Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Tuesday, November 17, 2009

Jesus se toewyding aan Sy kerk (deel 2)

Teksgedeelte: Op 1

Op 1:14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam,

15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.

16 En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

17 En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste

18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.

Tema: Jesus se toewyding aan Sy kerk

Inleiding

Ons het vanoggend begin kyk na Jesus se toewyding aan Sy kerk. Eerstens is Hy aan Sy kerk toegewyd deur Sy oneindigende liefde vir ons. Hy voed ons en koester ons. Hy is ons Hoëpriester.

Tweedens, tree Hy vir ons in. Hy is ons Voorspraak by die Vader. Hy is ons advokaat. En as ek iets kan byvoeg, dan is dit, dat ‘n advokaat veroordeel nie sy klient nie, Hy verdedig hom.

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Joh 3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Jesus se toewyding aan Sy kerk is dat Hy hulle voorspraak is by die Vader en vir hulle dag en nag intree.

Ons kyk dan vanaand na Jesus se toewyding aan Sy kerk, deurdat Hy Sy kerk dissiplineer. Dit is ons derde punt. Jesus dissiplineer Sy kerk.

Op 1:14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam,

15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.

16 En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

Sjoe! Wat ‘n gesig moes dit nie wees nie. Sy hoof en hare, so wit soos sneeu. En dit praat van absolute skoonheid en reinheid. Daar is geen vlek van onreinheid in sy hare nie. So rein en heilig, so sag en nederig. En gevolglik het jy ‘n heilige volmaakte God en dit is Sy begeerte en wil dat elkeen wat na Hom toe kom ook rein en heilig moet wees.

V14 sê verder dat sy oë is soos vuurvlam. Sy oë soek. Hy sien alles. Niks is vir hom weggesteek nie. En die idee is dat Christus deursoek Sy kerk of daar iets onrein en onheiligs is.

Spr 15:3 Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.

Christus kyk na Sy kerk en sien al die sonde raak en dan reageer Hy, soos ons in v15 sien, met oordeel. Hy veroordeel ons nie meer nie, maar Hy oordeel ons. Die engels sê in Rom 8:1 there is no condemnation to them which are in Christ Jesus. He does not condemn us, but He judges us. En die visioen wat Johannes hier van Jesus kry is van iemand wat oordeel. Sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond. Voete van oordeel.

Watter soort beeld van Jesus is dit? Is ek seker dit is vir die kerk? Luister. God haat die sondes van Sy kinders net soveel as wat hy die sondes van ongelowiges haat. Ons sien Hom in Sy reinheid en skoonheid. En dan sien ons Sy oë wat opsoek is na onreinheid. En wanneer Hy dit vind dan sien ons Sy voete soos koper wat gloei in ‘n oond.

Dit klink nogals scary, maar eintlik is dit nie. Vir die ongelowige moet dit vreeslik wees en vir die Christen wat sonde doen moet dit ook vreeslik wees. Maar vir die Christen wat saam met die Here wandel, behoort dit glad nie vreeslik te wees nie. Hoekom sê ek so? Want vir ‘n Christen wat saam met die Here wandel is dit ook sy begeerte dat die kerk moet skoon en rein sal wees, soos wat Jesus rein is.

Wil jy hê die kerk moet korrup wees? Wil jy hê die kerk moet geïnfiltreer word met goddelose mense wat ons getuienis skade aanrig? Nee! Hoor wat sê Paulus,

2 Kor 11:2 Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel.

Ek wil julle aan Jesus voorstel as ‘n reine maagd. Vlg Ef 5 wil Jesus ons sonder vlek of rimpel of iets dergliks voor Hom stel, heilig en sonder gebrek. En enigiemand wat Christus lief het, het ook Sy kerk lief en wil hê dit moet rein wees. 1 Kor 5 sê dan dat ons nie wat buite is oordeel nie, maar wel die wat binne is. Ons veroordeel nie, condemn nie, maar ons moet oordeel, judge.

1 Kor 5:12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie?

13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.

V15 sê, sy stem is soos die stem van baie waters. Het jy al gehoor hoe dit klink? Het jy gehoor hoe die see se branders teen die rotse slaan? Luk 21:25 praat van die see en branders wat dreun. Nou dit spreek van God se outoriteit. Wanneer God praat, dan praat Hy met gesag. Die stem van God voer Sy oordeel uit teenoor die sonde wat Hy sien in Sy kerk.

Ons sien in Op 2 & 3 dat Jesus Sy kerk oordeel. En wat is dit wat uit Sy mond uitkom? V16

16 …en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan

Dit is die Woord van God. Die woord wat uit Sy mond uitkom dreun soos waters en voer oordeel uit.

16 …en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

Hy beweeg in Sy kerk met heerlikheid, en Sy oë kyk rond en oordeel. En Sy oordeel word uitgevoer met die woord wat uit Sy mond uitgaan teenoor die onreinheid wat Hy sien. En hoe reinig Jesus Sy kerk?

Ef 5:26 om dit te heilig (en Hy praat van die kerk), nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

Kom ons som op! Jesus het Sy kerk lief. En Hy tree in vir Sy kerk. Maar Hy dissiplineer Sy kerk. Hy doen dit vir ons eie beswil. Net soos wat jy jou kinders dissiplineer vir hulle beswil. Maar somtyds kom daardie tweesnydende swaard baie swaar op ‘n mens af. In Hand 5, Ananias en Safira, mors dood neergeval. In 1 Kor 11 lees ons van ‘n aantal wat reeds ontslaap het.

Jesus beweeg deur Sy kerk en dissiplineer dit. In Matt 18 kry ons ‘n standaard van dissipline. As jou broer teen jou sondig, bestraf hom. As hy nie luister nie, neem twee of drie getuies saam. Doen dit weer. As hy dan nie luister nie, vertel dit vir die hele gemeente, en dan in v20 sê dit,

Mat 18:20 Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.

Wie is in hulle midde? Jesus. En hierdie vers gaan alles oor oordeel. En Jesus sê, Ek is ook daar in julle midde en doen dit saam met julle.

Jesus is deel daarvan. Besig om Sy kerk te reinig en skoon te maak. Dit was dan die Heilige Gees wat vir Petrus gesê het,

1 Pet 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

God veroordeel nie Sy kinders om hulle hel toe te stuur nie, maar Hy oordeel hulle om die huis van God te reinig. In Joh 15 sê Jesus, die lote word skoon gemaak, sodat dit meer vrug kan dra. En somtyds is dit ‘n pynvolle proses en maak dit seer, maar dit is vir jou eie beswil.

Jesus is toegewyd aan Sy kerk deur dit te dissiplineer. Somtyds neem Hy sulke drastiese stappe soos wat ons lees in Op 2:5,

Op 2:5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.

Wat Hy hiermee bedoel is dat Hy jou lamp doodblaas. Genoeg is genoeg. Dit beteken nie dat jou naam uit die boek van die lewe verwyder word nie, maar dit beteken dat God jou lewe beëindig word.

Op 2:16 Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.

Op 3:3 Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.

Dit gaan nie hier oor die wegraping nie, dit gaan daaroor dat jou lewe beëindig word.

Op 3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.

Heb 12 sê dat die Here tugtig die wat Hy liefhet.

Heb 12:10 Want húlle het ons wel 'n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.

Die Here het Sy kerk lief en is toegewyd aan ons verewig, en Hy tree in vir ons. Hy is ons Hoëpriester wat ons verstaan. Hy dissiplineer ook Sy kerk en wanneer die kerk ook daarop gemik is om dit te reinig, doen dit presies wat Jesus doen.

Vierdens, is Jesus toegewyd aan Sy kerk deur dit te bemoedig. Vanaf v14 – 16 is die visioen nogals skrikwekkend. En selfs Johannes was bang. Hy het geskrik toe hy hierdie visioen sien.

Op 1:17 En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste

Hy val soos ‘n dooie aan sy voete nie. Hy val nie as gevolg van ‘n salwing nie, hy val aan Sy voete as gevolg van vrees. Hy was bang. Dit was nie ‘n aangename ervaring nie. En dit is toe Jesus Sy regterhand op hom lê, en sê: Moenie vrees nie. Moenie bang wees nie.

En hy het dit nodig gehad na die visioen wat hy gesien het van Jesus in v16. Johannes sien die Here wat Sy kerk dissiplineer. Hy sien Jesus wat oordeel. En Jesus se aangesig is soos die son wat skyn in sy krag. Nadat hy neerval aan Sy voete, raak Jesus hom en sê, Moenie vrees nie. Jesus bemoedig hom.

Jesus sê, Ek is die eerste en die laaste,

Op 1:18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.

Wat probeer dit vir ons sê? Luister! Jy is My kind, en al dissiplineer ek jou, al is dit somtyds hard en moeilik, is dit omdat Ek jou liefhet. Moenie bekommerd wees nie, want Ek is in beheer van die wat lewe en van die wat doodgaan. Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood. Niemand kan dit van My af wegneem nie. Ek is soewerein. Johannes, moenie vrees nie.

Verstaan jy dit? Die Here dissiplineer, maar dit is net vir ‘n tyd. Die Here dissiplineer Sy kerk net vir ‘n tyd, om Sy kerk te heilig. Sodat ons Sy ewige seën kan geniet. Jesus is toegewyd aan Sy kerk deur ons te bemoedig en te versterk. Deur ons op te tel en te sê, Moenie vrees nie. Dood het nie meer ‘n houvas op jou nie.

Hy vertroos en bemoedig ons deur aan ons die Trooster, die Heilige Gees te gee. Hy is die parakletos wat Sy kerk kom vertroos en bemoedig en versterk.

Vyfdens, Jesus is toegewyd aan Sy kerk deur ons te beloon. Hoofstuk 2 & 3 van Openbaring praat oor die feit dat Hy Sy kerk beloon.

Op 2:7 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Die kerk word hier uitgebeeld, die ware kerk, met die volgende woord: Aan hom wat oorwin.

1 Joh 5:4 Want alles wat uit God gebore is (wie is dit? Die wedergebore kinders van God), oorwin die wêreld (en hoe oorwin ons?); en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.

Jesus belowe aan Sy kerk die paradys. Hy belowe aan Sy kerk die boom van die lewe. Toe Adam gesondig het, het God hulle uit die tuin, die parady uitgedryf. En nou sê God dat Hy ons almal gaan terugbring na die ewige paradys. Gaan lees gerus Op 22.

Op 2:11 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.

Die tweede dood is die geestelike dood. Hy gee aan Sy kerk die ewige lewe.

Op 2:17 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna…

Nou wat beteken dit alles? Daar was ‘n kruik vol manna wat in die verbondsark gehou moets word (Eks 16) en dit was ‘n herdenking van die tyd toe God vir Israeliete manna in die woestyn gegee het.

Daar is ‘n Hebreeuse legende wat sê dat nadat die tempel vernietig is, het Jeremia en ‘n engel die ark begrawe en wanneer die Messias kom sal Hy dit weer opgrawe en Sy mense voed.

Dit is baie naby aan dit wat Jesus sê dat Hy ons die verborge manna sal gee om te eet. Ek dink die betekenis is eenvoudig dat God belowe om Sy kerk verewig te voed met die teenwoordigheid van Jesus Christus.

2:17 …en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.

Hierdie wit keursteen verwys na ‘n diamand. En op hierdie diamand word ‘n nuwe naam geskryf wat net die een ken wat dit ontvang. En dit sê vir ons dat elke individu is uniek. God werk met elke individu persoonlik. Is dit nie wonderlik nie? God beloon Sy kinders.

Op 2:28 En Ek sal hom die môrester gee.

En dit is Christus.

Op 22:16 …Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.

Christus beloon Sy kerk met Homself. Hy gee Homself vir ons.

Op 3:5 Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.

Wie oorwin, en ons het gesien dit is die gelowiges, hulle word beklee met wit klere. Dit is ‘n teken van oorwinning en reinheid en geregtigheid en heerlikheid. En verder sê Hy, Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie. Dit is Jesus se belofte aan ons. Nooit beteken nooit. ‘n Kind van God sal nooit weer verlore gaan nie. Jesus belowe ons dit.

Op 3:12 Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.

Dit is die beloning wat Jesus gee. Jesus beloon Sy kerk. Jesus het groot dinge vir Sy kerk in stoor in die toekoms. En Hy is committed daartoe.

Op 22:12 En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

Jesus belowe dat Hy ons gaan beloon. Hy sal Sy kerk beloon. 1 Kor 4:5 sê dat elkeen lof van God sal ontvang.

Jesus is toegewyd aan Sy kerk deur Sy liefde aan ons, deur vir ons in te tree, deur ons te dissiplineer en ons te bemoedig en dan ook ons te beloon.

En dan laastens, soos wat ons lees in hoofstuk 19, 20 en 21 is Hy toegewyd aan ons in die feit dat Hy Sy bruid verheerlik en ons is Sy bruid. Daar is ‘n hemelse stad wat vir ons wag. Hy het vir ons ‘n ewige tuiste wat Hy vir ons voorberei het.

Slot

Dit is Sy toewyding aan Sy kerk. Dit is Sy toewyding aan jou as jy ‘n kind van God is. Luister! Jesus bou Sy kerk soos Hy wil. En Hy is toegwyd.

Wat van jou? Het jy al jou lewe aan Hom ge-commit? Lewe jy toegwyd aan Hom?

No comments: