Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Tuesday, November 17, 2009

Die einde van die wêreld (deel 2)

Teksgedeelte 2 Pet 3:5-8

2 Pe 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,

6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Tema: Die einde van die wêreld – deel 2

Ons het gesien dat daar mense is wat nie wil glo in die skepping nie en hulle wil ook nie glo in ‘n finale oordeel nie. Die hoofrede waarom hulle dit nie wil glo nie, is omdat hulle word gedryf deur hulle bose begeertes. As hulle moet erken dat daar ‘n God is en dat Hy alles gemaak het, moet hulle uitvind wat Hy sê en doen wat Hy sê. Maar dit pas nie in by hulle lewensstyl nie. Om dit eenvoudig te stel, hulle hou van hulle sondes.

Ray Comfort sê

“A drug addict is dying because of a disease that is related to his addiction. But when a faithful doctor takes the time to point out the evident symptoms that are all over the addict’s flesh, he responded by saying that the hideous spots are normal, and that all his friends have them.

The doctor pleads with him to listen, and says that a large drug company has developed a cure for the fatal disease. To which the addicts says, “What if an elephant fell from the sky and swallowed it before I could get to it? Huh doc. Huh! What about that? You and your stupid pill! I don’t believe the drug company even exists. You idiot…

Why would he acts in such a way? The answer is obvious. He loves his addiction.”

Joh 3:19 En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

20 Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.

So hoekom wil mense nie die Here dien nie? Daar het jy dit: hulle het die duisternis liewer as die lig.

So, nou kom v5 en sê, moedswilliglik vergeet hulle…En dit beteken hulle kies om dom te wees. In die geval kies hulle om nie aan die skepping te dink nie. Van lankal af vergeet hulle dat daar ‘n hemele en aarde was, wat deur die woord van God ontstaan het.

Kom ons gaan so bietjie terug na Genesis toe en kyk hoe Petrus by die skeppings verhaal inpas.

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

KJV

Gen 1:2 And the earth was without form, and void…

Dit was ‘n vormlose massa. En daar was geen lig nie, maar duisternis op die watervloed. En die Gees van God het op die…? WATERS gesweef. Maw toe God in die begin geskape het, het Hy ‘n vormlose massa water geskep in die duisternis.

Die eerste drie dae van die skepping vorm Hy dit as die aarde en die laaste drie dae, skep Hy die plante, die diere en die mens. Die eerste drie dae gee God vorm aan die aarde, die vormlose water massa en die laaste drie dae vul Hy die aarde.

V2 sê, “die Gees het gesweef op die waters.”

God skep dan lig en daarna sien ons wat gebeur in v6:

Gen 1:6 En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.

7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.

God maak die uitspansel tussen die waters. Hy skei die waters. En v8 sê, Hy noem die uitspansel hemel. Dit is die eerste hemel. Wat is hierdie uitspansel? Die KJV praat van, “…the firmament”

Gen 1:20 En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.

Maw, die uitpansel is die hemelruim waar die voëls vlieg. Die eerste hemel, is ‘n plek waar die voëls vlieg. Die twee hemel is waar die son, sterre en planete is. En die derde hemel is waar God woon.

Psa 148:4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!

Dit is interesant. Die vormlose watermassa skei en tussen in ons kry die hemel. So daar is bo die hemel water en onder die hemel water.

Psa 24:1 'n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;

2 want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.

Psa 136:6 Wat die aarde op die water uitgespan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Bo die uitspansel is daar water en onder die uitspansel is daar water.

Gen 1:9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.

(slide)

Sommige wetenskaplikes verneem dat daar ‘n dik water laag was bo die atmosfeer van die aarde en dit was ‘n perfekte omgewing. Hulle sê ook, dit is die rede waarom mense tot 900 jaar oud geword het. Die son se UV strale kon nie deur die water bo die aarde se atmosfeer deurdring nie. Dit was ‘n perfekte omgewing. Maar ons kan onsself net indink hoe moes dit gewees het in die tuin van Eden.

Maar toe het daar ‘n katastrofe die wêreld getref. In Genesis 6 kry ons die vloed. Dit is dan ook dalk waar al die water vandaan gekom het vir ‘n wêreld wye vloed. Die Bybel sê, (Gen 7:11) dat die fonteine van die groot watervloed het oopgebreek. Water het uit die hemel neer gestort.

En dan as ons terug kom na dit wat Petrus sê, dan lees ons

2 Pet 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,

6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

Wanneer ons kyk na die oorspronkike skepping dat is dit opmerklik hoeveel water daar was. Eers was dit alles water. En daarna verdeel die watermassa en vorm die uitspandsel met water bo en water onder. Die water onder het toe versamel en droë land het gevorm. Petrus sê, die aarde het uit water en deur water ontstaan. Waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

Bottomline is dit: God het in die oorspronklike skepping water ingebou waardeur Hy dit sou vernietig. Hy het dit gevorm uit water en Hy het die vernietig met water.


Dit het egter nie die aarde se bestaan totaal en al uitgewis nie. Dit het ook nie die hemele uitgewis nie. Dit het wel alles verander. En daarom gebruik Petrus hier die woord “kosmos” om te sê, die wêreld het vergaan en nie die aarde het vergaan nie.

Die aarde was nooit weer daarna dieselfde nie. Dinge het drasties verander. Ons kry dan in amper al die ou stamme en nasies se geskiendenis, ‘n storie van ‘n wêreld vloed.

En nou is daar mense wat moedswilliglik dit vergeet. Want as dit waar is, dat God in Sy Almag in die mensdom se geskiedenis kon in stap en hierdie planeet verander het, kan Hy dit weer doen.


Waarom het God dit gedoen?

Gen 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,

6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.

Die wêreld was nog nooit altyd net dieselfde nie. Die hele orde van die hemele en die aarde het dramaties verander deur die Woord van God toe Hy al die goddelose mense regoor die hele wêreld laat verdrink het. En dit is vir ons ‘n getuienis dat sonde nie ongestraf gelaat sal word nie. Dinge sal ook nie net altyd aangaan soos dit nou aangaan nie.

Ons is bekommerd oor te veel haarsproei en gasse wat uit ons voertuie se uitlaat pype kom, wat die atmosfeer beïnvloed asof dit die einde van die planeet gaan beteken. Maar daar is Een wat sal sê, dit is genoeg en Hy sal ‘n einde maak aan alles. Nie ek en jy nie.

Valse leraars weier om die ware geskiedenis te aanvaar. Hulle weier om al die bewyse wat daar is te aanvaar. Hulle maak hulle eie geskiedenis op waar God nie deel van is nie en waar mense kan kies hoe om te leef soos hulle wil. Dinge het nie net aangegaan soos altyd nie.


Kan u uself net indink hoe die vloed moes gewees het. Alle mense en diere het gesterf, behalwe agt mense. Alles was vernietig. En God het dit gedoen. En dit is vir ons ‘n voorbeeld van dit wat gaan kom.

2 Pe 3:7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

Die teenswoordige hemele en aarde, die een wat ons ken, die een wat ons ervaar is nie soos die een voor Noag se vloed nie. Dit is anders. Hierdie hemele en aarde wat ons ken, word weggelê as ‘n skat deur dieselfde woord van God, nie vir ‘n vloed nie, maar vir die vuur.

Ons leef tans in ‘n tweede ekologiese sisteem, na die vloed. Dit is deur Sy Woord wat God die eerste sisteem in bestaan gebring het. En dit is deur Sy Woord wat Hy dit vernietig het. En die huidige hemele en aarde word ook weggelê vir die oordeel en die verderf van die goddelose mense. Die eerste keer was dit water, die tweede keer gaan dit vuur wees.

God gaan vuur gebruik om die teenswoordige hemele en aarde te oordeel. Ons kry in Gen 19 ‘n voorbeeld daarvan met Sodom en Gemora.

2 Pet 2:6 en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as 'n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;

Die Ou Testament profete gee vir ons ‘n waarskuwing hiervan.

Jes 66:15 Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.

16 Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees.

Dan 7, Mig 1 & 4, Johannes die Doper, hulle sê almal dieselfde ding. 2 Thes 1:8 sê Hy kom in vuur en vlam en oefen wraak op die wat Hom nie ken en die evangelie nie gehoorsaam nie. Vuur gaan uit die hemel neerdaal soos ons lees in Op 20:9. En dan vermoed ek maar dat dit ook uit die aarde gaan opkom. Ons lewe bo-op ‘n vuurbal.

Interesant, vuur kan kom wanneer jy net ‘n atoom split. Wat as die Here al die atome op een oomblik split? Die wêreld sal met een groot stormvuur getref word.

Hierdie wêreld gaan nie verewig so aangaan nie. Die eerste oordeel was deur water, die volgende oordeel kom deur vuur. Petrus sê, hierdie hemele en aarde word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel.

Kyk na Gen 8, wat gebeur na die vloed.

Gen 8:2 Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan, en die stortreën uit die hemel het opgehou.

Die water het van onder af gekom en van bo af. En toe maak die Here die sluise toe. Die stortreën het opgehou. Die water het toe stadig teruggetrek, en dit het maande geneem.

Gen 8:13 In die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog--

In v16 sê God vir Noag, gaan uit die ark uit.


Noag het toe altaar gebou en aan die Here geoffer. Daarna het God gesê, Hy sal nie meer alle lewende wesens tref soos wat Hy gedoen het nie. En God maak ‘n belofte wat duidelik gesien kan word. Hy gee ‘n reënboog. En wanneer jy ‘n reënboog sien dan herinner dit jou dat God nie weer die wêreld sal vernietig deur water nie.

Maar deur vuur, BESLIS!

Gen 8:22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Gen 8:22 While the earth remaineth…


Die aarde sal bly bestaan, en wie bepaal dit? God. Saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag sal nie ophou nie. Dit is God se belofte. Die mens gaan nie die wêreld uitwis nie. Solank as wat God hierdie wêreld onderhou, sal ons hier wees om dit te benut.

God onderhou hierdie aarde. Ons is nog hier, omdat God dit so bepaal. Dit is God wat die laaste sê sal sê, en dan is dit die einde van die wêreld.

Slot

2 Pet 3:8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

God se tyd is nie my en jou tyd nie. Hy bly in beheer. Al het daar jare verby gegaan. Al het daar 2000 jaar verloop. Moenie dat hierdie een ding julle ontgaan nie. Dit wat vir ons soos ‘n lang tyd lyk, is nie vir God ‘n lang tyd nie. God is altyd op tyd. Hy weet wat Hy doen.

Ek wonder hoeveel smart is daar vandag in God se hart, wanneer Hy na die boosheid van die wêreld kyk. Ek wonder hoeveel berou het God wanneer Hy sien dat mense net nie omgee nie en net aangaan asof dinge asof Hy nie bestaan nie.

Dit is nie meer lank nie, dan gaan God hierdie aarde ook oordeel met vuur en vlam. Wanneer Hy Sy wraak uitoefen oor die wat Hom nie geken het nie.

Die vraag is: Ken jy die Here Jesus Christus?

No comments: