulle wil sonder enige skuldgevoelens. Dit is hulle motief.

So Petrus sê, “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.”

Dan kom hulle en sê in v4

4 …Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

Die spotters kom en sê, Waar is Hy? Hy’s nie hier nie. Meeste gelowiges in daardie tyd het geglo dat Hy sal kom in hulle leeftyd. Hy het nie gekom nie. En tot vandag toe het Hy nog nie gekom nie. O, en die valse leraars hou daarvan om hierop te kapitaliseer. (Hulle vra:) Hoe kan julle vandag nog in die wederkoms glo? Kan julle nie sien dat alles maar nog net so is, soos wat dit van die begin af was nie. Waar is hierdie belofte van sy wederkoms?

Vandat die vaders ontslaap, en dit verwys na die mense heel in die begin, het niks verander nie. Jy sien die duiwel wil nie hê dat mense moet glo dat daar iets katastrofies gaan gebeur in die toekoms nie. Alles gaan maar nog net aan soos altyd en sal altyd so aangaan.

Kyk hoe dom redeneer hulle: Dit is soos om te sê, “Ek het nog nooit doodgegaan nie, so ek sal nooit doodgaan nie.” “Ek het nog nooit siek geword nie, so ek sal nooit siek word nie.” O, OK! Is jy dood seker daarvan?

Alles het nie maar net verloop soos dit nog altyd verloop het nie. Dit sal nie moeilik wees om ‘n half miljoen mense in Indonesië te oortuig dat alles nie meer dieselfde is, nadat die tsunami hulle getref het nie. Jy gaan sukkel om mense te oortuig dat alles maar net soos voorheen sal aangaan nadat ‘n honderd duisend mense dood is in ‘n aardbewing nie.

In 1918 met die eerste wêreld oorlog is ‘n honderd miljoen mense dood aan ‘n griep virus en hulle het op daardie stadium niks geweet van die griep virus nie. Mediese dokters het nie geweet wat om te doen nie. Eers 30 jaar later het hulle ‘n oplossing gevind.

Hoe kan mense dan vandag sê, dat alles sal maar net aangaan soos in die verlede. Ek wil vir jou sê, tye het verander. Ons sit vandag met pessiektes wat nooit bestaan het in die verlede nie. Die geskiedenis van die mensdom het nog nooit so baie aardbewings en natuurrampe gesien nie soos vandag nie. Dinge word nie beter of bly nie net dieselfde nie, maar alles word net erger.

Evolusie en ateïsme is net iets wat mense gebruik om hulleself te bevry om te doen net wat hulle wil. Hulle soek nie ‘n God wat vir hulle sê wat om te doen en wat om nie te doen nie. Hulle wil leef volgens hulle eie begeertes.

Hoe antwoord Petrus dan die spotters? Hoe help hy ons om nie te val vir hierdie valse leraars nie? Hoor wat sê hy,

2 Pet 3:1 Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek,


Let op na daardie woorde, “julle suiwere gesindheid.” Die KJV sê, “…which I stir up your pure minds by way of remembrance.” Julle suiwere verstand of gedagtes. Hy wek ons suiwere verstand op, sodat ons kan onderskei. 1 Kor 2 sê ons het die sin van Christus, the mind of Christ.

Romeine 12 sê dat ons gedagtes vernuwe moet word sodat ons kan beproef wat die welgevalle en volmaakte wil van God is. Jy kan nie jou verstand afskakel nie. Jy moet juis jou verstand aanskakel en toelaat dat God jou verstand sal verlig en vernuwe.

Petrus sê in hoofstuk 2:12 dat die valse leraars is soos irrationele, redelose diere wat die natuur volg. As jou verstand afgeskakel is, is jy soos ‘n redelose dier. Maar Petrus sê, ek wil julle suiwere gesindheid, julle suiwere verstand opwek deur julle te herinner.

Nou, waaraan wil hy hulle herinner? V2

2 Pet 3:2 sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.

Die heilige profete, soos Jesaja, Sefanja, Maleagi en nog ander het gepraat oor die finale oordeel. Jesaja praat van die einde van die wêreld en die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die Nuwe Testament vertel ons van die goddelike oordeel. Paulus sê,


Rom 1:18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,


2 Thes 1:7 en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele

8 in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.

Die Bybel is baie duidelik, daar is ‘n finale oordeel oppad en God sal wraak uitoefen oor die wat Hom nie ken nie.


Wanneer die spotters sê alles gaan maar nog aan soos altyd, dan sê Petrus,

2 Pet 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,

6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

Hulle kies om te vergeet. Die KJV sê, they willingly are ignorant. Dit beteken eenvoudig, “they are dumb on purpose”. Hulle kies om dom te wees soos redelose diere. Hulle vergeet van die skepping. Is dit nie wat hulle vandag doen met die evolusieleer nie? Die evolusie leer sê daar is nie ‘n God nie, en daarom is daar nie wette of reëls nie en daarom is jy jou eie god en kan jy doen nie wat jy wil.

Hulle wil sondig, hulle wil doen net wat hulle wil, en kies om nie te dink aan God se oordeel nie. v6 sê dan dat hulle vergeet dat die toenmalige wêreld met water oorstroom en vergaan het. Hulle vergeet die Skepping en hulle vergeet die vloed.

Dit is Noag se vloed. En hoekom kies hulle om te vergeet van die vloed? Want die vloed spreek van God se oordeel. Net agt mense het oorleef, Noag en sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens.

Matt 24:37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

En hoe was dit in die dae van Noag?…mense het gespot. Mense het hul verlustig in hulle sondige begeertes. Hulle het nie belanggestel in die waarheid nie.

Net so, sal dit wees in die laaste dae.

Slot

1 Pet 4:7 En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

God het alles gemaak, daarom besit Hy alles. Omdat Hy alles besit maak Hy die reëls en moet ek en jy uitvind wat Hy van my en jou wil hê.

Het God nie gesê, jy mag nie ‘n leuen vertel nie? Het jy al ‘n leuen vertel?

Het God nie gesê, jy mag nie steel nie? Het jy al gesteel?

As God jou oordeel volgens Sy standaard, is jy skuldig of onskuldig?

Jak 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

En sonde moet gestraf word, maar die goeie nuus is dat Jesus het klaar jou sondestraf gedra. Jy hoef nie vir jou sonde te betaal nie. Jesus het dit klaar gedoen toe Hy aan die kruis gesterf het.

Plaas jou geloof in Jesus Christus en Hy sal jou sondes vergewe as jy dit voor Hom bely. Die Bybel sê Hy is getrou en regverdig om jou van alle ongeregtigheid te reinig.

No comments: