Kommentaar

U is baie welkom om kommentaar te lewer aan die einde van elke artikel. Kom praat saam.

Monday, September 7, 2009

Skuldig of onskuldig?

Teksgedeelte: 1 Joh 1:5-2:1

1 Joh 1:5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

11 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

Tema: Skuldig of ontskuldig? Wat pleit jy?

Die woord wat uitstaan in hierdie gedeelte wat ons gelees het, is die woord “sonde”. 2:1 sluit dan af en sê, “…ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie”. Hierdie gedeelte gaan dan oor sonde. Dit gaan as’t ware oor die sekerheid van sonde, of dan ook die belydenis van sonde.

Ons het laas week gesien hoe seker Johannes is oor die Woord van die lewe. Hy praat vanuit eerste handse ervaring. Hy was ooggetuie. Die Woord van die lewe is geoponbaar en hy getuig daarvan. Hy getuig van die ewige lewe.

Maar dis nie al nie. Hy praat nie net oor die sekerheid van die Woord van die lewe nie, maar hy praat ook oor die sekerheid van sonde. Dit is dan juis waarvoor die Woord vlees geword het om die mensdom se sondes te dra. As iemand dan ‘n ware Christen is, dan sal hy getuig van die realiteit van die Woord van die lewe wat vlees geword het, maar hy sal ook die realiteit van sy sonde erken. Christus is ‘n werklikheid, maar sonde is ook ‘n werklikheid.

Johannes verdedig dan hierdie waarhede teenoor die valse leringe in sy tyd wat sê, dat sonde is nie ‘n werklikheid nie. Dit is dan ook ons werk om die waarheid te verdedig. Kom ons kyk gou na 2 Joh, want ek wil hê julle moet sien wat die dryfveer agter Johannes is.

2 Joh 1:1 Die ouderling (en hier verwys hy natuurlik na homself) aan die uitverkore vrou en aan haar kinders (en dit is die kerk)--wat ek in waarheid liefhet, en nie ek alleen nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het;

2 ter wille van die waarheid wat in ons bly en by ons vir ewig sal wees--

Drie keer verwys hy na die waarheid. Ek het in waarheid lief, maar ook almal wat die waarheid ken, en ter wille van die waarheid.

2 Joh 1:4 Ek was baie bly dat ek van u kinders gevind het wat in die waarheid wandel, soos ons 'n gebod van die Vader ontvang het.

Dink julle dat die waarheid was vir Johannes belangrik? Ja, dit het alles vir hom gegaan oor die waarheid.

3 Joh 1:3 want ek was baie bly as daar broeders kom en van jou waarheid getuig, soos jy in die waarheid wandel.

4 Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.

7 Want vir sy Naam het hulle uitgegaan sonder om iets van die heidene te neem.

8 Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.

Ons is mede-arbeiders van die waarheid. Ons is vennote. En net deur hierdie gedeeltes is dit baie duidelik dat daar net een ding was wat Johannes gedryf het, en dit was die waarheid. Hy was nie sukses gedrewe nie. Hy was nie bekommerd oor die styl van sy bediening nie. Hy was waarheid-gedrewe. Die waarheid het hom gedwing, die waarheid het hom gemotiveer.

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

En enige persoon wat so passievol is vir die waarheid sal ook sterk stand inneem teen leuens.

2 Joh 1:7 Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.

8 Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar 'n volle loon ontvang.

9 Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun.

10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.

Wat doen jy as daardie ouens aan jou deur kom klop en ‘n klomp onbybelse waarhede wil verkondig? Die Bybel sê, ontvang hom nie in die huis nie. Moet hom nie eers groet nie. Ons mag nie en ons kan nie valse leringe verdra nie.

Hoe weet ons dan of iemand eg is? Hoe weet ons dan of iemand ‘n ware kind van God is? Johannes gee dan vir ons ‘n klomp toetse. Eerstens sê hy, dit is mense wat nie bely dat Christus in die vlees gekom het nie. En dan ook waaroor ons vanaand gesels, en dit gaan oor ‘n persoon se persepsie van sonde.

Ek wil jou vra: Is jy skuldig of onskuldig? Die Bybel sê baie duidelik dat jy nie tot bekering kan word, as jy nie ‘n eerlike en duidelike besef het van jou sondige toestand nie.

Mar 2:17 En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

As jy nie op die plek kom waar jy skuld erken nie, sal daar nooit vergifnis wees nie. Jy kan nie genade verstaan as jy nie die wet verstaan nie. Jy kan nie vergifnis verstaan as jy nie sonde verstaan nie. Jy sal nooit verstaan wat dit beteken om vrygemaak te wees van ‘n ewige oordeel as jy nie die oordeel verstaan nie. Jy sal nooit die ernsigheid van jou sondige toestand besef, as jy nie die ewige verderf verstaan nie. Dan eers kan jy verstaan wat dit beteken om verlos te word.

Wat dan van die gelowige? ‘n Wedergebore mens bely sy sonde gereeld. Dit is wat ons Skrifgedeelte sê,

1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Maar aan die ander kant,

1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

So as ons wil sien of ‘n persoon waarlik ‘n kind van God is, dan vra ons, wat is sy gesindheid teenoor sonde. Om dit eenvoudig te stel, sonde belydenis is deel van ‘n wedergeborene se lewespatroon.

Dit is onwedergebore mense wat geneig is om hulle sondes weg te steek. Hulle maak asof dit nie so ernstig is nie. En omdat die evangelie gaan oor die vergifnis van sonde, is dit die regte plek om te begin.

V9 sê, as ons ons sondes bely…en dit is ‘n basiese ding van saligheid. Die Bybel is vol van voorbeelde van sonde belydenis. Ons sien in Eks 9:27 dat Faroa sy sonde bely. Saul bely sy sonde,

1 Sam 15:24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het…

1 Kron 21:17 En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het…

Jes 6:5 Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!

Psa 32:5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.

Psa 38:18 Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.


Is jy bekommerd oor jou sonde? Pla jou sonde jou, of bedek jy dit. Verontskuldig jy jouself en maak asof dit nie so ernstig is nie. Regverdig jy jouself. Wat is jou gesindheid van sonde? Is jy skuldig of onskuldig?

Spr 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:

17 trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,

18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,

19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.


En vandag maak die wêreld sonde iets wat sielkundige gevolge het. Dit is nie gesond vir jou nie, dit is nie goed vir jou selbeeld nie. Nee! Die Bybel sê, dit is ‘n gruwel in God se oë. ‘n Ware Kind van God besef die erns van sonde. Petrus het sy sondige toestand besef,

Luk 5:8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!

Die verlore seun het uit die varkhok gesit en gesê,

Luk 15:18 Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,

Die tollenaar het gesê,

Luk 18:13 …o God, wees my, sondaar, genadig!

Dit was Paulus wat gesê het,

1 Tim 1:15 Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

Wat ‘n belydenis? Is jy skuldig of onskuldig? Jesus vergewe net skuldenaars.

Maar jy sien. Mense hou nie daarvan om hulle sondes te bely nie. Hulle ontwikkel eerder ‘n ingewikkelde filosofiese en selfs ‘n godsdienstige sisteem om sondebelydenis te ontduik. Enigiets behalwe dit. Daar is mense wat sover gaan deur te sê dat daar nie so ding is soos sonde nie. Dit is wat die New Age leer. Hulle sê, daar is nie so iets soos reg en verkeerd nie.

Baie verskillende maniere hoe mense hulleself verontskuldig. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang. Hulle veg teen die gewete, volgens Rom 2, wat die wet van God is. Hulle probeer alles in hulle vermoë doen om hul gewete stil te maak.

Iemand het eendag gesê, jou gewete is soos die skeidsregter op die rugby veld. Hy is daar om die fluitjie te blaas elke keer as jy teen die reëls van die spel gaan. Maar mense luister nie na die skeidsregter nie, en watter verskriklik dag moet dit wees, wanneer die skeidsregter van die veld afstap omdat mense nie wil luister nie.

As die mens homself kan oortuig dat daar nie sonde is nie, dan is hy oortuig daar is nie ‘n oordeel nie. Jy sien, mense is net te lief vir hulle sondes. Hulle ontken dat sonde, sonde is. Hulle ontken dat dit oortreding van God se wet is. Dan probeer hulle lewe en aangaan asof dit nie bestaan nie.

2 Pet 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,

6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

Hoekom dink julle glo mense nie meer in die skepping nie, maar dat alles deur evolusie ontstaan het? Daar is net twee verduidelikings vir die grondlae en al die bene wat hulle opgrawe. Of dit het oor miljoene jare gebeur, of daar was ‘n vloed wat alles vernietig het.

Hoekom wil hulle dan nie die vloed aanvaar nie? Want die vloed spreek van God se oordeel. As die wêreld dan kan vergeet van ‘n vloed en van God se oordeel, dan help dit hulle om nie te dink aan hulle sondes nie. Maar hulle is te lief vir hulle sondes en hulle wil dit nie aflê nie.

Mense word nie vandag beskryf in morele terme nie, maar in psigologiese terme. Hy is nie ‘n sondaar nie. Hy word beskryf as siek, verstandelik siek, emosioneel siek, psigologies siek. Dan word hy behandeling gegee en selfs pille gegee wat maak dat sy brein nog minder funksioneer. En dit is nou die oplossing vir al ons probleme.


Alles wat verkeerd is in jou lewe kom van waar af? Buite? Nee!

Mar 7:21 Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord,

Maar moet net nie vir mense sê die fout lê by hulle nie. Moet net nie vir menses ê hulle is skuldig nie. Jy gaan hulle aanstoot gee. (sarkasme) Luister! Wanneer jy die realiteit van sonde ontken, sal jy nooit gered word nie. Rom 3:23 sê almal is sondaars en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.

1 Joh 5:17 Alle ongeregtigheid is sonde…

Daar is nie so ding soos ‘n groot sonde en ‘n klein sonde nie. Jy kan nie sê, As jy hierdie sonde doen gaan jy hel toe, maar nie as jy hierdie een doen nie. Nee! Dan gee jy mos toestemming vir mense dat hulle sekere sondes kan doen, maar ander sondes moet hy voor pasop.

Die Bybel sê alle ongeregtigheid is sonde.

1 Joh 1:10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar…

Hoekom? Want God sê dit is sonde en jy sê, dit is nie. Dan kan ons teruggaan na v6 wat sê,

1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Slot

God staan altyd gereed om te vergewe. Hy vergewe net skuldenaars. Is jy skuldig of onskuldig? Wat pleit jy?

No comments: