Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Tuesday, November 17, 2009

‘n Koninklike uitnodiging (deel 3)

Teksgedeelte: Op 1

Op 1:1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,

2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het.

3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

4 Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,

5 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed

Tema: ‘n Koninklike uitnodiging

Die boek Openbaring is die laaste boek in die goddelike biblioteek. Wat in Genesis begin het, eindig nou in Openbaring. In Genesis het ons die begin van die hemel en die aarde, in Openbaring het ons die vervulling. In Genesis het ons die begin van sonde en die vloek, in Openbaring het ons die einde van sonde en die vloek.

In Genesis kry ons die begin van Satan en sy werke, in Openbaring kry ons die einde van Satan en sy werke. In Genesis gaan die mens weg van die boom van die lewe af en in Openbaring kom die mens weer terug na die boom van die lewe. In Genesis begin smarte, in Openbaring eindig smarte. In Genesis is die paradys verlore, in Openbaring is die paradys weer gevind.

Maar die belangrikste sentrale tema is, in Genesis kry ons die belofte van ‘n Verlosser, in Openbaring gaan Hy kom op die wolke, ja dis seker. En ek wil vir jou sê, ons is in vir ‘n ding. Die klimaks van God se verlossingsplan.

Dit gaan alles oor die openbaring van Jesus Christus. Die boek Openbaring gee ons so ‘n kykie in die toekoms, sodat ons kan sien wat gaan gebeur. En hierdie boek is dan geskryf aan die kerk. Ons sien ook verskriklike dinge. Ons sien ontstellende dinge. Ons sien God se oordeel op hierdie goddelose wêreld wat uitgegiet word. Maar ons sien ook wonderlike dinge wat gaan gebeur. Ons sien die seën van God. Ons sien die heerlikheid van God.

Die boek is dan geskryf aan gelowiges om hulle hoop te gee.

Die mens was nog altyd gefasineerd met die toekoms. Almal sal graag wil weet wat in die toekoms gaan gebeur. Dit is hoekom mense hulle sterre lees. Dit is hoekom hulle fortuin vertellers gaan sien of tarot kaarte lees of wat ookal.

Ek wil vanaand vir jou sê, net God ken die toekoms. Die duiwel kan nie jou toekoms voorspel nie, maar net jou toekoms manipuleer. God alleen staan buite tyd en is ewig en ken die toekoms. Die duiwel is ‘n skepping van God en is gebonde aan tyd.

Op 1:3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

Op 22:12 En kyk, Ek kom gou…

Op 22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!

Hy kom spoedig weer! Die volgende gebeurtenis op God verlossings kalender is die koms van Christus…en dit kom gou, die tyd is naby, vinniger as wat ek en jy dink. Dit beteken egter nie daar nie ‘n wag tydperk is nie. In hoofstuk 6:9 en 10 lees ons van martelare wat roep, “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”

En hoor wat sê v11,

Op 6:11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.

Die feit dat Sy koms naby beteken nie dat daar nie ‘n wagtydperk is nie. Die kerk het nog altyd met hierdie verwagting van Sy spoedige koms geleef. Paulus het gedink dat Jesus in sy tyd sal kom. Daar was nog altyd ‘n verwagting.

1 Pet 4:7 En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Hy het ook hierdie verwagting gehad. Dan gaan ons terug na Hand 1 en lees waar Jesus hemel toe vaar en die engele sê,

Hand 1:11 …Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Daarom het hulle altyd met hierdie verwagting geleef.

1 Kor 15:52 in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

Heb 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Nou ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, want Jesus sê dat dit ons nie toekom om die tye en geleenthede te weet wat die Vader deur Sy eie mag bepaal het nie. Maar ons leef in afwagting, met die wete dat Sy koms in heerlikheid is naby.

Luk 12:40 Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.

Ons weet nie wanneer dit is nie, maar ons moet elke oomblik gereed wees. Ons teksgedeelte sê,

Op 1:1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,

En Johannes is oorweldig. V2 sê dan,

Op 1:2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het.

Johannes was toe hy jonk was en toe hy oud was, ‘n getrou getuie. Julle onthou toe hy die sendbrief geskryf het en sê, wat van die begin af was, wat ons gehoor en gesien en aanskou en getas het aangaande die Woord van die lewe, en die lewe is geopenbaar en ons getuig en verkondig dit aan julle. Nou sê v2 hy getuig van die woord van God en van Jesus Christus.

En om ‘n getuie te wees moes jy gesien het wat gebeur het. Hy dra getuienis van die Woord van God. God gee hom visioene wat gestuur word saam die engele

Op 1:3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

Geseënd is hy wat die woorde lees en hoor en bewaar. Ek het laas week reeds vir u genoem dat hierdie boek die enigste boek is wat seën inhou vir die wat dit lees, hoor en bewaar. Maar ek wil so bietjie uitbrei daarop.

Op 14:13 …salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe…

Op 16:15 …Salig is hy wat waak en sy klere bewaar…

Op 19:9 … salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam…

Op 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters

Op 22:7 Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.

Op 22:14 Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

V3 gee dan vir ons drie werkwoorde, lees, hoor en bewaar. En dit is ‘n kerk diens. Iemand lees, iemand hoor en dan doen hulle. Dit is wat van ons verwag word. Hierdie volgende aanhaling wat oor en oor herhaal word in hoofstukke 2 & 3 sê “…wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê.” En weet jy wat sê dit vir ons? Ons moet leer om te luister.

Jy moet hoor en dit bewaar. Dit is God se laaste woord aan ons. Daar is geen openbaring hierna nie. En omdat die tyd naby is en niemand weet wanneer Sy koms sal plaasvind nie, moet ons so leef asof dit enige oomblik kan gebeur.

Op 1:4 Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,

5 en van Jesus Christus,

Standaard groete: Genade en vrede. En dan kom die ongelooflike seën van die drie-eenheid. Van Hom wat was en is en wat kom, maw die ewige God, en van die sewe Geeste en van Jesus Christus. Dit is die drie-eenheid. Hier kom genade en vrede van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees.

Hier kom genade en vrede vanaf die drie-enige God aan die kerk. God seën Sy kerk. Die Heilige Gees seën Sy kerk. Jesus Christus seën Sy kerk. En dit is God se wil dat ons genade sal hê. Dit is Sy wil dat ons vrede sal hê. En as dit God se wil is, dan sal dit so wees!

Nou, die sewe Geeste wat voor sy troon is, waarvan ons lees in v4, verwys na die Heilige Gees. Hoekom sewe Geeste? Is die Heilige Gees dan nie een nie? Die een verduideliking is dat sewe is die volmaakte getal en dit verteenwoordig die volheid van die Heilige Gees. Dan kry ons Jes 11:2,

Jes 11:2 en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.

Hy is die Gees van die Here, die Gees van wysheid, die Gees van verstand, die Gees van raad, die Gees van sterkte, die Gees van kennis en die Gees van die vrees van die Here. Daar het jy sewe aspekte van die Heilige Gees. Die sewevoudige bediening van die Gees.

Sag 4:2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is.

Hier kry ons weer sewe. Het julle al ‘n Joodse menorah gesien? Dit is ‘n kandelaar met sewe lampte. Een in die middel met drie aan beide kante.

Sag 4:10 Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe--die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop…

Dieselfde gedagte, die sewe is die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop. En dit verwys dit na die Heilige Gees. Kyk wat sê v6,

6 Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

Openbaring 4 & 5 het baie dieselfde simboliek as Sag 4.

Op 5:6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.

Dit is ‘n interpretasie van Sag 4. Sag praat van sewe lampe, dit is die lig van God. Hy praat van sewe oë wat die Heilige Gees is. En hier in Op 5 kry ons dieselfde ding. Maw of die sewe verwys na die volheid van die Heilige Gees en of dit verwys na die sewevoudige bediening soos in Jes 11, of die sewe lampe, of sewe oë, verwys dit sonder twyfel na die Heilige Gees.

Kyk hoe word Jesus Christus beskryf:

Op 1:5 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed

Wat ‘n beskrywing! Jesus is die getroue getuie.

Jes 55:4 Kyk, Ek het hom tot 'n getuie van die volke gemaak…KJV, I have given him for a witness to the people.

En ‘n getroue getuie is iemand wat die waarheid praat en Christus praat altyd die waarheid. Hy is altyd ‘n getroue getuie. Daar is geen valsheid in Hom nie.

Op 3:14 …Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie…

Psa 89:37 Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou.

Dit is die rede waarom Hy gekom het na hierdie aarde toe. Jesus sê in Joh 18:37, “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” Hy is die getroue getuie en tweedens sê die v5, Hy is die eersgeborene uit die dode.

Dit beteken nie dat Hy die eerste persoon is wat ooit uit die dood opgewek is nie, want daar was reeds ander, soos Lasarus wat voor Hom uit die dood opgewek is. Die Griekse woord vir eersgeborene is die woord, prototokos, die prototipe, die voorbeeld, die grootste van almal.

Hierdie boek Openbaring gaan oor die verheerliking van die van die prototokos, die Hoof van alles. En die derde ding, Hy is die Owerste oor die Konings van die aarde. Hy is die Heerser. Die Prins.

Op 19:16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

Dan 4:37 noem Hom die Koning van die hemel. Matt 2:2 noem Hom die Koning van die Jode. Joh 1:49 sê, Hy is die Koning van Israel. 1 Tim 1:17, sê Hy is die Koning van die eeue. Psa 24 sê, Hy is die Erekoning, the King of glory. Op 15:3 sê, Hy is die Koning van die heiliges en dan laastens, Hy is die Koning van die Konings en die Here van die here.

Die vraag wat ek jou wil vra: Is Hy die Koning van jou hart en jou lewe?

SLOT

Die boek Openbaring geskryf aan die kerk, en is daar ‘n Koninlike uitnodiging aan die einde van die boek.

Op 22:17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.

Nou, hierdie is nie ‘n uitnodiging soos baie al hierdie teksvers verkeerd geïnterpreteer het, aan Jesus om te kom nie. Hierdie is ‘n uitnodiging aan die mensdom om te kom. Al die kommentare wat ek gelees het sê dat hierdie is ‘n uitnodiging aan sondaars.

Albert Barnes sê, “That is, come to the Saviour; come and partake of the blessings of the gospel; come and be saved.”

Adam Clark sê, “Invite men to Jesus, that by him they may be saved and prepared for this kingdom.”

Die Gees sê, Kom! Die bruid, die kerk sê, Kom! En laat hom wat hoor, hy wat die voorreg het om hierdie boek te lees, saam inval en mense uitnooi, Kom! Laat hy wat dors het, Kom! Kom neem van die water van die lewe, verniet. Kom! Dit is ‘n koninklike uitnodiging aan elke mens.

In Joh 4 maak Jesus die uitnodiging aan elkeen.

Joh 4:14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

Jy sal nooit weer dors kry nie. As jy van die water drink wat Jesus gee, sal jy nie weer dors kry nie. Dit is verkeerd om te bid, Here, maak ons dors vir U. As jy gedrink het van die lewende water sal jy nooit weer dors kry nie. Jy sal nie en kan nie weer dors word nie. Jou geestelike behoefte is reeds vervul. Jy is volkome gemaak in Christus.

Kol 2:10 en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;

Wil jy graag jou dors les? Wil jy graag deelwees van God se Koninkryk? Jy wil graag deel in God se beloftes? Wil jy volkome wees? Wil jy die heerlikheid van God sien?

As jou antwoord, JA, is, dan is die uitnodiging: KOM! Jesus sê,

Matt 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Hierdie vers gaan nie soseer oor iemand wat moeg is en belaai is met die sorge van die lewe nie. Hierdie is ‘n uitnodiging is aan die hulle wat hul sondelas dra.

Kom sê, Jesus, ek sal vir julle rus gee. Hierdie uitnodiging is dan ook spesifiek gerig aan Jode, wat die swoeg onder die swaar las van die wet. Godsdienstige mense wat vermoeid en belas is. Die mens wat nie instaat is om homself te red nie. Al sy pogings misluk. Maar Jesus sê, Kom, ek sal julle rus gee.Hy

No comments: